Caroline–Grace Brüssow: ‘Ek het ’n sagte kant van die Here ontdek’

20

Caroline–Grace Brüssow van The Voice is mooi en slim, en het ʼn pragtige stem. Sy het gedink sy moes net heeltyd werk aan die goed waaraan sy moes verander – totdat sy ’n sagte kant van die Here ontdek het. Eintlik is daar ook baie genade want die Here ken haar hart …

Ons elkeen kry sekere geskenke – talente – wat as ’n passie in ons hart geplant word.

Dis die sagte stem in ons binneste wat ons aanmoedig om nie tou op te gooi nie.

Ongeag my twyfel, kon ek daardie stem nie ignoreer nie.

Baie versigtig het ek hierdie geskenk in my hart begin oopmaak – geleenthede aangegryp om my talent te oefen en te ontwikkel.

In matriek het ek ’n groot rol in ʼn skolemusiekproduksie gekry, waarvan die hoofrolle
deur professionele sangers vertolk sou word. Ek was heeltemal uit die veld geslaan.

Ek het kliphard gewerk om almal wat gedink het ek was te jonk en onervare, verkeerd te bewys.

Dit was een van daardie groot oomblikke wat my onsekerheid vir ’n rukkie laat wyk het. “Dalk kan ek dit regtig doen,” het die besef begin insink.

Om ’n sprong in geloof te waag verg baie moed. My droom het al baiekeer momentum gekry, maar dan begin ek weer dink dat ek nie goed genoeg is nie.

Dis asof ek telkens te bang is om my hart te volg, om werklik te vertrou dat my liefde vir sing deel van my roeping is.

As ek nou terugdink, besef ek dat ek liewer na my hart moes geluister het.

Dat ek die stemmetjie wat my aangemoedig het om op my droom te fokus, moes vertrou het.

Ek sou baie verder gewees het in my loopbaan. Ons vrese en swakhede het maar die manier om ons te laat ontspoor.

Vandag weet ek ’n mens moet ligloop vir al die redenasies waarmee jy jouself oortuig om nie die droom in jou hart te volg nie.

Die waarheid was dat ek eintlik net onseker was van myself. Te bang ek gaan misluk.

Die frustrasie oor die droom wat ek nie kon uitleef nie, het my byna ondergekry.

Elke seisoen is ’n belangrike trappie na jou lewensdoel. Soms verg dit ’n desperate situasie om jou tot hierdie besef te laat kom.

In die vreemde was daar nie ’n kerk om aan te behoort nie. Boonop is ek van nature ’n private mens wat nie sommer vir ander sal sê as ek sukkel nie.

Los dit eerder self op, is my filosofie, maar nou het selfs dít nie eens meer gewerk nie.

Ek is heeltemal uit my gemaksone geskud – en dít is die beste plek vir groei.

Vandag is dit vir my baie duidelik hoe ons persepsies juis afgebreek moet word sodat ons nuut kan dink en ons omstandighede anders kan beleef.

’n Wyse vriendin, wat kon insien dat my denkwyse moes verander, nie my omstandighede nie, het voorgestel dat ek Joyce Meyer se toepassing op my foon aflaai en na haar boodskappe luister.

Wat ’n openbaring! Ek wens het ek dit al lankal begin doen! Joyce se boodskappe het omtrent ’n nuwe wêreld van dink en verstaan vir my opgemaak. Dit was asof sy net met mý gepraat het.

“Het jy ’n droom, maar jy weet nie hoe om daar uit te kom nie?” Jip.

“Voel dit of jou lewe nêrens heengaan nie?” Ja.

“Is jou emosies besig om jou onder te kry?” Beslis.

Die tema van elke preek was asof spesiaal op my gerig. Só het my manier van dink stadigaan verander.

Hierdie is net ’n seisoen, het ek besef. Dis waar die Here my nóú wil hê.

’n Manier om my te leer om vas te byt, geduldig te wees en op die groter prentjie te vertrou.

Dit het my ook tot die besef gebring dat ek nog altyd eendimensioneel in my geloof was. Ek het die lewe net vanuit een hoek bekyk en beleef. My worsteling en frustrasie het egter die geleentheid geskep om my geloof, en perspektief, dieper en wyer te laat groei.

Alles waarmee ek gesukkel het, het anders begin lyk. Ons almal het spesifieke areas in ons lewe waar ons kleitrap.

In my geval is dit my emosies wat maklik met my op hol gaan. My eiewaarde wat ek op verkeerde plekke en in verkeerde dinge gaan soek. En onderskeidingsvermoë – om te weet wie om te vertrou en wie nie.

In sulke tye het Joyce se stem opnuut in my hart weerklink: “It’s not all about you”. Dit gaan nie net oor my en hoe ek dinge gedoen wil hê nie.

Toe ek eers leer om die selfsugtige eie ek uit die prentjie te haal en objektief na ’n situasie te kyk, om dinge in konteks te sien en te onderskei tussen waarheid en persepsie, het alles meteens anders begin lyk.

Hoe meer ek dit begin doen het, hoe makliker het dit geraak om nie so kleinlik op te tree nie.

Ek moes dit ook ten opsigte van my gebrek aan eiewaarde doen. Dit help nie om jou waarde te soek in dinge of mense, suksesse of prestasies nie. Jy gaan elke keer teleurgesteld wees.

My waarde as mens is net te vinde in wat Hy van my dink en sê. Ek moes leer om my omstandighede te aanvaar en te vertrou dat dit deel is van die groter prentjie om my te vorm en skaaf vir wat voorlê.

Ook wat onderskeidingsvermoë betref, moes ek nuut leer dink. Wanneer is ’n ding bedoel vir my en wanneer nie? Wie kan ek vertrou en wie nie?

Ek het ontdek die antwoord lê in stil raak en diep luister. Om die vrede in my hart as ’n maatstaf te gebruik en nie meer my eie kop te volg nie.

Om skuldig te voel oor foute in die verlede is tydmors. In my jare se onsekerheid het ek baie dinge verkeerd hanteer.

My emosionele uitbarstings, die wroeging, die depressie, die vrae … dit was heeltemal onnodig. Dit het my in ’n nuwe groef laat verval waar ek skuldig gevoel het en vasgehaak het by wat ek nié moes doen nie.

Dankie vir die genade dat dit ook verander het.

’n Sagte kant. Dís wat ek intussen van die Here ontdek het, iets waarvan ek nie vroeër bewus was nie. Ek het gedink ek moes net heeltyd werk aan die goed waaraan ek moes verander. Maar eintlik is daar ook baie genade.

By die lees van die boek Unmerited Favor het ek besef dat Jesus juis aarde toe gekom het om vir my te sterf sodat ek nie meer veroordeel hoef te voel nie. Oor niks. Nie die foute in my verlede of my tekortkominge nie. Dis verby. Elke dag is ’n nuwe begin.

Daar was al tye dat ek net nie die krag gehad het om te bid of die Bybel te lees nie, en dan het ek vreeslik skuldig gevoel.

Dis oukei, weet ek nou. Hy verstaan my omstandighede en ken my hart.

Ek hoef nie myself heeltyd te verduidelik nie. Ook nie vir ’n lat uit die hemel te koes of krom onder skuldgevoel te staan nie. Dis alles verdraaide, mensgemaakte persepsies.

Hierdie besef het my denke handomkeer verander. Omdat die gevoel dat ek heeltyd geoordeel word, nou weg is, is alles makliker. Dis nou uit liefde, nie skuldgevoel nie, dat ek meer tyd aan hierdie verhouding wil bestee. En as dit nie gebeur nie, is dit ook nie meer die einde van my wêreld nie. Dan doen ek dit volgende keer.

Om genade te ontvang en uit te deel het nuwe betekenis gekry … iets wat ek vorentoe nodig sou hê.

Vorige artikelLeandie: ‘Net jý kan jou magic leef’
Volgende artikel[VIDEO] Probeer die ‘minder is meer’- oefenbeginsel