Gesonde verhoudings gee sin aan jou lewe

88

Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie. Ons is gemaak om in verhoudings met God en met mense te lewe. Vind die sin van die lewe, vreugde en ware geluk in verhoudings.

God het ons geskep na Sy beeld om ons lief te hê en om in verhouding met ons te kan leef. In die Bybel lees ons dat Hy sê: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” God verlang na ’n verhouding met jou!

Jy is so gelukkig soos wat jou verhoudings is

Om in verhouding met God te leef, gee sin en betekenis aan jou lewe. Sonder Hom in jou lewe gaan jou lewe gedurig leeg voel. Én sonder sin en betekenis in jou lewe gaan jy sukkel om werklik gelukkig te wees.

Ons dien ’n God van verhoudings. Jesus het gesê die belangrikste ding wat God van ons verlang, is dat ons Hom en ons naaste moet liefhê.

Hoe hierdie verhoudings in jou lewe lyk, bepaal in ’n baie groot mate die kwaliteit van jou lewe. Met ander woorde, jy is so gelukkig soos wat jou verhouding met God en mense is.

Wanneer jou verhouding met God vertroebel, tas dit jou geluk aan. As jy gedurig met mense baklei, gaan dit jou geluk en lewenskwaliteit steel.

God wíl ’n verhouding met jou hê

Mense leef nie as enkelinge nie. Ons is nie alleenlopers in die heelal nie; ons leef in groepe saam. Jou verhoudings het ’n groot invloed op die kwaliteit van jou lewe. Ons kry selfs in ’n groot mate ons identiteit deur ons verhoudings met ander.

Alle verhoudings bereik soms ’n plato, selfs jou verhouding met God. Wanneer dit vir jou voel of jou verhouding met God gestagneer het, begin meer tyd in die verhoudings belê.

The Message-vertaling van Jeremia 29:13 stel dit pragtig: “When you come looking for me, you’ll find me. Yes, when you get serious about finding me and want it more than anything else, I’ll make sure you won’t be disappointed.”

God het ons geskep omdat Hy graag in verhouding met ons wil leef. Vat Sy hand. Saam met Hom is die lewe ’n wonderlike avontuur!

Gee meer aandag en liefde aan jou verhoudings

Soms dink ons: As my seun of dogter net soos my vriendin se seun of dogter was, sou ons verhouding anders gelyk het. Of: As my man net soos my suster se man kon optree, sou ons huwelik anders gewees het. Of: As my kollegas net soos die mense was saam met wie my vriendin werk, sou ek meer gelukkig by die werk gewees het.

Ons dink die gras is groener aan die ander kant van die draad, maar eintlik is die gras groener waar jy dit water gee!

Gee meer aandag, meer liefde, meer geduld en meer vergifnis. Let op hoe jy met ander praat, laat jou woorde opbou en nie afbreek nie. Dit alles sal jou verhoudings laat blom.

Hy maak jou lewe sinvol! ’n Gesonde verhouding met Hom en met mense skenk vir jou ware geluk en uitnemende lewenskwaliteit.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelGebed bring jou nader aan God
Volgende artikel‘Ek is wie ek is…en dis goed so’