Laat God Sy karakter op jou afdruk

699

Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Psalm 19:2

In Eksodus leer ken jy ’n aspek van God se karakter. Dis wanneer die Naam van God as YHWH bekendgemaak word. Dit is die Naam wat God aan Moses bekendmaak volgens Eksodus 3:14.

God se unieke Naam druk sy spesiale karakter uit

Moses vra wat hy moet antwoord as die Israeliete sou uitvra oor wie hom gestuur het. God lei vir Moses deur te verduidelik: “‘Ek is wat Ek is’” Moses moet vir hulle sê: “‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” Dit beteken: “Ek was nog altyd daar en sal altyd daar wees.” YHWH is ’n sesletterwoord en bevat geen vokale nie. Hierdie Naam van God is as so heilig beskou dat die Jode dit glad nie uitspreek nie. Hulle vervang dit met ’n ander Naam.

Jesus het hierdie Naam baiekeer tydens sy bediening op aarde gebruik. God se karakter wys dat Hy Een is met al die mag en oral teenwoordig. Hy is die Heilige Gees of Wese. Hierdie kenmerke beteken dat God geen begin het nie omdat Hy nog áltyd daar was, en ook geen einde het nie.

God verwys na Homself as “God die Almagtige” (Gen 17:1). Ons as gelowiges het in Christus die voorreg om God te kan noem: Vader, Vriend, Verlosser, Voorsiener, Leidsman, Koning, Meester, Herder en Geneesheer.

Jesus in die Nuwe Testament is ’n duidelike voorbeeld van ’n goeie karakter. Dit toon wat ons Here is: liefde (1 Joh 4:8); konstant en sy eerbaarheid dieselfde (Heb 13:8); lig (Jak 1:17); vrede (Fil 4:7) en opreg (Ps 12:6).

Soms wil ’n mens uitskree: “Daar is nie ’n manier hoe ek hierdeur gaan kom nie!” Hoor dan God in liefde en in sy stil-sagte stem: Ek is die weg en die waarheid en die lewe – vertrou My.

God se karaktereienskap verander nie. Hy bly ’n goeie God te midde van ons seerkry en swaarkry. God gebruik uitdagings en wonderwerk om ons oë oop te maak en ons hart sagter. Só kan ’n mens Hom beter leer ken en nader aan Hom leef.

Jou karakter wys wanneer jy uitdagings moet hanteer

Lewe is 10% wat met ons gebeur en 90% hoe ons daarop reageer. Daarom moet ’n mens glad nie die belangrikheid van karakter onderskat nie. Jou persoonlikheid straal byvoorbeeld uit die klere wat jy dra of die vermaak wat jy geniet. Dit wys ook in die vriende waarmee jy jou omring en jou houding wanneer jy by ’n vertrek instap.

Karakter is egter meer onderliggend. Die trekke word duidelik wanneer ’n probleem opduik. Dit wys wanneer iemand rede het om kwaad te word. Karakter kom na vore wanneer daar kans is om moue op te rol en te help.

Karakter in ’n persoon weerspieël eintlik daardie een se geestelike waardes. Hierdie waardes kom direk uit die onderbewussyn wat jou terugneem na positiewe en negatiewe ervarings as kind.

Die skrywer CS Lewis verduidelik: Karakter en integriteit is om die regte ding te doen, selfs wanneer niemand kyk nie. Dis nie net wat jy glo wat jou ’n goeie mens maak nie. Dit gaan ook oor jou gedrag. Dit is nie net woorde oor goeie dade wat krag dra nie. Jou karakter kan opgesom word deur na jou gewoontes en optrede te kyk. Let op die optrede wanneer iemand in die verkeer vassit!

Laat jou karakter ontwikkel deur die vrug van die Gees in jou

Elke seisoen van jou lewe leer jou ’n paar karaktereienskappe. Daar ontwikkel die vrug van die Gees. God laat jou toe om te groei, bloei en blom! Jy moet daardie seisoen voltooi, alles leer wat jy moes en voluit ontwikkel het. Daarna kan jy die volgende seisoen binnegaan. Dan weet God ook dat jy die nuwe seisoen met nuwe uitdagings sal kan hanteer!

Dit is jou verantwoordelikheid om hierdie eienskappe wat jy in saadvorm ontvang het, te gebruik en te ontwikkel. Dit gebeur wanneer jy jou oopstel dat die Heilige Gees karaktertrekke in jou vestig. Hierdie trekke gaan jou maak wie jy veronderstel is om te wees.

By die Olimpiese Spele te Rio in 2016 het die Amerikaanse vroueaflosspan dit eerstehands beleef. Hulle moes voel hoe een insident vier jaar se harde werk in die wiele ry. Hulle was die gunstelinge in hulle uitdun en om die goue medalje om die nek te hang.

Toe gebeur wat niemand verwag het nie. Die eerste naelloper het geprobeer om die aflosstokkie te oorhandig aan English Gardner op die tweede oorgang. Skielik word dié deur die Brasiliaanse naaswenner van balans gestamp.

Hulle kon die oorgee nie regkry nie. Die stokkie het voor miljoene pare oë op die grond geval. Maar toe tel Gardner die stokkie op. Sy verseker dat die VSA-span wel die 400 meter-aflos voltooi.

In die hitte van die wedloop het sy besluit om nie tou op te gooi nie, maar deur te druk en klaar te maak. Al was die situasie nie die beste nie. Hierdie optrede het verhoed dat die VSA gediskwalifiseer word. Só kon hulle appelleer en hulle regmatige plek inneem. Hulle het die finale wedloop gewen en is met goue medaljes huis toe.

Hoe nader ons aan God beweeg, hoe meer sal YHWH se karakter op ons afgedruk word. Dan sal ons ons waardes en integriteit uitleef.

– Karien Basson

Vorige artikelHOE OM… trauma te verwerk
Volgende artikelTracey Lange: “Hoe sleg gister ook was, elke dag is nuut”