Wat as my huwelik wankel?

553
Geloofsvraag

My man is verslaaf aan sy werk en luister skaars wanneer ek praat. Hy is kortaf met my en die kinders en weier om oor geestelike dinge te gesels. Hoe kry ons meer emosionele intimiteit?

1. HELP HOM sy verhouding met sy ouers koester

Wanneer die verhouding tussen ’n man en sy ouers versuur, is dit soos ’n vuishou in sy hart. Dan sit hy met allerlei skuldgevoelens en ’n gevoel van minderwaardigheid en verwerping.

Dalk worstel jou man op die oomblik met so ’n skeefgetrekte verhouding. Die uiteinde is dat sy frustrasie en pyn jou en die kinders ook raak.

Help hom onthou dat sy Pa in die hemel hom nooit sal vergeet soos sy ouers dalk gedoen het nie. Hy het jou naam in sy handpalms gegraveer, ook jou man s’n. Hy laat ons nooit in die steek nie.

Verder moet jou man met sagter oë na sy ouers kyk. Die volmaakte ouer-kind-verhouding bestaan nie dié kant van die hemel nie.

Moedig jou man aan om te vergewe. Bitterheid en onvergewensgesindheid tas nie net ’n mens se verhoudings aan nie, maar ook jou gesondheid en oordeel.

Die lewe is te kort om gedurig bitter te wees. Galbitter mense sukkel om die soet en mooi in die lewe raak te sien.

Natuurlik is dit nie maklik om te vergewe nie, maar Hy vat ons hand en stap die moeilike pad saam met ons. ’n Swaar las sal sommer van jou man se skouers afrol!

Gee hom kans om met jou oor sy seer te praat. Vra hom dan of julle saam daaroor kan bid.

Moedig hom aan om uit gister se seer te leer en nie dieselfde foute as sy ouers te maak nie.

2. HELP HOM sy prioriteite regkry vir meer tyd saam

Dalk smag jy na jou man se aandag en oor, maar hy is net te besig. Wanneer hy voor sy rekenaar inskuif, is hy op ’n ander planeet.

Sy selfoon is dag en nag aangeskakel. Julle kan nie eens ’n rustige ete saam geniet sonder dat hy ’n oproep beantwoord of ’n boodskap lees nie. Alles voel belangriker as jy!

Die hartseer einde van hierdie soort storie is: As ons nie meer tyd “maak” vir mekaar nie, gaan ons later ook nie meer tyd “hê” vir mekaar nie. En dit laat enige verhouding verwelk.

Laat jou man sy prioriteite agtermekaar kry. Ware rykdom lê nie in ’n gejaag na goed nie.

Wys hom liefdevol daarop dat jy liefde T-Y-D spel! Die lewe is te kort om geliefdes gedurig eenkant toe te stoot.

Onthou ook, ’n afwesige pa is dalk die voorbeeld wat hy as kind gehad het. Dit word dan te dikwels die “GPS” waarmee hy homself later in verhoudings gaan “bestuur”.

Vertel hom hoe jy lank terug gevoel het toe hy jou soos ’n prinses op die hande gedra het. Moenie hom probeer manipuleer of kritiseer nie. Gloei net oor dít wat jou destyds laat blom het!

Laat jou Vriend jou help om die regte tyd te kies om hieroor te gesels. Vra dat jou woorde tot jou man se hart sal deurdring en ’n warm liefde vir jou in hom sal laat opvlam en aan die brand sal bly.

3. HELP HOM om oor sy emosies te praat

Jou man se “gebrek” aan emosie dryf jou soms teen die mure uit. G’n trekkie op sy gesig verraai hoe hy voel nie. As hy tog net sy hart met jou wil deel!

Jy het sagte woorde só nodig, maar kry net ’n koue skouer. Om jou poppe uit die stootkarretjie te gooi gaan hom net verder in sy dop laat kruip.

Jy kan hom nie dwing om sy emosies te deel nie, maar wel verduidelik hoekom dit belangrik is. Sê vir hom jy wil graag dít wat binne hom aangaan, beter leer ken en verstaan. Verduidelik dat jy weet dis moeilik vir hom, maar jy wil graag probeer.

Heel moontlik sit hy met ’n klomp opgekropte griewe, woede en seer. Omdat hy nie lekker weet hoe om dit te hanteer nie, maak dit hom kwaad vir die lewe.

Skep ’n veilige ruimte vir jou maat om sy emosies te deel. Skep ontspanne geleenthede om oor al daardie aaklige goggas te praat. Luister na hom – met alles in jou! Moenie hom veroordeel of krities wees of raad gee nie. Luister net!

Probeer ’n slag om vir hom ’n brief te skryf of om nuwe maniere van gesels uit te toets. Hy skakel dalk af sodra hy dieselfde ou gesprekke of redenasies hoor.

Gesels met jou hemelse Vriend oor jou man se stilswye en oor hoe dit julle verhouding affekteer. Hy gee om vir julle twee.

4. HELP HOM die spanning oor sy werk hanteer

Hy voel soos ’n vreemdeling, want hy bring al sy tyd by die werk of voor sy rekenaar deur. Elke gesprek gaan oor dinge wat by die kantoor skeefgeloop het.

Baie mans is werkoholiste. Hulle hele lewe en selfwaarde hang af van werkprestasie.

Stres by die werk kan jou maat in ’n snaar verander, een wat maklik breek. Dit maak van hom ’n wildvreemdeling, vreet sy gesondheid en steel sy lewensvreugde.

Miskien het hy ’n nuwe taak by die werk aangepak en toe misluk. Of hy het sy eie besigheid begin en dinge het net nie uitgewerk nie.

Probeer verstaan watter effek hierdie mislukking op sy selfbeeld het. Dit stroop hom van energie, passie vir die lewe en steel sy selfwaarde. Mislukking kan jou maat in sy dop laat kruip.

Gesels oor vorige hoogtepunte in sy loopbaan. Help hom om weer te droom oor die toekoms.

Herinner hom daaraan dat die suksesvolste mense in die wêreld talle kere misluk het. Die geheim is, ons moet net weer opstaan.

Moedig hom aan om mislukkings eerder te sien as ’n leerskool!

Ons Leermeester kan selfs ons foute in Sy diens gebruik. Onthou, Hy is veral baie naby jou wanneer jy hartseer of teleurgesteld is.

 Ondersteun hom ook op ander, praktiese maniere wat sy spanning kan verlig. Kry hom sover om met ’n oefenprogram te begin, gesond te eet en genoeg slaap te kry, dan het hy dalk meer emosionele energie vir jou!

5.HELP HOM om saam met jou geestelik te groei

Niks sal jou gelukkiger maak as diep geestelike gesprekke met jou man nie. Jy begeer om met hom te gesels oor jou beste Vriend se goedheid en grootheid.

Jy soek ’n geestelike mentor, en jou hartewens is dat daardie persoon juis jou man sal wees. Maar hy is lankal nie meer op jou golflengte nie. Geloof is nie iets waaroor hy sommer praat nie.

Jy en jou man weet albei hy het sy Pa se hand gelos. Hy is nie meer jou man se bron van krag nie. Goeie nuus! Hy laat óns nooit los nie. Al loop ons ver weg, bly Hy ons soek. Hy gee nie moed op met ons nie. Uit Sy groot genade word ons gered en kry ons ’n nuwe uitkyk en manier van dink.

Bid vir jou man se geestelike groei. En laat jou eie lewe vir hom wys hoe ’n mens uit en deur daardie ongelooflike liefde leef.

Moenie hom dwing om sy geloof uit te leef op ’n manier wat hom ongemaklik laat voel nie. Dit kan hom dalk net wegstoot van jou en Hom.

Neem eerder klein geloofstreetjies saam met hom. Maak seker dat jy nie geestelik hoogmoedig voorkom nie. Onthou, eerste- en tweedeklas Christene bestaan nie. Voor Hom is ons almal gelyk!

Leef suiwer liefde teenoor jou man uit. Wees vir hom ’n voorbeeld van ware dissipelskap. Gelowiges het mekaar tog nodig; ons groei geestelik saam.

Vorige artikelHOE OM… eenvoudiger te leef
Volgende artikelSkyn die Here deur jou?