Hoe kan ek meer vrede kry?

109

Almal smag na minder konflik en meer vrede. Dit lyk of mense nie eens in geloofsgroepe met mekaar kan klaarkom nie. Die opdrag staan: Wees vredemakers! Begin by jouself en maak dan ’n verskil in die wêreld. ONS VRA SKRYWERS …

Aanvaar die uitdaging dat harmonie by jou begin

Daar kom seisoene waarin ons moet spartel om net kop bo water te hou. Baiekeer kan jy niks doen om die omstandighede te verander nie.

Jy beland dan tussen die vloer en die politoer. Soms is jy selfs nie meer lus om aan te gaan met die lewe nie … Tog kan jy iets verander. Jý kan verander!

Jy kan verander hoe jy na die wêreld kyk. Jy kan besluit om te koes vir die curve ball wat die lewe na jou kant toe gooi. Of jy kan besluit om dit vir ’n ses te slaan. Dit kry ’n mens egter nie reg as jy op jou ou manier aankarring nie.

Begin dinge doelbewus anders doen. Staan vroeër op. Maak tyd vir jouself. Raak stil. Ontdek wie jy is en hoekom jy op die aarde is. Verskuif so ’n bietjie die selfopgerigte grense om jou. Dit is dalk tyd om oor hulle te spring …

Klim uit jou gemaksone. Waag en soek. Soek na dít wat jou energievlakke opjaag. Doen alles weer in volle vaart. Maar bo alles, vind weer ware vrede.

Terugslae sal jou tref soos elke mens dit in die lewe beleef. Leer om terugslae, teleurstellings en konflik op alle vlakke te hanteer. Dit is maar deel van die lewe!

Dit mag dalk negatief klink, maar Jesus sê mos in Johannes 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Geloof gee jou moed te midde van onvrede

Jy het seker al ontdek dat dinge wat jou vrede steel, jou ook lesse leer wat jou sterker maak. Die grootste les is dat dit net ’n mens se geloof is wat jou staande laat bly.

Dit bring jou op ’n plek waar jy jouself moet afvra of jy nog die Here se belofte glo … Glo jy regtig dat Hy alles, selfs vyandskap, rusies, toekomsvrees en ander negatiewe situasies ten goede sal laat meewerk vir jou?

Die Here is nie verbaas oor hoe lelik mense met mekaar maak nie. Hierdie wete behoort jou moed te gee wanneer jy werk maak van meer harmonie in jou elkedagse lewe. Jy kan weet liefdeloosheid tussen mense is tydelik.

Sien in jou gedagtes hoe ’n boelie ’n klein seuntjie afknou. Hy stamp die seuntjie rond en teister hom erg. Voel jy hoe daar ’n heilige ontevredenheid oor jou kom?

Aanvanklik mag jy dalk dink die seuntjie moet koelkop bly en wegstap. Maar ná die soveelste teistering voel jy seker ook dit is nou die tyd om ’n hou te slaan!

Party van ons is in die skoene van die klein seuntjie. Jy vat houe. Jy word aangeval. Jy ervaar teistering. Dit is asof jy net nie kan deurbreek tot by vrede nie.

Jy gaan moet standpunt teen die geestelike vyand inneem. Hy wat ons wil teister en rondstamp in ons verhoudings, gesondheid, finansies en werke. Herinner jouself aan Eksodus 15:2-3 (NLV): “My krag en my sterkte kom van die Here. Hy gee my die oorwinning.”

Haal die angel van konflik eers uit jou eie hart

Om vrede te vind beteken om die onverstaanbare hemelse liefde en genade te aanvaar. Om te weet dat jy ’n nuwe mens is omdat jy nuut gemaak is, al verdien jy dit nie.

Jy weet met sekerheid dat jy soos ’n kind versorg word en dat daar vir jou geen veroordeling wag nie. Herinner jou daaraan dat jou geloof nie skuldgevoelens wil bring nie, maar vergifnis en genesing.

Vind rus in die Een wie se juk sag en las lig is. Wees geanker buite jouself, in die Anker wat nooit sluimer of slaap nie. Verstaan dat nie alles binne jou in beheer hoef te wees nie. Vrede kom juis wanneer jy nie meer op jouself alleen vertrou nie.

Jy beplan jou pad, maar bepaal nie hoe dit sal loop nie. Intussen kan niks jou skei van ewige liefde nie. Jy kan met gerustheid jou vrese oorgee en fokus op alles waarvoor jy dankbaar is. Getuig nou van hierdie liefde en seëninge!

Dit vra keuses. Keuses is soos ’n legkaart. Of jy van die prentjie hou of nie, die keuse bly joune om dit te bou. Elke mens gebruik verskillende tegnieke vir die proses.

Een hiervan is volgens die vrug van die Gees wat in Galasiërs 5:22 beskryf word. Dit is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid en getrouheid.

Dit word ’n omvattende sakemodel wanneer jy ja sê vir die keuse van in vrede leef. Jy gaan ’n liefde vir die saak moet toon, aanleer of kies. Jy gaan blymoedigheid moet toon, anders gaan jy opgee.

Vredeliewendheid gebeur nie sommer oornag nie

Jy gaan lankmoedigheid moet toon in die proses. Jy gaan vriendelik moet optree, anders gaan niemand jou wil help nie. Jou goedheid, getrouheid en sagmoedigheid sal ander aanspoor om jou keuse te respekteer.

Jou selfbeheersing ten opsigte van jou keuse sal die finale deurslag gee … Twee vroue gesels. Die een sê: “Hierdie jaar gaan ek blomme pluk.” Die ander een sê: “Hoe so?” Sy antwoord: “Omdat ek die keuse gemaak het om blomme te plant. Wat jy saai, sal jy maai.”

Die meeste mense besef nie hoe belangrik die eerste besluit van hulle dag is nie. Elke mens neem elke dag ongeveer 35 000 besluite. Die heel belangrikste een is die heel eerste een van jou dag.

Die oomblik as jou wekker lui, besluit jy of jy die dag met ’n positiewe of negatiewe gemoed gaan aanpak. Gaan ek nog ’n bietjie sluimer of gaan ek opstaan en die dag met ’n honger vir sukses aanpak?

Die eerste besluit van jou dag bepaal of jy middelmatigheid gaan aanvaar … Of gaan jy soos die een persent van die wêreld die besluit neem om anders te wees? Nie net ’n mens op aarde nie, maar iemand wat ander positief beïnvloed. Wat ander bemagtig en ’n impak op ander se lewe het. Die eerste besluit is so kragtig dat dit elke ander besluit wat jy maak, sal beïnvloed. So, as jou wekker lui, vra jouself een vraag: Is ek tevrede met middelmatigheid? Of wil ek bekendstaan as ’n vredemaker?

Liefde en harmonie word gewys, nie gepreek nie

Het dit al met jou gebeur dat jy in ’n koffiewinkel hoor hoe ’n ontevrede klant die kelner van ’n kant af uittrap?

Het jy al gesien hoe ’n kollega by die werk in die badkamer verdwyn en met rooi oë terugkom? Het jy al vir so ’n persoon gevra wat verkeerd is? Moontlik sal jy dan iets hoor soos dat sy sukkel om te konsentreer. Haar kind is siek by die huis en sy is geweldig bekommerd, maar moet werk.

Elke dag skuur ons skouers met mense. Van die uitvoerende hoof van die besigheid, potensiële kliënte, die skoonmakers, petroljoggies tot die kassier.

Elkeen het ’n storie. Soms is dit gevul met goeie oomblikke. Ander kere met hartseer, teleurstelling en pyn.

Van die mense sien ons net een keer en nooit weer nie. Tog, hoe ons praat en optree, het ’n blywende effek.

Sou die klant steeds op die kelner geskree het as hy haar storie geken het? Hoe anders sou haar dag nie gewees het nie as hy met genade opgetree het?

Sou jou kollega dalk ’n dag se verlof gekry het as iemand namens haar daarvoor gevra het? Hoe anders sou haar dag nie wees as iemand vir haar hulp aanbied nie.

’n Vriendelike woord of glimlag op die regte tyd kan aan ’n wanhopige persoon weer hoop gee. Om die wêreld ’n beter plek te maak is binne ons vermoë. Om mense beter te los as wat ons hulle gekry het, wanneer ons wegstap, is moontlik.

Vorige artikelHOE OM … meer tyd vir jouself te hê
Volgende artikel“Die lewe is onregverdig, ma!”