Vertrou God om drome waar te maak

150
Vertrou God om jou drome waar te maak

Dis maklik om moed te verloor en op te gee. Jy het passies en drome vir ’n rede gekry. God sal nie toelaat dat dit verlore gaan nie. Jy moet dalk net ’n bietjie geduldig wees …

Daar is so baie mense wie se drome waar word, miskien eers op die ouderdom van 70. Dit wys maar net dat drome wel uiteindelik kan realiseer.

Dis maklik om moed te verloor en op te gee. Jy sê vir jouself jy het die skip verpas. Dit sal tog nooit met jou gebeur nie, dis net vir ander, beter vroue as jy beskore.

Jy moet net bly glo en gehoorsaam wees. Vertrou op die Een wat in die eerste plek daardie droom in jou hart geplant het.

Dit sal nie noodwendig volgens jou skedule gebeur nie. En dis moeilik om daarmee vrede te maak.

Jy kan met gerustheid ophou om alles self te probeer uitwerk. Sy tydsberekening is perfek. Hy is nooit laat nie.

Wanneer ons van iemand se sukses hoor, is ons geneig om te dink: Dis goed en wel dat sy die kans het om haar droom uit te leef. Myne sal tog nooit waar word nie.

Ons dink dit is ons nie beskore nie. Maar dit is onwaar, want enigiets is moontlik by God.

Niemand is ooit te ver heen of sonder ’n tweede kans nie. Dis natuurlik waar van ons lewe in die algemeen.

Daar is baie hindernisse en teenkanting. Maar God maak drome waar, mits jy Hom die beheer van jou lewe gee. Wanneer jy anders oor jou drome begin dink, verander jou hart en dit wat jy wil hê ook.

Kweek dissipline, dan sal jy slaag

Jou drome kan nie groei as jy die klein dissiplines afskeep nie. Dan raak dit naderhand net Nuwejaarsvoornemens wat nooit realiseer nie.

Elke vrou het drome vir haarself. Dit lê in jou hart en groei so saam met jou.

Sukses is in die klein dingetjies. Jy sal sukkel as jy en jou mense nie op dieselfde golflengte is nie. Hulle moet weet waar jy met hulle staan en hoekom jy daar staan.

Hulle moet op jou kan staatmaak. Hulle moet weet dat jy hulle oneindig liefhet.

By die werk geld dieselfde beginsel. Dinge sukkel as jou kollegas nie weet waar jy met hulle staan en hoekom nie. Hulle moet weet dat jy vir hulle lief is.

Probeer jou omring met mense waarna jy kan opkyk, mense beter as jy. As die lewe sy gang gaan en dinge skeefloop, is jy minder blootgestel met gehalte-mense om jou.

Die klein dissipline-dingetjies dek die tafel vir groot drome. Die drome wat in jou hart groei, word hoop wat dinge laat gebeur. En dan, skielik, voor jy weet, is jý een van die vroue waarna ander opkyk.

–Chris de Beer

Jou bes is goed genoeg vir Hom

Min mense maak aspris droog – jy doen gewoonlik jou bes, maar iewers loop iets skeef. Staan op, stof jou af en probeer net weer.

Min mense hou van ’n beleid. As jou kop en jou hart reg is, sal jy in elk geval nooit ’n beleid nodig kry nie.

Sommer vroeg in die Bybel het die Here gesê die mens moet die aarde oppas. Dit is eintlik die enigste “beleid” om volgens te lewe. Probeer om ’n verskil in mens en dier se lewe te maak. Om goed te wees vir die aarde.

Natuurlik kry ons dit nie altyd reg nie.

Dit beteken egter nie jy het nie jou bes gedoen nie. Jy het met die kennis en vaardighede wat jy op daardie oomblik gehad het, jou beste gegee. En dit is goed genoeg.

Baie mense het dalk al vir jou gesê dat jou idees “mal” is. Dit is goed as jou ideale ander mense ongemaklik laat voel. Dit beteken jy het uiteindelik jóú droom gekry. Jy is nie besig om iemand anders s’n te lewe nie.

–Christo Strydom

Doen die regte dinge en behaal sukses

Die lewe skuld niemand niks. Al doen jy alles reg, loop dinge steeds soms skeef. Doen maar net wat Hy vra, dan behaal jy sukses.

Jy werk hard. Jy hou by die reëls. Jy is ’n goeie mens. Dit is mooi ideale, maar soms is jy steeds teleurgesteld ná al jou moeite.

Die lewe is moeilik en onregverdig en soms loop dinge skeef.

Dit wat jy wil hê, is dalk eensydig, selfgesentreerd en selfsugtig. Dan kry jy wat jy verdien. Teleurstelling, seer. ’n Gebreekte ek.

Dit is hoekom die uitkoms van wat “jy verdien” in God se hand rus!

Begin eerder ’n ingesteldheid van: “Here, hoe moet ek nou maak?” Word stil. Luister. Verander jou hart en jou denke. Kyk om jou. Waar klop God se hart vir ons wêreld?

Jy verdien nie genade nie, maar God gee genade. Jy verdien nie ’n goeie lewe nie, maar God sien toe dat dit goed gaan.

Hy gee lewe in oorvloed, seën en voorspoed. Die oliekanne bly vol. Die vissies en broodjies vermeerder.

Want dit is wat Hy doen. As ek doen wat Hy doen, kry ek wat ek verdien!

 –Cois de Kock

Hoop is gegrond op wonderwerke uit die verlede

Hoop is sinoniem met droom. Ander skiet dalk jou droom af, maar onthou die wonderwerke wat Hy al gedoen het. Jy mag maar groot droom!

Dawid buk af en tel vyf klippies op om die reus Goliat mee aan te durf. Waarom vyf? Niemand weet regtig nie. Waarskynlik wou hy voorbereid wees. Hy het immers nog nooit ’n reus aangedurf nie.

Een ding is seker: Hy het geweet dat hy nie alleen was nie. Met net een klippie vel hy die reus neer.

Die kleine Dawid. Wie sou ooit kon dink dat dit moontlik was?

Hy het die moed gehad, maar meer as dit. Hy het geweet dat die Here al voorheen tussenbeide getree het. Die kere toe hy ’n leeu en ’n beer moes aanvat.

Abraham en Sara het ook ’n droom gehad. Op die gevorderde ouderdom van negentig het hulle steeds gehoop vir ’n kind. Tensy God tussenbeide tree, sou dit ’n absolute onmoontlikheid wees.

Hulle hoop was gegrond op hulle geloof in ’n God van liefde. Dis dieselfde Persoon wat ook jou onmoontlike droom waar kan maak.

–Danie Vermeulen

Jy kan verander, ongeag omstandighede

Baiekeer kan jy niks doen om omstandighede te verander sodat jy jou droom kan bereik nie. Tog kan iets verander. Jý kan verander.

Die lewe druk soms maar erg van alle kante af. Daar kom seisoene waarin ons moet spartel om net kop bo water te hou.

Jy beland dan tussen die vloer en die politoer. Soms is jy selfs nie meer lus om aan te gaan met die lewe nie.

Tog kan jy iets verander. Jý kan verander! Jy kan verander hoe jy na die wêreld kyk. Jy kan besluit om te koes vir die curve ball wat die lewe na jou kant toe gooi.

Of jy kan besluit om hom vir ’n ses te slaan. Dit kry ’n mens egter nie reg as jy op jou ou manier aankarring nie.

Begin dinge doelbewus anders doen. Staan vroeër op. Maak tyd vir jouself. Raak stil. Ontdek wie jy is en hoekom jy op die aarde is.

Verskuif so ’n bietjie die grense om jou. Dit is dalk tyd om oor hulle te spring.

Klim uit jou gemaksone. Waag en soek na dít wat jou energievlakke opjaag.

–Gerjo Ben van der Merwe

’n Belofte van ’n nuwe begin

Soms moet jy aangaan, al het jy seergekry. Want jy het die belofte dat daar altyd weer ’n nuwe begin is.

Soms moet ’n mens deur jou diepste nood werk. Dan ontdek jy dat daar iets in jou is wat nie wil, of gaan, sterf nie. ’n Diep wete dat daar lewe is ná enigiets.

Die hoop om vas te hou aan wat jy nie kan voel nie. Om aan te gaan, al weet jy nie wat die lewe bedoel nie.

Die vonk van geloof word weer die vonkel in jou oog. Die Romeine 8-waarheid dat niks, ja niks nie, jou kan skei van die liefde van Christus.

Jy staan dan verbaas dat jy nie net oorleef nie, maar herleef. Selfs béter leef daarna.

Onder die dooie as van ’n uitgebrande hardekoolvuur, is daar ’n kooltjie waarmee jy weer ’n nuwe vuurtjie kan aanblaas. Jou drome weer kan afstof en miskien ’n ander baadjie gee.

As jy nou deur ’n rowwe tyd gaan, hou moed. Onthou Winston Churchill se woorde: “If you go through hell, just keep going.”

Hou net aan beweeg.

–Gustav Gous

Hou aan leer en so bly jy groei

Party mense leef outomaties en onnadenkend. Dit beroof ’n mens van die voorreg om Sy genade raak te sien en te bly groei.

Wanneer ’n vliegtuig op auto-pilot vlieg, gebeur alles outomaties. Party mense leef ook so.

Om so te leef, is goor. Hoekom? Dit beroof jou van die grootste geskenk wat jy gekry het: jou brein.

Volgens een breinkenner se berekening het jou brein stoorspasie gelykstaande aan sowat 10 miljoen boeke van 1 000 bladsye elk. Jou brein het die vermoë om elke dag ontelbaar nuwe dinge te leer.

Jou brein is ook rekbaar – mits jy natuurlik kies om dit leerbaar te hou! As jy nie aanhoudend die Here toelaat om jou denke te vernuwe nie, beroof jy jouself van ’n voorreg. Die voorreg om te bly groei.

Jy strompel onnadenkend voort deur nóg ’n vergadering, nóg ’n byeenkoms, nóg ’n kerkdiens, nóg ’n werksdag. En so loop jy die mooi nuwe dinge wat God vir jou in gedagte het, mis.

Kies om doelbewus meer oplettend te leef sodat jy God se genadewerke kan raaksien. Loop oop oë deur elke dag se porsie lewe.

–Stephan Joubert

Om uit te styg is die beste motivering

Dis maklik om jou drome opsy te skuif omdat almal om jou tevrede is om middelmatig te wees. Maar jy is bedoel om uit te styg!

Ons is so gewoond aan dinge wat middelmatig tot swak gedoen word. Ons beskou selfs basiese dienslewering as buitengewoon. Iemand doen bloot sy werk, en ons is verras.

Ons konformeer te maklik met die standaard van die mense om ons. As iemand anders voete sleep, volg ek maar die voorbeeld. Ek gaan nie ander se werk ook nog doen nie!

Die gevolg is ’n lewenshouding van middelmatigheid. Drome wat op ys gesit word. ’n Gesug oor alles.

Ons het almal soms skewe motiverings hoekom ons werk verrig. Ons eintlike motivering behoort te wees dat ek trots is op wie ek is en waartoe ek in staat is.

Doen alles met oorgawe. Lag tot jou maag seer is en huil tot elke traan uit jou sisteem is. Hardloop tot jou longe wil bars en jou hartklop suis in jou ore.

Maak daardie verskil sodat wie ook al in jou skadu kom staan, nooit sonder jou sal wil vorentoe gaan nie.

–Gerhard van der Merwe

Foute maak nie van jou ’n mislukking nie

Jy het sulke mooi ideale gekoester en toe loop alles skeef. Net omdat jy misluk het, maak dit nie van jou ’n mislukking nie.

Indien die verlede met ’n uitveër uitgewis kon word, sou sulke uitveërs wêreldwyd binne sekondes uitverkoop wees. Dit sou waarskynlik heel voor op die winkelrakke gestaan het.

Soms is die gewig van mislukkings so swaar dat ons die gebeurtenis ons te veel aantrek. Ons leef asof ons die mislukking is.

Hierdie verwarring gom ons aan ’n oomblik vas. Dit steel die onmeetbare, Godgegewe potensiaal wat elkeen van ons in ons dra.

Soms beleef jy tydens terugslae ’n geweldige emosionele las. Jy sien net die las van ’n spreekwoordelike hoop klippe waarmee jy jouself stenig.

Wanneer jy egter na mislukkings as ’n geleerde les – ’n duur een – kyk, het dit waarde vir die toekoms.

Jy sien die las nou as ’n hoop bakstene waarop ’n toekoms gebou kan word. Met ’n doelbewuste poging bring dit vryheid.

Dit is uiters belangrik dat ons met genade na onsself kyk. Genade bewerkstellig verandering en groei wanneer ons dit ten volle benut.

–Hein Strauss

Kies om jou dag positief te begin

Is jy tevrede met middelmatigheid? Of wil jy bekendstaan as ’n vrou wat ander beïnvloed en ’n verskil in die wêreld maak?

Die meeste mense besef nie hoe belangrik die eerste besluit van hulle dag is nie. Daardie besluit wat jy maak sodra jou wekker in die oggend lui.

Elke mens neem elke dag ongeveer 35 000 besluite. Die heel belangrikste een is die heel eerste een van jou dag.

Die oomblik as jou wekker lui, besluit jy of jy die dag met ’n positiewe of negatiewe gemoed gaan aanpak. Gaan ek nog ’n bietjie lê of gaan ek opstaan en die dag met ’n honger vir sukses aanvat?

’n Mens kan amper sê dat die eerste besluit van jou dag bepaal of jy middelmatigheid gaan aanvaar. Of gaan jy soos die een persent van die wêreld die besluit neem om anders te wees?

Nie net nog ’n mens op aarde nie, maar iemand wat ander positief beïnvloed. Wat ’n impak op ander se lewe het. Die eerste besluit is so kragtig dat dit elke ander besluit wat jy maak, sal beïnvloed.

–JC Roos

Plaas jou fokus op die ewige dinge

Ons lewe maklik net vir vandag en sien nie die groter prentjie nie. Wanneer ons fokus op dit wat regtig saak maak, lyk die wêreld anders.

Elke aksie, elke keuse wat jy maak, bepaal die bestemming van jou ewigheid. Ons besef nie altyd die omvang hiervan nie.

Van tyd tot tyd kry ons dit wel reg om perspektief te hou op die dinge daar bo. Op dit wat regtig saak maak.

Maar die lewe is vol uitdagings en ons verloor baie vinnig ons fokus. Dan lewe ons maar weer nét vir vandag.

Kritiek, kompetisie, tyd en omstandighede kry maklik die oorhand. En ons sien nie altyd die groter prentjie van ons doel hier op aarde nie.

Dít waarmee ons elke dag so besig is, is nie die lewe nie. Dit is slegs ’n tyd van voorbereiding vir die lewe wat op elkeen van ons wag ná die dood!

Gestel jy sou dit kon regkry om deurentyd hierdie perspektief te behou. Hoe sou dit van vandag af jou aksies, drome en keuses beïnvloed?

–Jimmy Powell

Maak dit jou doelwit om Hom te verheerlik

Verheerlik Hom in alles wat jy doen en kyk weg van jou eie teleurstellings en doelwitte. Dan verander dit wat jy wil hê en waaroor jy droom.

Werk is net werk as jy iets doen waarvoor jy betaal word en niks daarvan hou nie. As jy egter jou passie uitleef, sal nie een dag soos werk voel nie.

Matteus 6:33 bevestig dat as ’n mens éérs die koninkryk van God soek, Hy vir jou álles sal byvoeg wat jy nodig het.

Hy gee ons die begeertes van ons hart, en ons sal ons in die Here verlustig.

Dit gaan egter nie oor aardse besittings nie. Die fokus is om Hom in alles te verheerlik. As jy voluit doen wat jou passie is en dit vir Hom doen, verander jou hart, jou uitkyk en jou motiewe.

Dan kan jy in jou werk ook ander dien met die passie en talente wat jy gekry het.

Probeer dit. Kyk ’n slag weg van die aardse “branders” en “storms”. Fokus op Jesus met alles wat jy aanpak.

Die manier waarop jy besigheid doen of kinders grootmaak, sal drasties verander. So word elke dag ’n avontuur!

–Brandt Coetzee

Geniet elke oomblik van die lewe!

God se droom vir jou is nie net om jou drome te verwesenlik nie, maar in die eerste plek dat jy die lewe in oorvloed moet geniet.

Van alles waarmee ons ons besig hou, is tyd sekerlik dié een onaantasbare werklikheid wat ons nie kan terugkry nie. Dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie.

Ons kan geld en goed bymekaarmaak, ja. Maar as tyd verlore is, as die uurglas leeggeloop het, is daar niks wat ek of jy daaraan kan doen nie.

Al wat ons het, is vandag. Ons het nog nie môre in ons hande nie. En gister is weg, vir ewig en altyd. Daarom is die Latynse gesegde carpe diem, oftewel “gryp die dag”, so treffend.

Waarop word jou tyd verspil? Leef jy voluit en bewustelik in die heerlikheid van dié dag wat Hy vir jou en jou geliefdes gemaak het?

Neem ’n besluit en wy jou lewe, jou dag, jou tyd, opnuut aan Hom toe as die bron van jou vreugde.

Jy is Sy dogter, in wie Hy ’n welbehae het. Hy is lief vir jóú!

–Charles van Onselen

Terugslae en probleme is deel van die lewe

Jou drome word nie altyd dadelik bewaarheid nie. Soms moet jy eers misluk sodat jy iets kan leer en sterker anderkant kan uitkom.

Elke mens het al terugslae in die lewe beleef. Sommige ernstiger as ander. Party kan selfs as ’n krisis beskou word.

Dit mag dalk negatief klink, maar Jesus sê immers in Johannes 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

So moet ons leer om terugslae op alle vlakke te hanteer, want dit is maar deel van die lewe.

Teleurstellings kan jou ook baie dinge leer wat jou sterker kan maak. Baiekeer is dit net jou geloof wat jou staande kan laat bly. Dit bring jou op ’n plek waar jy wonder of jy nog die Here se beloftes glo.

Glo jy regtig dat Hy alles, selfs hierdie krisis, ten goede sal laat meewerk vir jou? Natuurlik.

Hy is nie verbaas oor die terugslag nie. Dis tydelik. Dit bring jou nader aan wie jy regtig moet wees.

–Anton Swanepoel

Kennis oor jouself laat jou drome verander

Soos Alice in Wonderland, gaan elkeen van ons deur ’n hele verskeidenheid weergawes van onsself. En soos ons verander, verander ons drome ook.

Selfkennis is soos om ’n groot biblioteek met jou naam op te ontdek.

Soms hang jy of ander ’n etiket om jou nek. Die gevaar daarvan is dat dit jou verplig om die etiket te wees. So asof die hele biblioteek net uit een boek bestaan.

Die bevryding wat selfkennis bring, is ou nuus. Die sleutel hier is egter kennis van binne. Nie deur die oë van ander nie.

’n Goeie beginpunt is om jouself deur jou eie voorbeelde en optredes in die wêreld te leer ken.

Wanneer jy iets goed gedoen het, vra jouself af wat jy daaruit geleer het. Wat het jy gedink, gedoen en waarheen was jy op pad? Wat het saak gemaak? Doen dit sodat jy dit kan herhaal.

En as jy foute gemaak het? Dan geld dieselfde vrae. En ook, wat het jy geleer en wat gaan jy anders doen?

As jy nie weet nie, vra. Ontdek en gebruik die héle biblioteek wat jy is.

–Armand Kruger