Kan ons God vertrou as alles skeefloop?

249

Wanneer jy ontsteld, angstig en kwaad is, is jou vrede en vreugde min. Te midde van dinge wat skeefloop, maak vertroue op God alles beter. Dit beteken dat jy weet Hy is lief vir jou, goed vir jou en wil jou help. ONS VRA LEWENSAFRIGTERS …

Vertrou God se liefde en sy beloftes vir jou. Sy wil is dat ons die lewe in oorvloed sal smaak. Dit is ons eie vrese wat ons terughou, nie God se wil nie! Ons ervaar almal pyn en teleurstelling. Sommige mense kies om die lewe se lied met verskonings te versmoor, ander sien die geleenthede raak.

Bly kalm sodat jy kan aanhou en moed hou

In ’n uitdagende of onbekende situasie, is dit belangrik om kalm te bly. Dan is ons baie meer doeltreffend.

Moenie dat vrees jou oorweldig nie. Haal diep asem en neem beheer oor jou emosies. Weet dat jy iets gaan leer oor God se wil.

Reik uit na ander, vra hulp en aanvaar hulp. Soms help dit om nuut na ’n situasie te kyk of om net ’n oor te hê wat kan luister. Dit is belangrik om nie alleen te voel in die situasie nie.

Bid gedurig. Vra vir die persone na aan jou om saam met jou in te tree in gebed.

Die kans is goed dat jy al voorheen deur moeilike tye gekom het. Kyk terug, sien die genade en wat jy reeds bereik het.

In die Woord is daar ’n belofte dat daar nie ’n haar van ons kop sal afval sonder dat Hy dit wil nie. Daarmee sê Hy nie dat daar niks sleg oor ons pad sal kom nie.

 – Cerita Nagy

Bly gedissiplineerd doen wat jy glo, al twyfel jy

Die boer weet goed dat geloof alleen geen oes gaan oplewer nie.

Net so kan hy ook swoeg en sweet, maar sonder geloof geen oes oplewer nie.

God self sê Hy soek ons óf warm óf koud, nie lou nie. Waak daarteen om beperkinge op sy seën te plaas. Die Bybel se instruksies is duidelik oor hoe ’n mens die lewe wat jy ontvang voluit moet leef. Ons is geskape om te heers en nie te vrees nie.

Vertrou Jesus volkome deur saam met Hom, nie net op water te loop nie, maar ook deur die woestyn. Jy moet eers deur die woestyn loop voordat jy by die land van melk en heuning kan uitkom.

Aanvaar dat uitdagings toetse is. Ons geloof word soms getoets om te bepaal of ons kwalifiseer vir dít wat ons nastreef.

Pas die beginsels van geloof toe, eers in jou denke en dan deur optrede wat jou geloof bevestig.

Geloof alleen sal jou nie deur jou ontberinge en die onbekende dra nie, wel jou optrede wat ooreenstem met wat jy glo.

– Francois Oosthuizen

Hou op om te vra “hoekom gebeur dit?”

Die grootste rede waarom ons spanning ervaar, is ons menslike natuur wat hunker na ’n verduideliking. Ons Vader skuld ons egter nie ’n verduideliking oor hoekom sekere dinge gebeur soos dit gebeur nie.

Selfs al sou God die tyd maak om sekere dinge aan my en jou te verduidelik, sou sy verduideliking ons dalk steeds nie beter laat voel nie.

Geloofsvertroue beteken nie jy is blind vir die realiteit nie. Dit beteken nie dat dinge altyd sin maak nie. Inteendeel, gelowiges is juis bewus van die duisternis en seer in die wêreld.

Henri Nouwen skryf in sy boek, The Return of the Prodigal Son, “People who have come to know the joy of God do not deny the darkness, but they choose not to live in it”.

Ons moet die lig wees. Ons moet die Bron van ons vreugde voor oë hou. Dan sal ons nie moeg en moedeloos raak en ons vreugde laat steel nie. Bid dat jou vreugde weer sal toeneem, ongeag die donkerte om jou.

Bid en vra dat jou vertroue, geloof en hoop in Hom sal vergroot en verbreed.

– Gerridene Berg

Vorige artikelMoet jy jonk wees om mooi te lyk en te voel?
Volgende artikel[PODSENDING] Leef gebalanseerd vir ’n geseënde lewe