Die grootste geskenk is jou aandag

82

Die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee, is jou volle aandag. Om werklik op net een persoon te fokus, moet ’n mens leer om afleidings te ignoreer en heeltemal tot rus te kom.

Ons is die altyd-aan-generasie. Hierdie onvermoë om af te skakel en ons onverdeelde aandag aan iets of iemand te wy, het ’n negatiewe effek op ons verhoudings. Nie net met ons geliefdes nie, maar ook met God. Dit raak al hoe moeiliker om net alleen by Hom te wees.

Jou onverdeelde aandag is bitter min beskore

Terwyl ek na ’n webinaar kyk, loer ek vinnig na my e-posse en WhatsApp’s op my foon. My klein seuntjie, Siebert, kan rekenaarspeletjies speel, op Instagram besig wees en dan blêr die TV nog in die agtergrond.

Navorsing toon dat ons 40% minder produktief is wanneer ons aandag so verdeeld is.

Maar erger nog is dat ons die vermoë verloor om ons volle aandag aan een persoon te gee. Dit affekteer ons verhoudings met ons geliefdes en ons verhouding met God.

Paulus praat in Filippense 2:4 oor hoe ons te werk moet gaan wanneer ons met mense in verhouding is: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander.”

Paulus sê, wanneer ons met ander te doen kry, moet ons op hulle alleen fokus. Ons moet let op hulle belange en nie met ons eie dinge besig wees nie. Dis moeilik, ons sukkel hiermee.

Kry ’n spesiale plek waar jy stil kan raak

Die mensdom weet nie meer hoe om af te skakel nie. Ons raak skoon angstig as ons nie ons selfone of ’n radio of TV naby het nie.

Ons sukkel om net rustig te raak en te wees.

Dit gebeur ook in ons gebedslewe, in ons stiltetyd. Ons sukkel ook om net alleen by God te wees, om op Hom te fokus en by Sy voete stil te raak.

Maar die oomblik wanneer jy dit doen, wanneer jy fokus op God en nie alles gelyk probeer doen nie, dan verander dit jou lewe. Dan gee Hy vir jou begrip, Hy gee vir jou energie, Hy gee vir jou insig.

Wat vir my hiermee help, is om ’n spesifieke plek vir ons saamweestyd te hê. Ek weet as ek daar gaan sit, kan ek afskakel en dan kan ek tyd saam met God spandeer. Ek kan net op Hom fokus.

Maak ’n spesifieke tyd om by Hom te wees

Ek verkies om ’n spesifieke tyd hiervoor te maak. Wanneer die kinders my nie gaan pla nie of die telefoon nie gedurig gaan lui nie. Dan vat ek Bybelboek vir Bybelboek eerder as om net hier en daar ’n teks te gryp.

Deur elke boek van voor tot agter te lees, maak baie meer sin. Al lees jy net twee of drie verse tot daardie teks met jou praat.

Dan sit ek by God en wees by Hom.

As my gedagtes begin dwaal of as ek angstig raak en my foon soek, is al wat ek hoef te sê: “Jesus, help my om te fokus.” En dan voel ek hoe ek weer kalm raak.

Hoe ek nader aan Hom getrek word. Ons leef in ’n aanlyn gemeenskap, maar die oomblik wanneer jy jou volle aandag aan God begin gee om en net by Hom te wees, gaan jou lewe verander.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelReynardt Hugo:“Hier is my storie van hoop – opreg rou en eerlik”
Volgende artikelVerandering is onafwendbaar deel van die lewe