Hoe stop ek negatiewe gedagtes?

143

Wanneer iets jou pla, is dit nie so maklik om op te hou dink daaroor nie. Inteendeel, soms moet jy juis ophou dink en tot aksie oorgaan sodat wat jy doen jou negatiewe gedagtes in vreugde verander. ONS VRA GELOOFSVROUE …

Hou op met godsdiens – wees net by Hom

Ons brein is so merkwaardig! Ons is neurologies ontwerp om patrone of sin in chaos te vind. Kom ons wees eerlik: God maak nie altyd sin nie. En ons soek sin, ons soek die patroon. Hoe is dit dat ons almagtige Vader toelaat dat ons seerkry? Dit maak mos nie sin nie.

Juis! Hierdie dinge is nie veronderstel om sin te maak nie. Ons is nie geskep om nou te verstaan nie. Ons bly in ’n stukkende wêreld.

Dink aan Naomi. Sy was so oop en eerlik oor haar seer. Sy was nie skaam om hierdie oordonderende gevoelens te deel nie. Inteendeel, ons lees sy het haar naam verander. Dit was eers Naomi, wat beteken “my aangenaamheid”. Hierna was dit Mara – “bitter”.

Dis so goed ek gaan na binnelandse sake, trek ’n strepie deur Melanie en vul “Kwaad” in. Kwaad Jacobs. Hoewel dit erg klink, is dit by Naomi so mooi. In haar seerkry was sy opreg en eerlik. God nooi ons om ons hart by Hom uit te stort. Ons mag huil oor sy pad en planne wat vir ons onbekend is.

Wees stukkende glas wat bereid is om gebroke, kwaad of verbitterd by God te wees. Só help Hy jou om die mooiste mosaïekmeesterstuk uit die stukkende glasstukke te vorm.

Wanneer jy stilbly, bou jy ’n skeidsmuur tussen jou en God. Dis oukei om bitter en kwaad te voel. Jy is mens. Deel met jou Skepper wat in jou hart kolk. Gee jou oor dat jy in ’n meesterstuk omvorm.

 – MELANIE JACOBS, motiveringspreker en skrywer

Praat oor jou ongemak wat jou laat groei

Ons almal gaan deur prosesse van seerkry of swaarkry. Jy kan egter jou oë, ore en hart ook te erg wegsluit, om jouself te beskerm en jou veilig van die pyn te hou. Uiteindelik kan jy God nie meer in die proses hoor, sien of ervaar nie.

Party mense glo ander mag of kan jou nie noodwendig uit hulle seer bedien nie. Hulle moet eers in stilte daardeur “werk”. Wanneer hulle gestoei het, kan hulle as oorwinnaars daardie ervaring deel. Dis te sê, ás en wanneer hulle dit heel na die anderkant maak.

Dis nie heeltemal waar nie. Dit is só: Seergemaakte mense maak dikwels ander seer. Sekere gebeure, gevoelens of emosies is nog nie deurgewerk en verwerk nie. Daarby kan seergemaaktes in die proses nog slegte woorde oor ander wil kwytraak.

Maar dit beteken nie om in stilte “daardeur te werk” nie. Jy sal jouself nie noodwendig blootstel as jy versigtig en deeglik besluit om jou wonde te wys nie. Dit kan net moontlik vir iemand anders genesing beteken.

God kan jou kragtig gebruik in hierdie toestand of stadium in jou lewe. Dit is omdat jy juis dan op jou swakste is. God het só die geleentheid om in en deur jou sterk te wees.

Die waarheid is dat die uiterlike bestaan die innerlike toestand en ingesteldheid weerkaats. Daarom maak dit sin dat jy moet deel met ander hoe God saam met jou deur seer prosesse werk.

– VICKY-ANNE SERFONTEIN, motiveringspreker en liedjieskrywer

Wees eerlik, realisties, berekend – keer dat emosies oorvat

Dit voel onsinnig om positief te praat wanneer jou hart wil breek. Dit raak ’n te swaar werk om te glimlag en vriendelik te wees, maar oral sien jy net agteruitgang. Wie hou aan gee, as die put van behoeftes bodemloos is?

Jammer, jy het nie ’n keuse nie. Jy moet jou liggaam versorg en gesond hou. Daarom moet jy gaan oefen wanneer jy nie lus is nie. Jy moet broccoli eet wanneer jy eerder sjokolade verkies. Dis keuses wat ’n mens neem, daarna konsekwent aanleer en inoefen.

Verbreed jou kennis oor daardie dinge wat jy vermoed jou werklikheid beïnvloed. Doen dit met oop oë waarmee jy jou vrese vierkant ondersoek. Wat bekommer jou die meeste? Siekte of die dood van ’n geliefde? Of die vernedering as jy sou misluk, of die skande om jou luukses te verloor?

Verbeel jou dat jou grootste bekommernis waar word. Wat moet jy weet? Is daar mense met wie dit al gebeur het? Hoe het hulle dit oorleef? Kan jy planne en strategieë regkry – en dan oorgee en ontspan?

Word bewus van die woorde wat jou omgekrap laat voel. Is dit die nuus? Vriende se praatjies of sosiale media?

Hoe praat jy in geselskap? Wat maak jy as iemand by jou kla? Bemagtig jouself met die waarheid van God se beloftes. Spreek hierdie woorde!

– HANNEKE VAN COLLER, inhoudsbestuurder en predikant

Sing “halleluja” in plaas daarvan om te huil

As ’n mens net op die negatiewe fokus, kan jy heel gou op ’n afdraande pad wees. Kies dan om Habakuk 3:18 hardop uit te spreek. Letterlik hardop: “Tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos!”

Jy kan hardop ’n loflied aan Hom sing. Byvoorbeeld “Ek sing ’n halleluja”. Op jou eie of saam met musiek wat jy aansit. Só hoor en spreek of sing jy oor positiewe dinge. Wanneer jy God ten spyte van omstandighede kan loof en prys, verander ’n mens se hele lewe.

Jy het positiewe energie en werk deur negatiewe dinge. Jy het ’n heeltemal ander uitkyk. Niks en niemand gaan jou onderkry nie.

Wanneer jy in oorwinning begin leef en God in alle omstandighede loof en prys, breek Hy vir jou deur. Jy ervaar dat jy die negatiewe dinge wat gebeur, makliker kan uitsorteer. God sien jou oorgawe. Hy sien dat jy toegewyd is en Hom vertrou. Daarom maak Hy jou pad soveel makliker.

Hoekom? Wanneer jy negatief is, sien jy nie die silwer rand rondom die donker wolke raak nie. Dan bly dit donker rondom jou. Geen lig kan deurbreek nie.

Wanneer jy positief is? Dan sien jy die klein dingetjies raak wat die lewe die moeite werd maak. Jy besef dat daar wel lig is, ten spyte van die storm wat woed. Dit is soveel makliker om die eindresultaat van die chaos in jou lewe te kan sien – ’n positiewe einde.

– NERINA SMITH, pastoor en motiveringspreker

Word stil, buig jou kop … en bid

Gebed is seker die belangrikste sleutel tot ware vreugde te midde van slegte tye. Hierdie resultaat is deels omdat God ingryp en sake verander wanneer sy kinders bid. Tog is dit grotendeels omdat God óns wat bid, verander.

Dis wanneer ek my eie-ek kan begrawe om deur God se oë na ander te kyk. Dan kry ek ’n nuwe passie vir mense wat verlore gaan. Ek hou op om te voel ander is teen my. Dis dan wanneer ek God se vreugde ervaar.

Die lewenspad is net soveel minder van ’n gestoei wanneer ’n mens die stuur aan God oorgee. Glo jy dat God ’n goeie Vader is? Selfs terwyl Hy die diepste donker van ons hart ken, wil Hy steeds net die beste vir jou gee. Hy wil hê dat jy in sy vreugde asemhaal en leef.

Gebed is ook loshande daardie aspek by ’n kind van God wat die meeste aangeval word. Jy weet self hoe moeilik dit is om te bid … dis nou te sê as jy ooit die tyd kry. Miskien kry jy so af en toe tyd, maar dan hardloop jou gedagtes die hele wêreld rond. Jy’s besig met al die verantwoordelikhede wat die dag inhou.

Ja! Dit is net mooi dáár waar jou vreugde gesteel word. Jy het nie jou bekommernisse in gebed aan God oorgegee nie. Dus moet jy dit nou self dra. Volhard in gebed, dan sal jy vreugde te midde van jou storms vind.

– RIANA MOUTON, Woord- en sangbedienaar

Vorige artikelMaak jou doelwit ’n strewe na uitmuntendheid
Volgende artikelReëls leer jou kind perke