Jy kan nie sonde vir God wegsteek nie

181

Dit het tyd geword om van ons maskers ontslae te raak. Nee, nie die korona-maskers nie, maar die voorgee-maskers wat ons daagliks opsit om ons ware self en sondes vir die wêreld weg te steek.

In korona-tyd dra ons maskers om onsself en ander teen die virus te beskerm. So dra ons dikwels ook figuurlike, voorgee-maskers. Soms dra ons ’n groot glimlag om die seer binne-in ons weg te steek. Maar nie een van die twee, die korona-masker of die voorgee-masker, is volhoubaar nie.

Jy kan nie sonde onder ’n masker wegsteek nie

Jy kan nie vir 12 maande, 24 uur ’n dag jou lapmasker dra nie. Dit laat jou benoud en ongemaklik voel. Jy kan ook nie altyd voorgee nie. Daar kom ’n tyd wanneer jy die masker moet afhaal en net jouself moet wees.

Maar ons is bang om ons masker af te haal. Bang dat mense ons leer ken vir wie ons regtig is. Dalk verwerp hulle ons. Of ons is bang ons stel ander teleur. Baie van ons kruip agter ’n masker weg om seer weg te steek. Miskien omdat ons versigtig is om weer seer te kry.

Ons almal gee maar ’n bietjie voor. Dink maar net hoe ’n mens partykeer in die kar op pad kerk toe ’n hewige argument het, maar dan stap julle ewe heilig by die kerk in asof niks gebeur het nie.

Partykeer is dit om ander teen die waarheid te beskerm.

Dis tyd om jou voorgee-masker af te haal

Ouers sit partykeer ’n voorgee-masker op vir hulle kinders. Jy vertel nie vir jou rebeltiener wat jy as tiener gedoen het nie, want jy is bang hy volg in jou voetspore. Selfs dominees, ouderlinge en diakens sit ook partykeer ’n voorgee-masker op, want ons is bang ons stel mense teleur.

Dis nodig om hierdie masker af te haal. Hoekom? Want geen mens kan groei as jy die heeltyd voorgee nie. Dis bevrydend om jouself te kan wees. Om net jy te kan wees soos God jou gemaak het.

In Psalm 139 vertel die Psalmdigter hoe God ons aanmekaar geweef het. Dit begin deur te sê: “God, U kyk regdeur my.” So, God ken jou deur en deur. Hy weet van ons donkerste geheime.

Voor Hom kan ons nie ’n masker opsit nie. Jy kan daarom vra: “Here, help my want ek wil vry wees. Ek wil hierdie masker afhaal.”

God het jou lief ten spyte van jou sondes

Psalm 139 sê verder dat God die woorde ken nog voordat ons dit sê. Hy het ons aanmekaar geweef en Hy weet elke ding van ons. Die Psalmdigter sê: “Al klim ek op na die hemel, U is daar. Al daal ek af in die doderyk, U is daar. U weet alles van my.” Hy ken elke geheim.

Dit laat ’n mens amper benoud voel as jy dit lees en dink dat God jou so goed ken. Maar ten spyte daarvan dat Hy ál ons donker geheime ken, het Hy ons nog steeds innig lief.

Hy het ons lief soos ons is, maar Hy los ons nie soos ons is nie. Hy stap die pad saam met ons. Hy vorm ons sodat ons meer en meer Sy wil doen.

Die wonder hiervan is die grenslose genade van hierdie alwetende God wat alles van ons weet en ons steeds innig liefhet.

– LIESEL KRAUSE-WIID, Geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelSimoné: ‘Die lewe is vol wonderwerke’
Volgende artikelJou emosies verklap wat in jou hart aangaan