Wat as iemand my teleurstel?

59
Wat as iemand my teleurstel

Dis dalk ’n vriendin. ’n Kollega. Of ’n bekende na wie jy opgesien het. Hulle het gesê hulle glo een ding maar toe anders geleef. Jy is teleurgesteld, kwaad, hartseer … ONS VRA SUSAN COETZER …

Sy moet op haar eie gawes in plaas van jaloesie fokus

Ek was self al die prooi van jaloesie. Ek het tot my eie verbasing ’n “gewilde” Christelike spreker geraak sonder om dit doelbewus na te jaag.

Afgunstige “berigte” is al buite konteks, sonder ’n onderhoud of my medewete, geplaas.

Ek het egter elke aanslag op my gees oorleef deur my oë en ore op Hom te rig. Ek is Sy oogappel, Sy geseënde! En jý ook. Fokus daarop, dan is daar geen rede om afgunstig te wees nie.

Jaloesie is gevaarlik. Saul se afguns het hom in vrees laat lewe. Dit was sy lewenslange obsessie om Dawid uit te roei in plaas van om op sy eie gawes te fokus.

Almal het al ’n jaloerse oomblik beleef. My eerste oudisie as jong aktrise was vir die hoofrol in Sterretjie.

Ek het my goed voorberei. Tog, iemand anders het die hoofrol gekry en ek die rol met die enkele sin: “Hier is vir jou ’n koppie tee.”

Ek was aanvanklik jaloers toe sy op al die glansvoorblaaie pryk. Sy was onmiddellik bekend en geliefd.

Ek wou nie hê my hart moes elke keer saamtrek met jaloesie as iemand meer “suksesvol” as ek was nie. Dus het ek hierdie gevoel met Hom bespreek.

Hier is ’n trefferwenk as teenvoeter vir die groen monster. Help jou vriendin om eerder op haar eie gawes te fokus as op ander mense s’n. Sy moet haarself en haar talente vier en ontwikkel, eerder as met ’n groen hart na ander gluur.

Vermy mense wat skinder, moenie deelneem aan die gesprek nie

Woorde is gelaai met krag. Dit het krag om op te bou of af te brand . Nie net die gesproke nie, maar ook die geskrewe woord.

Dink hoe dit voel om ’n liefdesbrief te ontvang, teenoor haatpos. Haatpos word steeds beleef as emosionele geweld. Want, woorde is vuurhoutjies … En dit is moeilik om daardie vure dood te slaan.

Wie is nie soms skuldig aan skinderpraatjies of om die ore aan sulke nuus uit te leen nie?

Skindernuus is gewoonlik sappiger as nuus oor die weer. Spreuke 26:22 waarsku, ’n geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik af.

Ons is die ene ore as daar ’n sappige brokkie opgedis word. Ons sluk dit gretig as “waarheid” af en vertel dit (as aangepaste weergawe) gou oor. Só brei dit uit van ’n onskuldige vlammetjie tot ’n vernietigende vuur.

Wees op jou hoede vir die skinderbek. Sy is ’n gifdraer en ’n saboteur van menseverhoudings. Moenie deelneem nie. Volgende keer is dit jou beurt!

So iemand is verslaaf aan stories. Haar vlymskerp groen tong ondermyn verhoudings, huwelike en reputasies. Sy is ’n meesteres om agterdog en onmin te saai en vyandskappe te laat blom. Oppas! Staan ver weg as jy haar sien aankom met haar bondeltjies hout. Jy moet vure blus – nie aanblaas nie. Laat Hy jou verlos as jy ’n skinderbek is. So ’n tong behoort nie aan Hom nie.

Praat die waarheid in liefde wanneer iemand leuens vertel

Dit breek ’n mens se hart om te sien hoe mense sê dat hulle Hom ken, maar in die donkerte van die leuen lewe.

Ons is geskok om te lees van “toegewyde” Christene wat geld verduister en buite-egtelike verhoudings aangaan. Ek glo hierdie harte is verhard en verblind deur die pa van die leuen.

Die meeste mense verdraai maar die waarheid so af en toe. Leuens word al meer soos ’n afgewaterde sondetjie hanteer. Daar is selfs versagtende name soos “onskuldige” leuens en “wit” leuens om dié onsuiwer optrede te verskoon.

Om te lieg het byna tweede natuur geword. Almal doen dit, sonder om ’n oog te knip, so hoekom nie jy ook nie? Die hele samelewing is dan vals! Wat maak een leuen méér nou saak?

Een leuen vra noodwendig vir ’n volgende om al die drade van jou “liegstorie” bymekaar te hou. Jy moet keer en koes om nie uitgevang te word nie.

’n Paar “onskuldige” leuentjies kan onherroeplike skade aan jou goeie naam doen. Jok is so riskant soos dobbel. Jou geluk draai op ’n dag. En jy verloor baie meer as net geld. Dis so moeilik om iemand se vertroue terug te wen.

Jy is nie net enigiemand nie. Jy is geroep om waarheid te bring. Die waarheid maak seer, maar dit maak ook vry.

Kies om Sy waarheid in liefde te praat wanneer iemand ’n leuen vertel.

Fokus op genade eerder as kritiek wanneer gelowiges teleurstel

Party mense oordeel so maklik. Hulle kyk met ’n kritiese en veroordelende oog na ander. En sien nie die goeie in hulle raak nie.

Hulle skryf die alkoholis, die boemelaar, die dwelmverslaafde en enige ander afvlerkmense summier met ’n kritiese oog af.

Besef jy dat jý slegs deur Sy genade in ’n “beter” posisie is?

Dalk drink, rook of vloek jy nie, maar is jou sonde nou weer om mense te veroordeel. Hou eerder jou fokus op die werk wat nog in jóú hart gedoen moet word.

My eerste instink was nog altyd om mense aan te moedig en te ondersteun. Ek moet egter erken dat daar ook ’n snykant aan hierdie hart van genade is. Dis wanneer ek vir ’n onbepaalde tyd geweldige energie en praktiese hulp belê in iemand, maar geen transformasie sien nie.

Ek kyk met baie meer liefde en deernis na die ontbrekende stukke in die mondering. Dis hoe die Here na my eie weggehapte stukke kyk, deur oë van genade, onvoorwaardelike aanvaarding, begrip, geduld en liefde.

Met hierdie lewensbeskouing vloei my vriendskappe baie gemakliker en is daar minder “geveggies” oor snytjies wat skoonveld weg is.

Vra Hom om jou te wys wat jóú ware invloed op ander mense is. En om jou te help om Sy invloed daagliks uit te leef. Glimlag, gee, bid, vertroos en reik uit met Lewende Water.

Aanvaar dat jy nie alles en almal kan beheer nie

Die lewe is nie altyd rooskleurig of regverdig nie. Mense se optrede ook nie. Ons sal geestelik baie uitgeput en teleurgesteld raak as ons daarop fokus.

Daar is gelukkig ’n groter prent met meer hoop. God is regverdig. Hy sal reg laat geskied volgens Sý volmaakte tydsplan.

Ons kan almal baat by die eend se afskud-metode. Jy kan nie alles en almal in jou lewe beheer nie. Jy kan wel van jou reaksies beheer. En so meer van jou vrede behou.

Kies watter “emosionele” druppels jy toegang tot jou hart wil gee en watter jy vinnig soos die eend wil afskud.

Bestee jy emosionele energie aan dinge waaroor jy geen beheer het nie? Soos die skinderstorie wat iemand oor jou versprei?

Laat Hy jou leer onderskei wanneer jy dinge ter harte moet neem of vinnig van jou hartsvere moet afskud.

Jy sal dalk wil teregwys, maar nie almal het waardering hiervoor nie. Nie almal wil leer nie. Mense met ’n swak selfbeeld kan dink dat jy jouself as verhewe beskou. Die Woord sê ’n mens kan nie ’n dwaas leer nie, hy sal sy eie kop bly volg.

Verblinde mense reageer met aggressie op Goddelike teregwysing. Dis asof daar ’n ondeurdringbare staalmuur om die hart is wat die persoon gevange hou in die leuen van die vyand.

Dit is onmoontlik om alle mense tevrede te stel. Kom net sover moontlik met almal oor die weg. Jy hoef nie saam te stem of ’n kompromie te tref nie.

Vorige artikelHOE OM … niks te doen sonder skuldig voel!
Volgende artikelWenke vir moeilike gesprekke met jou kind