Hoekom is kerke leeg?

468

Gemeentes wat liefde verkondig en leef, behoort elke Sondag propvol samekomste te hê. Mense op soek na antwoorde, hoop en oplossings behoort kerk toe te stroom. Tog gebeur dit nie. Iets sal moet verander!

Kerkmense sal radikaal anders moet optree en uitreik

Sondaars stroom nie na ’n nuwe geloofsgroep toe nie. Jesus het na hulle toe gegaan. Hy het Sy hart gaan oopmaak, en toe het hulle gereageer.

Daarom sal ons agter die kerkmure moet uitkom na die mense toe wat hulle rug op geloof en die kerk gedraai het. Ons sal ons harte vir hulle moet gaan oopmaak.

Ons sal vir hulle moet gaan wys ons gee vir hulle om. Deur vriendskappe sal ons verhoudings met mense moet gaan opbou dáár waar hulle is.

Hopelik sal hulle geleidelik vertroue in ons begin kry. Dalk sal hulle later bereid wees dat ons hulle gaan oplaai (nie net uitnooi nie) na ’n kleingroepbyeenkoms. Wie weet, dalk gaan hulle later saam na ’n groot byeenkoms in ’n kerkgebou.

Die punt is: Vreemdes stroom nie kerk toe nie. Ons moet hulle gaan “optel”. Hierin was Jesus radikaal anders, en dit het gewerk.

Sy tydgenote het verstaan en daarop gereageer. Mense het nie maar net so in die verbygaan van die evangelie kennis geneem nie. Hulle het Hom klinkklaar verwerp of hartstogtelik gevolg.

Daar is baie voorbeelde hiervan. In die boek Lukas is daar minstens 50 verwysings na hoe mense gereageer het op wat hulle hoor en sien. Groot skares mense was in verwondering en vyandige godsdiensleiers het fel uitsprake gemaak.

Dis één van twee uiterstes: óf aktief saam met Hom betrokke, óf aktief téén Hom.

Ongelowiges word nie net vanself kerklidmate nie

Waarom vertel die evangelies dat sondaars agter die opspraakwekkende Rabbi aanstroom en nie agter die godsdiensleiers aan nie? Omdat laasgenoemde doelbewus die tollenaars en straatvroue geïgnoreer het. Terwyl Jesus hulle met ope arms ontvang het.

Waarom stroom kerklos mense nie agter gelowige kerkgangers aan nie? Hulle gaan nie kerk toe nie. Ons kan ’n groot evangelisasieveldtog reël. Ons kan die bekendste prediker kry. Die kerkgebou sal heel waarskynlik oorloop. Maar met wie? Met entoesiastiese lidmate wat die Here liefhet en wil dien. Die mense wat in elk geval sou kom.

Wat moet ons dan doen om onverskillige mense te lok?

Kom ons dink weer aan Jesus. Is dit waar dat die sondaars na Hom toe gestroom het? Dit is. Ons lees dit op baie plekke, soos in Lukas 15:1-2.

Hoe het dit begin? Ons lees van die eerste optrede in Lukas 4 waar Hy in die sinagoge preek. Maar daar is net “hoogheilige” Jode wat in opstand kom as Hy die Ou Testament anders uitlê as wat hulle glo. Daar is geen tollenaars en straatvroue nie.

Waar lees ons die eerste keer van Sy kontak met hulle? Wanneer Hy na hulle toe uitreik. Dis Hy wat na een tollenaar toe gaan in die tolkantoor. En hom vra om ’n dissipel te word. Levi het opgestaan en Hom gevolg (Matteus 9:10). En toe? Toe begin die dinge gebeur.

Ook in gemeentes is daar sterker en swakker persoonlikhede

Daar is ’n verskeidenheid mense wat in die antieke tyd positief gereageer het. Die Messias roep net, dan kom die dissipels, ongeag wat hulle moet agterlaat. Saggéüs is ook dadelik bereid om ’n heel nuwe lewe aan te pak.

Die sondares oorweldig Jesus amper met haar berou. Die Samaritaanse vrou word ’n getuie met groot impak op haar stad.

Sommige Christene is nou eenmaal mense met sterk persoonlikhede en dryfkrag. Hulle voel tuis in ’n atmosfeer waar dinge vinnig gebeur. Daar is baie wat nie net aan die begin nie, maar ook op die lang duur wonderlike dinge in geloof doen.

Maar daar is ook ’n ander groep. Mense met minder dryfkrag, wat meer huiwerig is, wat nie so baie regkry nie. Hulle voel hulle is nie regtig ’n suksesverhaal nie. Hulle ken mislukkings en voel hulle stel almal en ook soms die kerk teleur.

Hulle neem soms ook radikale besluite, maar daar kom gewoonlik nie veel van nie. Daar is gelowiges wat skaars daarin slaag om hulle eie lewe bymekaar te hou, wat dit keer op keer byna nie maak nie.

Kom ons kyk na die eerste dissipels se voorbeeld op die langtermyn. Hulle reageer aan die begin radikaal positief, maar hoe lyk hulle reaksie oor ’n tydperk?

Hoe meer tyd hulle saam met Hom deurbring, hoe minder begryp hulle Hom en Sy boodskap.

Dit beteken dat ons hoop het dat, nes met die dissipels, Jesus ondanks Sy teleurstelling tog met ons sal aanhou en uithou.

Wys jy hoe anders gelowiges as die wêreld is?

Onthou, Jesus was 100% mens. Enige mens het ondersteuning nodig. Maar van die dissipels het Hy teleurstelling op teleurstelling gekry. Hulle het Hom in die benoudste oomblikke in die steek gelaat. Tog het hulle deur die krag van die Gees waardige getuies geword.

As Hy met hulle kon uithou, gee dit ons hoop. Dit beteken dieselfde kan met ons ook gebeur. Tot ons eendag bykom … Hy het ’n lang asem, dankie tog!

Miskien moet ons ook nie te maklik opgee met ons anders wees nie. Hy was anders, toe én nou. Sy waardes was anders as ons s’n.

Ons besef dalk nie eens, nes die dissipels, hoe min ons Hom regtig verstaan nie. Hoe sterk en ver gevorder ons ook al op ons geloofspad is, ons bly oop vir versoekings en mislukkings.

Baie mense sit met ’n afgewaterde prentjie van God, wat baie verbeelding vra om oor opgewonde te raak. Daarom sal ons op nuwe paaie moet loop waaraan ons nog nooit gedink het nie, om enigsins mense kerk toe te bring.

Sit en wag jy vir ongelowiges om erediens toe te kom? Of gaan soek jy hulle? Deel jy brood en klere en omgee uit? Is jy betrokke by die nood van mense?

Ons moet ’n geloof hê wat tot dade oorgaan (Galasiërs 5:5). Dis ons dade wat eendag sal wys wat ons vir die koninkryk gedoen het. Dan sal Hy weet of ons hierdie dinge gedoen het uit dankbaarheid vir ons verlossing of nie.

Kerkmense moet volg ook, eerder as net glo

Hy het nooit voorspelbaar opgetree soos wat ’n mens sou verwag nie. Nooit veroordeel, straf of jaag Hy iemand weg nie. Selfs nie eens wanneer die dissipels of leiers daarop aandring nie.

Onthou, mense word nie geroep om in Hom te glo nie, maar om Hom te volg. Ons het dit intussen misverstaan. Ons het geloof so belangrik gemaak, dat party van ons dink jy kan maar net glo en hoef dan verder niks te doen nie.

Niemand sal volg as hulle nie glo nie. Maar daar is mense wat dink hulle kan glo sonder om te volg.

Ons is almal “gelowiges”, maar net die predikant en ’n paar amptenare werk in die gemeente. Die ou mense het gesê ons gee onsself oor aan “salige niksdoen”. Van diens aan Hom en aan ander wat saam met ons in die kerkbanke sit, is daar amper niks te sien nie.

Geloof kom na vore in gehoorsaamheid. Dit sit my aan die werk. Dit vra opoffering en om sekere dinge wat vir my belangrik is, prys te gee. Anders is dit ’n dooie geloof wat my nie kan red nie (Jakobus 2:26).

Omdat Jesus “buite die boks” opgetree het, is ons ook geroep om dit te doen. Omdat Hy grense oorgesteek het, moet ons ook die mure om die kerk en om ons eie Christelike lewe afbreek.

Ons moet mense gaan ontmoet daar waar hulle is. Soos Hy aan die kruis vir Sy vyande gebid het, moet ons ook ons vyande liefhê.