Is Bybellees vandag nog relevant?

189

Is Bybellees deel van jou daaglikse roetine? Die wêreld lyk deesdae baie anders as toe dit geskryf is. Die Bybel mag dalk ’n antieke boek wees, maar die waarhede daarin is vandag nog van toepassing.

Die wêreld het deesdae ’n groter impak as die Bybel. Ons glo eerder die media as die Goeie Nuus van God se Woord. Maar wanneer jy tyd in Sy Woord spandeer en ’n vaste verhouding met God bou, hoor jy Sy stem die beste en leer ken jy Sy wil.

Bybellees leer jou van God se liefde

Die Bybel leer nie of die aarde plat of rond is nie. Dit kan jou nie vertel op watter ouderdom jou kind op sosiale media mag wees nie, maar daar is duidelike riglyne oor hoe om sinvol te leef, dat verhoudinge in jou lewe voorkeur moet geniet en dat jy moet tyd maak vir God en mense.

God openbaar Homself deur Sy Woord. Die Bybel is vol verhale van Sy liefde vir ons en die pad wat Hy al oor duisende jare heen met Sy kinders stap. Van die verhale in die Bybel is nogal brutaal. Dit vertel van broers wat mekaar doodmaak, egbreuk en onderduimsheid.

Maar die wonder is dat God deur dit alles nie Sy kinders se hand los nie. Ons maak vandag nog droog, maar die Bybel leer dat jy nooit so ver kan val dat jy uit God se hand val nie.

Maak seker dat jy met insig lees

Ons moet onthou dat die Bybel uit 66 boeke bestaan. Hierdie biblioteek van boeke wissel van godsdienstige wette, poësie en visioene tot reisverhale, briewe en evangelies.

Net soos ’n mens nie ’n gedig op dieselfde manier lees en interpreteer as ’n geskiedenisstuk nie, moet elkeen van hierdie tekste ook op ’n ander manier gelees word.

Het jy geweet dat van die mense wat ooggetuies was van dit wat Jesus gedoen het, nog geleef het toe die evangelies geskryf is. Hulle sou beslis protes aangeteken het as Sy woorde en dade verkeerd opgeteken was.

Paulus het huiskerke begin en briewe vir die “gemeentes” geskryf. Dit was iets heel nuut in die tyd waarin hy geleef het. Hierdie briewe aan gemeentes maak ’n groot deel van die Nuwe Testament uit. As ons nie die kultuur van die dag in ag neem wanneer ons die Bybel lees nie, kan ons maklik verward raak.

Maak seker dat jy verantwoordelik met die Bybel omgaan

Wees versigtig om nie tekste buite konteks aan te haal of ’n enkel teks jou eie te maak nie. Sou jy enige ander boek so lees? Op bladsy 50, dan 77, dan 1 …?

Ons is bevoorreg om die Bybel in ons eie taal te kan lees. Meer as 500 jaar gelede toe dit uit Latyn na Duits vertaal is, kon die mense nie genoeg van God se Woord in hulle eie taal kry nie. Vandag aanvaar ons hierdie voorreg as vanselfsprekend.

Psalm 119 leer dat die Woord soeter is as die soetste heuning, dit leer ons die lewe bemeester. Oordink die Woord, neem dit ernstig op, laat dit jou lewe beïnvloed en verander.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelHoe om… nie alles te wil beheer nie
Volgende artikelMoenie dat vrees jou sukses steel nie