Vergelyk jy jouself met die vroue om jou?

121

Vergelyk jy jouself met die vroue om jou?Is jy vinnig om jouself met ander te vergelyk en dan voel jy nie goed genoeg nie? Omarm eerder hoe spesiaal die Here jou geskape het, al wil jy op ’n gesonde manier iets van jou liggaam verander. ONS VRA GESONDHEIDS– EN VOORKOMSKENNERS …

Jou liggaam is nie die vyand nie

Ons word gereeld gevra hoe ons oor ons uiterlike self voel? Ons moet egter eerder dink hoe ons oor ons innerlike self voel. Daar is elke maand ’n nuwe dieetpil, nuwe wondergrimering of ander nuwe maniere om mooier te lyk en te voel, op die rak.

Jy kan egter al hierdie oppervlakkige maniere tot vervelens toe probeer, en steeds nie goed voel oor wie jy is nie. Jy moet jouself eers aanvaar.

Die oomblik as jy dit doen en jou liggaam liefhet, kan jy dit ontwikkel en verbeter. Jy kán nog die beste jy word, ongeag jou ouderdom.

Iemand wat hulle liggaam as ’n vyand sien, sal nooit ’n gesonde leefstyl kan handhaaf nie.

Jy moet jou liggaam begin sien as iets wat jou help met optimale funksionering.

’n Mens vergeet maklik hoe geseënd jy is met twee arms, bene, hande en voete.

Dit is ’n voorreg om gesond te wees en daarom moet ons meer gereeld ons gesondheid en liggame vier!

Begin sommer deur Psalm 139:14 te lees: “Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.”

– JANINE TRUTER, motiveringspreker

Dit is perfek om jouself te wees

Ons leef in ’n visuele wêreld. Die sosiale media, tydskrifte en mooimaak-filters plaas baie druk op ons voorkoms. Met net ’n spuit hier en ’n fill daar, lyk almal perfek.

Maar wat is “perfek” regtig?

Is dit om soos ’n vriendin of kollega te lyk? Om te strewe na daardie bruin songebrande bikini-lyf sonder rekmerke? Nee! Dit is om net jouself te wees. Jý, wat deur die Pottebakker se hande gevorm is.

Psalm 139:14 som dit mooi op dat God nie foute gemaak het nie. Hy het jou na sy beeld gemaak.

Die Engelse vertaling stel dit so mooi: “I praise you because I am fearfully and wonderfully made; your works are wonderful, I know that full well.”

As voorkomskonsultant word ek gereeld gevra om mense “mooi” te maak.

Dan sê ek altyd, ek maak jou net nog mooier. Ons maak net die diamant weer blink.

Jy is alreeds mooi.

Êrens het die lewe net so ’n paar wilde draaie met jou gemaak. Jy het jou skoonheid verloor langs een van daardie draaie. So, ek help jou net om daardie skoonheid en daardie ware jy, weer te vind.

– LIZEL VAN DER WESTHUIZEN, voorkomskonsultant

Wees elke dag die beste weergawe van jouself

Wees in beheer van kos – dit moet nie andersom wees nie.

Kos moet jou met ander woorde nie beheer nie. Sit jou gunsteling lekkergoed langs jou televisie. So sien jy dit elke dag raak, maar eet dit nie.

Dit sal jou goeie selfbeheersing aanleer.

Jou liggaam is jou eie verantwoordelikheid. Dit is ’n tempel. Beskou dit as ’n voorreg om te leef en kyk daarom na jouself. Sien dit as ’n uitdaging en ’n geleentheid om te groei, sodat jy die beste weergawe van jouself kan wees.

Beskou elke oomblik van swakheid as ’n uitdaging. Skud dan daardie bietjie ekstra gewig af om weer die beste weergawe van jouself te word.

Sodra jy jouself die moeite werd ag om gesonder te lewe, gaan die weerkaatsing in die spieël heelwat anders lyk. As ek nou na myself in die spieël kyk, sien ek ’n gesonder, gelukkiger mens wat balans gevind het.

Gee die wêreld, jouself en jou familie die beste weergawe van jouself, en nie net dit wat oor is nie.

– NATHANYA VAN ZYL CHAPMAN, verhoudingsadviseur

Skoonheid het nie ’n gewigsbeperking nie

Wees jouself! Jy het nie die wêreld se goedkeuring nodig om deur ander aanvaar te word nie. Aanvaar jy net jouself.

Daar is geen gewigsbeperking op skoonheid nie, al wil die wêreld hê ons moet dit glo.

Wat beteken skoonheid in elk geval? Die samelewing probeer ons oortuig dat ons ’n sekere grootte moet wees om mooi te wees. Maar elke vrou is mooi op haar eie manier. Ons is immers almal na God se beeld geskape.

Om mooi te wees, is om net jouself te wees. God aanvaar jou net soos wat jy is.

Hy het elke vrou uniek pragtig gemaak. Om jouself met ander mense op die sosiale media en in tydskrifte te vergelyk, is nie realisties nie.

As jy byvoorbeeld ’n kort model is, kan jy jouself nie die heeltyd met langer modelle vergelyk nie. Elkeen se liggaamsbou en metabolisme verskil.

Jy moet besluit wat vir jou werk. Omhels jou tekortkominge en wees vol selfvertroue.

Moenie jou geestesgesondheid opoffer om ’n perfekte liggaam te probeer hê nie.

In die wêreld is dit selfs nie eens genoeg om “perfek” te wees nie. En ’n eetversteuring gaan jou beslis nie suksesvol maak nie.

– DEHANDRÉ VAN TONDER, model

Vind ’n ontsnaproete na die ware Trooster

Het ek maar net toe al geweet dat Jesus die Trooster vir ons almal is, en wil wees. Dat Hy die Een wil wees wat Sy arms om ons vou en sê: “Ek is hier vir jou. Ek is lief vir jou. Huil as jy wil. Ek sal jou nie los nie”.

Baie mense, veral vroue, sukkel met emosionele eetgewoontes. Ons vergryp ons aan kos en purgeer selfs ná die tyd. Die kringloop stop net nooit nie.

Mag die Here Jesus Christus jou vandag persoonlik wys dat Hy die Een wil wees na wie jy toe kan gaan as dinge moeilik raak.

Net daar, aan sy voete, is waar jy die ek-behoort-gevoel waarna jy so smag sal vind.

Daardie besef van regte selfwaarde sal jy nêrens anders vind nie. Om regtig te weet wie jy in Hom is, kan alles verander.

Sal dit oornag verdwyn? Waarskynlik nie. Maar soos jy in jou geloof groei en jou waarde in God se Woord, en in wie Hy sê jy is, vind, sal jy losbreek van die kettings.

Jesus staan by die deur. Hy hou die sleutel vas. Gaan jy Hom laat binnekom?

GERRAINE OOSTHUIZEN, gesondheidsafrigter

Vorige artikel“Ek moes leer sê: Ek het depressie …”
Volgende artikel“My dogtertjie se stryd bring vreemdelinge op hulle knieë”