Vrolik en bly in ’n negatiewe wêreld

715

Slegte nuus hoef nie jou dag om te krap nie. As gelowige kan jy innerlike vrede ervaar. Lynette Beer, Karien Basson en ander geloofsvroue help jou vrolik bly, ongeag van wat om jou gebeur.

Negatiewe stories in die nuus en op sosiale media kan nie anders as om ons gedagtes en emosies te oorheers nie. Om die regte ingesteldheid te behou, voel soms soos om stroomop te swem.

Baie mense glo dat ons geluk afhang van dit wat rondom ons gebeur. Dis egter nie heeltemal waar nie. Navorsing toon dat slegs ’n klein deeltjie van ons algehele geluk deur faktore buite onsself, soos geld of status, bepaal word.

Sonja Lyubomirsky skryf in haar boek The How of Happiness dat amper die helfte van ons geluk deur die lens waardeur ons kyk bepaal word.

Om positief te dink, is soos om spiere in die gimnasium te bou. Dit gebeur nie oornag nie, maar elke dag se oefening maak dit makliker om die “swaar” dinge op te tel.

Ons is geneig om raak te sien waarop ons fokus. As jy glo alles is ’n gemors, is dit wat jy sal raaksien. As jy glo die lewe is ’n geskenk, sal daar bewyse voor wees. Dit maak nie saak watter ramp daar is nie – daar is altyd helpers en mense wat ’n verskil maak.

Die belangrikste: Moenie aan hierdie wêreld dink as net op die verkeerde pad nie. Ja, slegte dinge gebeur, mense neem die verkeerde besluite en maak mekaar seer.

Maar daar is steeds soveel mooi dinge om raak te sien. Gee eerder aandag aan die klein groepies mense wat ’n groot verskil maak. Bring jou kant en maak self ’n verskil!

Besef geen mens is elke oomblik gelukkig nie

Geluk word as ’n toestand van tevredenheid en vreugde gedefinieer. Mark Twain het gesê geluk is goeie vriende, goeie boeke en om jou foute te vergeet.

Vir baie mense beteken geluk materiële voorspoed. Vir ander is dit ’n werk wat hulle geniet, iets waarvoor hulle kan hoop, en iemand om lief te hê.

Daar word verwag dat Christene altyd gelukkig moet wees, nooit moet kwaad word nie en nooit foute maak nie. Maar dis onrealisties. Dis soos om van ’n baba te verwag om nooit te huil nie!

Christene is gewone mense, nie perfekte wesens wat nooit woede, hartseer of pyn ken nie.

Die Bybel se idee van geluk lyk egter anders as wat Netflix uitbeeld. Dit verg uithouvermoë. Moed om te glo in wat ons nie kan sien nie. En om ongeag ernstige siekte, dood en ander traumatiese ervarings te glo dat ons nooit op ons eie is nie.

Ons kry wat ons nodig het om in geloof te groei en in ’n dieper verhouding met Hom te leef. Dit is wat blywende geluk bring.

Geluk is dalk meer soos ’n vlinder. As jy dit jaag, bly dit netnet buite jou bereik. As jy nie daarop fokus nie, kom sit dit soms onverwags op jou skouer.

–Cherise Vermeulen

Daar is aspekte van die lewe wat ons nie kan ontvlug nie, al haat ons elke oomblik daarvan. Een só ’n aspek is trane.

Ons vermy dit eerder, want ons wil nie kwesbaar wees nie. Ons is bekommerd oor hoe ons gaan lyk en wat mense van ons gaan dink.

Niks wat ons doen, kan ons daarvan vrywaar nie – trane is deel van die lewe. Ons verloor dinge in hierdie lewe: jeug, heelheid, gesondheid, krag. ’n Verhouding se wittebrood gaan verby …

Ons word gekondisioneer om eerder te fokus op dinge wat vir ons lekker voel. Maar, weet jy wat? Niemand het dit net altyd lekker nie. Dit sien ons gereeld op die nuus.

Die pad na gesond word, begin wanneer jy die verlies kan erken. Erken die dood. Die ongeluk. Die verhouding wat eindig. Die verlies van ’n droom. Die besigheid wat misluk.

Voel dan die pyn van daardie verlies. Huil. Ween. Moenie probeer om te verstaan, te rasionaliseer of iemand vir jou omstandighede te blameer nie.

Aanvaar die seer en bly vertrou. Jy is nie alleen nie. Binnekort is dit weer jou beurt om te glimlag.

–Melissa van Biljon

Dink kreatief oor omstandighede wat nie kan verander nie

Rut het haar nie laat onderkry deur die “fynskrif” dat die graanreël verpligtend was nie. Sy neem inisiatief, stap na die naaste garsland en vra die voorman om haar toe te laat om are op te tel.

Die voorman stem in en Rut spring aan die werk. Hou in gedagte dat hierdie vrou nie ’n watwonderse ondersteuningstelsel gehad het nie.

Haar “kamermaat” Naomi was depressief. Die atmosfeer in die huis was somber en die koskaste leeg. Tog laat Rut haar nie deur toegetrekte gordyne en moods versmoor nie.

Sy dring nie aan op kwotas of wat sy voel haar toekom nie. Sy aanvaar nie ander se pligsgevoel, of verantwoordelikheidsin as vanselfsprekend nie. Sy blaas nie stoom af om braaivleisvure of teekoppies nie.

Sy staan op en doen iets.

Dis maklik om rond te kyk en depressief te raak. Maar moenie jou deur negatiewe omstandighede laat onderkry nie.

Neem berekende risiko’s. Indien jy nie weet hoe om ’n wêreld wat rondom jou verval, te herbou nie, fynkam die reëls. Wees slim en gebruik sekere prosedures tot jou voordeel – sodat ander ook gehelp kan word.

Neem inisiatief. Leef soos iemand met ’n toekoms!

–Annalie Steenkamp-Nel

Al is dit ook so dat ons nie altyd kry wat ons verdien nie, slegte dinge gebeur met goeie mense en andersom ook.

Neem vandag ’n besluit om al die bitter en seer oor jou of die land se situasie te laat gaan. Kies doelbewus om aan jou geloof vas te hou. Dinge sal nie noodwendig oornag verander nie, maar jý kan verander.

Begin dankie sê dat Hy groter is as al jou vrese, twyfel, sondige begeertes en folterende gedagtes.

Vra vir wysheid om heeltemal nuut oor jou situasie te kan dink. Wees verseker dat daar ’n goeie rede vir jou en ander se seerkry is.

Soos wat jy geestelik groei, sal jy ontdek dat jy nie net aan jouself moet dink nie. Bevryding van self-fokus maak ons vry om mekaar te dien.

Midde in ’n moeilike situasie word ’n mens getroos en versterk. En daarna is jy weer in staat om ander met wie dit moeilik gaan te troos.

Omdat jy weet jy is nooit alleen nie, kan jy iemand anders aan haar swaar vrag help dra – en self gelukkiger wees!

–Tara van Eck

Moenie vaskyk teen details nie, sien die groter prentjie

As kind wou jy dalk graag ’n spioen, ’n joernalis, ’n juffrou of ’n koningin word.

Nie een van jou planne of drome het moontlik waar geword nie. Jou paadjie het dalk in ’n heel ander rigting gekronkel.

Dit kan gebeur dat ’n mens nie kinders kan hê nie, ’n huis verloor of afskeid van dierbares moet neem. Jy kan vyande maak waar jy vriende verwag het. Jou hart kan honderde keer in stukke deur verskeie teleurstellings gebreek word.

Maar vriendskappe word op die mees onverwagse plekke gevind. Teenstand laat jou ’n krag ontdek wat jy nie geweet het binne-in jou is nie. Dit leer jou om hoop in donker tye te koester en om nooit op te gee nie.

Jy kan dus weer begin droom oor ’n toekoms met wonderlike vooruitsigte.

Onthou, jou hart wil in die kortste moontlike tyd van punt A na punt B kom. Eintlik gaan dit oor wié jy besig is om op hierdie reis te word. Die fokus is op ’n ander plek.

Maak eerder vrede daarmee dat die toekoms somtyds ander horisonne insluit waaroor jy nog nie gedroom het nie. ’n Ander pad is nie noodwendig ’n slegter pad nie. Vergeet die details, sien die groter prentjie!

–Bianca Steffen

As jy nou in jou toekomstige self sou kon belê, waaraan sou jy jou tyd en energie bestee?

Daar was onlangs ’n opname onder millenniërs waarin hulle gevra is wat hulle belangrikste lewensdoelwitte was.

Meer as 80 persent het gesê dat hulle graag ryk wou word. Nog 50 persent het aangedui dat hulle beroemd wou wees.

Na aanleiding van ’n omvangryke studie oor wat ’n mens gelukkig en gesond hou, is bevind dat verhoudings die deurslag gegee het.

Vir meer as 75 jaar is daar met die 724 respondente uit alle vlakke van die samelewing onderhoude gevoer en mediese toetse gedoen.

Die duidelikste boodskap wat ons uit hierdie studie kry, is dat goeie verhoudings ’n mens gelukkiger en gesonder maak.

Waarvoor sal jou 80-jarige self jou dus eendag bedank?

Dat jy nie so in werk vasgevang geraak het dat jy vergeet het om tyd en energie in verhoudings te belê nie. Nie so gestruikel het weens jou ingesteldheid op besit, dat jy vergeet het om lief te hê nie.

Fokus eerder op liefde en verhoudings en beleef oorvloedige geluk, ongeag negatiewe dinge.

 –Greta Müller

Wees dankbaar, dit maak jou oë oop vir vrede

Ann Voskamp het ’n boek oor ’n dankie-joernaal geskryf. Sy het ontdek dat dit die klein dingetjies is wat ’n mens se houding verander.

In haar dankieboek, wat op haar kombuistafel gelê het, het sy oomblikke van dankbaarheid begin neerskryf.

Die son wat deur die wolke skyn, die glans in ’n voël se vlerk, die skoenlapper op die vensterbank. En kort voor lank was sy by ’n duisend dankies, of “geskenke”, soos sy dit noem.

’n Dankbare mens is ’n gelukkige mens! Jy kan dit as ’n cliché afmaak of daarna begin kyk as ’n nuwe manier van leef.

Hierdie oefening sal jou sintuie verskerp. Jou ore sal skielik die voëltjies beter begin hoor. Die reuk van varsgemaalde koffie en die smaak van ’n lekker stuk kaaskoek kan inskrywings in jou dankieboek geword.

Dit beteken dat ons ook in pyn en swaarkry die dankieboek moet naby hou. Vind die mooi in die lelik, sê Ann, want dit is daar, al sien jy dit eers met die terugkyk.

Voor jy sien, is jy op pad na 1 000 dankiedinge. En raak jy opgewonde oor ’n nuwe stel sintuie en die “towerstaf” in jou handsak wat oral saamgaan! –Lynette Beer

Tog is dit nie altyd maklik om dankbaar te wees nie.

Wanneer jy volgende keer moedeloos voel, dink hieraan: Hoe sal dit wees as jy iets moet verloor wat jy op die oomblik wel het? Dink aan jou gesondheid, jou kinders of jou werk.

Wat as jy môreoggend sou wakker word sonder dit waarvoor jy nie vandag dankbaar was nie?

Wat aanvaar jy as vanselfsprekend? Dink aan ’n mooi sonsopkoms; om te kan opstaan sonder hulp, ’n goeie geheue, die geur van die blomme in jou tuin.

Of kyk ’n bietjie anders daarna. Watter verskil kan jou dankbaarheid in ander mense se lewens maak? ’n Dankie met ’n glimlag vir die sekuriteitswag wat jou kar oppas, kan haar hele dag ophelder.

Dis dan wanneer ander na jou kyk en wonder hoekom jy nie bitter of depressief is nie. Daar het dan soveel hartseer goed in jou lewe gebeur.

As jy nie het wat jy begeer nie, wees dankbaar dat jy minstens nie die dinge het wat jy nié wil hê nie!

Dis nie geluk wat lei tot dankbaarheid nie, dis dankbaarheid wat lei tot geluk.

–Rina de Klerk-Weyer

Verander jou idee oor presies wat geluk is

Miskien is die rede waarom geluk sommige mense bly ontwyk dat hulle geluk verkeerd interpreteer.

Ons dink soms dat geld, bekendheid en sukses ons gelukkig sal maak, maar dit werk nie so nie. Geen wonder dat al hoe meer mense, wat juis baie van dié dinge besit, al hoe ongelukkiger raak nie.

Nie eens al die geld in die wêreld kan geluk koop nie. Geld, goed en beter omstandighede maak die lewe dalk meer gemaklik, maar dit bied nie ware vreugde nie.

Ons fokus deesdae hoe meer op ons eie gemak. Ons is die “selfie -generasie”. Ons dink dat wanneer ons gelukkig is en die lewe glad verloop, sal ons ware vervulling as geskenk kry.

Ons moet eerder beweeg van “ek” na “ons”. Ware lewensvreugde gaan jy nie op jou eie eilandjie vind nie, dit lê in verhoudings opgesluit.

Jou wêreld raak soveel groter wanneer jy minder op jouself fokus. Dit is bevrydend. Skielik is dit nie meer nodig om ander te beïndruk nie, want dit gaan nie meer oor jou nie!

Dalk dink jy daar is nie regtig iets om voor dankbaar te wees nie. Wees verseker, daar is iemand wat vandag nog met jou plekke sal wil ruil. Iemand wat in ’n baie slegter posisie is as jy!

–Liesel Krause-Wiid

Kenners sê dat geluk die meeste mense ontwyk. Dis eintlik maar ’n emosionele ervaring, ’n vlietende gevoel wat oor jou spoel.

Dis soos om sjokolade te eet of jou baba vir die eerste keer in jou arms te hou. Die gevoel van ekstase toe die Springbokke die Wêreldbekereindstryd wen.

Ware geluk is nie wat ons in sosiale media, in tydskrifte, of in elke dag se gesels met mense vind nie.

Ware geluk het iets te make met ’n lewe van liefde, met verhoudings en die gemeenskap waarbinne ek leef.

Liefde is nie net glansryk en mooi nie. Dis gekompliseerd en morsig. Daar is nie vinnige oplossings en maklike antwoorde wanneer dit by verhoudings kom nie.

Inteendeel, dis makliker om net vir jouself te leef en in beheer van jou eie lewe te wees. Jy spring baie verantwoordelikhede, moeite, tyd en ook natuurlik seer vry.

Ware geluk bestaan met ander woorde nie sonder swaarkry, gebroke harte, moeilike tye en seer nie. Inteendeel.

Kies ons dié pad na geluk mag ons dalk juis méér huil, maar ook méér lag. Dalk lewe ons dan werklik vir die eerste keer. Intens, doelbewus, met oorgawe en gevoel.

–Meri Schoeman

Vermy mense wat kla en fokus op die goeie

Wanneer jy angstig en bekommerd voel, dink mooi waarvoor jy jou ore uitleen. Waaraan spandeer jy die meeste van jou tyd? Saam met wie bring jy die meeste van jou tyd deur?

Onthou, vriende is veronderstel om jou te inspireer en uit te daag om die beste “jy” te wees. Nie om jou in ’n gat in te praat nie.

My lewe het drasties begin verander toe ek besluit het om ’n mentor te kry. Iemand waarna ek kon opkyk en wat my kon uitdaag om beter as gister te wees.

Goeie denkpatrone is soos ’n spier wat elke dag moet oefen. Dit kom nie net vanself nie, jy moet dit kies en elke dag daaraan werk.

Maar net jy is verantwoordelik vir wat jy toelaat en waaraan jy aandag gee. Maak seker dat dit gesonde, positiewe dinge is. Kyk na opbouende programme en spandeer tyd in motiverende geselskap.

Fokus op die mooi dinge, ons het so baie om voor dankbaar te wees. Beter nog, wees jý die mooi. Wat jy saai, sal jy maai!

–Henriëtte von Below

Daar is ’n wonderlike oefening vir wanneer jy deur angs moet werk. Dit werk so:

Maak jou dagboek oop en soek twee skoon bladsye langs mekaar. Links skryf jy “huidige ek” en aan die regterkant “toekomstige ek”.

Op die “huidige ek”-bladsy beskryf jy jouself soos jy nou is. Jou klerestyl en wat jy eet, jou verhoudings en werk. Wie jy is.

Neem ’n oomblik en wees dankbaar vir die lewe wat jy tot hier geleef het.

Op die “toekomstige ek”-bladsy gaan jy droom oor wie jy graag wil wees. Droom groot en wees kreatief oor hierdie vrou. Beskryf haar in soveel moontlik detail.

Nou dat jy weet wie jy wil wees, is dit tyd om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou ingesteldheid.

Moenie fokus op dit wat nie gedoen kan word of wat nie kan werk nie. So ’n ingesteldheid sê: “ek is te oud” of “ek kan nie”.

Hierdie ingesteldheid is bang vir nuwe uitdagings en vir kritiek.

Wees bereid om te groei en te ontwikkel. Sien die lewe as moontlikhede en nuwe dinge om te probeer.

–Sonika Kruger

Wees die verandering wat jy in die wêreld wil sien

Die lewe is 10% wat met ons gebeur en 90% van hoe ons daarop reageer. Daarom moet ons nooit die belangrikheid van karakter onderskat nie. Niks kan verander voor jy nie verander nie!

Iemand se persoonlikheid kan gesien word deur die klere wat sy dra, die vermaak wat sy geniet en haar vriende.

Karakter is ’n direkte refleksie van iemand se geestelike waardes. Die bekende skrywer CS Lewis het gesê karakter en integriteit is om die regte ding te doen wanneer niemand kyk nie.

Op die ou einde is dit nie net wat jy glo wat van jou ’n goeie mens maak nie. Gedrag speel ook ’n groot rol.

Dit is nie net woorde van goeie dade wat krag dra nie. ’n Mens se karakter kan opgesom word deur na jou gewoontes en optrede te kyk. En daar is geen beter manier om iemand op te som as hoe sy optree wanneer sy verkeerd was nie!

Elke seisoen van jou lewe leer jou ’n paar nuwe karaktereienskappe. Dit laat jou toe om te groei, te bloei en te blom!

 –Karien Basson

Seerkry en swaarkry veroorsaak dat jy jou oë, ore en hart wil toesluit om jouself te beskerm.

Dit help egter nie om die realiteite te ontken en jou af te sonder net sodat jy nie sal seerkry nie.

In ’n gemaksone sal daar nie groei wees nie. Die donker is dikwels die perfekte plek en teelaarde vir ongelooflike mooi blomme.

Ons spandeer baie tyd en geld aan ons uiterlike. Skoonheid is tydelik en kan nie wegsteek wat binnekant aangaan nie. Dit is nie altyd maklik om die blink kant bo te hou nie.

En tog, juis wanneer jy glo jy is onder omstandighede begrawe, is jy eintlik geplant om beter en mooier dinge te beleef.

Niemand is ’n eiland nie. Daarom moet jou groei ook vir ander iets beteken.

Sekere dinge word soms toegelaat om ons by die plek te bring waar ons buite ons gemaksone groei. Dan kan ons blom en vir ander met wie dit ook moeilik gaan, hoop gee.

Blom so dat jy deel is van die mooi dinge wat jy graag rondom jou wil sien gebeur.

 –Vicky-Ann Serfontein

Vorige artikel[PODSENDING] Die ware betekenis van vasbyt [Reeks 1 Nommer 5]
Volgende artikel’n Nuwe jy in 30 dae