Liefde, eerder as oordeel, kan mense heelmaak

133

Christenskap beteken nie dat ons op die aarde geplaas is om ander te veroordeel nie. Daar is min dinge waaroor Jesus Homself so skerp uitgespreek het soos oor godsdienstige skynheiligheid, oordeel en geestelike hoogmoed

Om ’n sonde-soeker te wees maak jou lewe donker. Hoe anders kan die wêreld nie lyk as ons eerder “dokters” kan wees wat die genesende salf van liefde bring as “regters” wat oordeel uitspreek nie. Liefde is ’n genesende salf. Jy verander lewens wanneer jy God se liefde vir mense wys.

Christenskap beteken om in liefde uit te reik

Ek lees van ’n vrou in Amerika wat sê sy wil nie meer ’n Christen wees nie, want sy wil nie meer “verplig” voel om sekere groepe mense te haat nie.

Sjoe, ek dink sy verstaan die Bybel heeltemal verkeerd. Daar leer ons tog dat God liefde is en dat Jesus se sterwe aan die kruis die grootste liefdesoffer van alle tye is. In Johannes 3:16 staan daar: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …”

Christenskap spel juis liefde en Jesus sê die belangrikste wat God van ons vra, is dat ons Hom en ons naaste moet liefhê!

Wanneer ons na Jesus se lewe kyk, sien ons dat Hy veel eerder ’n dokter as ’n regter was. Met ander woorde, Hy het in liefde na alle mense uitgereik!

Onvoorwaardelike liefde ten spyte van ons sonde

Jesus het nie mense veroordeel nie. Hy het juis deur grense gebreek en mense se oë oopgemaak vir God se liefde vir hulle.

Natuurlik keer Hy nie sonde goed nie. Hy sê immers vir die vrou wat owerspel gepleeg het: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Maar Hy wys sondaars nooit weg nie.

Hy betoon onvoorwaardelike liefde ten spyte van ons sonde. Dit is grenslose genade! God haat sonde, maar Hy het sondaars innig lief!

Liefde is veronderstel om die handtekening van die kerk te wees. Dit is die belangrikste manier hoe ander ons geloof kan uitken.

Jesus sê wanneer ons liefhet, dui dit aan dat ons Sy dissipels is. Hy gaan verder en sê wanneer ons ons vyande liefhet, sal mense weet dat ons kinders van God is.

Liefde moet ons kenmerk wees, nie oordeel nie!

Baie mense sal vir jou sê hulle ervaar Christene beslis nie as liefdevol nie. Die Barna-navorsingsgroep het bevind dat nie-Christene se opinie van ons is dat ons veroordelend is.

Interessant dat Jesus se hardste woorde juis aan die Fariseërs was wat geloop en oordeel het. In Matteus 23 noem Jesus die Fariseërs huigelaars. Hy sê dat ellende vir hulle wag, omdat hulle geestelik hoogmoedig is, en veroordelend en skynheilig is.

Ons moet versigtig wees om te oordeel. Niemand van ons is volmaak nie. Ons almal maak foute. Ons almal is sondaars.

Wyle Eugene Peterson gebruik ’n mooi metafoor wanneer hy van die kerk praat. Hy vergelyk dit met ’n hospitaal waar onvolmaakte mense bymekaarkom om heel te word.

– LIESEL KRAUSE-WIID, geloofsgroei en gesinsterapie

Vorige artikelLynette Beer: “Ek glo in tweede kanse”
Volgende artikelHoe gelukkig is jy met jou lewe?