Demi–Leigh Tebow: “Ek werk hard, maar God maak drome waar”

162

Demi–Leigh Tebow het geleer dat stereotipes afgebreek word deur net jouself te wees. Sy wil vir jongmense wys dat niemand perfek hoef te wees nie. Elkeen is spesiaal en uniek. Vir haar is wat God dink die belangrikste, ongeag mense se kritiek. Bring jou kant en hy maak sukses moontlik.

Mense het my nog altyd in die skoonheidskoningin-boksie geplaas. Dit het gevoel of die indruk bestaan dat ek slegs ’n mooi gesiggie is wat pragtige rokkies dra. En nie eintlik baie slim is nie. Vooropgestelde idees kan misleidend wees.

Soms kyk ons na bekende mense en stereotipeer hulle as byvoorbeeld ’n tipiese rugbyspeler of aktrise. Dan beland jy self in die kollig en beleef hoe ander jóú ook so sien. Dan word jy heelwat versigtiger om sommer net ’n opinie oor iemand te vorm. Jy moet hulle eers self van naderby leer ken.

As mense sê dat hulle idee dat ek snobisties gaan wees, heeltemal verkeerd was, laat dit my hart warm klop.

Dit is belangrik dat jong meisies uit my optrede en houding iets sal kry waarmee hulle wil identifiseer. Dalk omdat hulle iets van hulleself raaksien.

Om te kom waar ek vandag is, het harde werk en deursettingsvermoë gekos. Met tye moes pret en plesier selfs op die agtergrond geskuif word vir fokus op die regte doelwitte. Dit was nie altyd maklik nie, omdat almal dit nie verstaan het nie.

Dit was dus van jongs af belangrik om te weet waarheen my eie doelwitte en drome sou gaan. As hierdie dinge reg is, kan niemand se negatiewe persepsie of kommentaar jou ontstel of seermaak nie.

’n Hoogtepunt as kind was om saam met my ma na die jaarlikse kroning van Suid-Afrika se mooiste te kyk.

Met glinsterende oë het ek die aand op die televisie gesien hoe Cindy Nell gekroon is. Sy was perfek, ’n rolmodel, iemand soos wie ek graag wou wees.

’n Vriend het my later vir die Mej. Varsity Cup-kompetisie ingeskryf. Groot was ons almal se verbasing toe dié titel na my kant toe kom – asook die nasionale Mej. Varsity Cup-titel. Eers hier het die kompetisie vir Suid-Afrika se mooistes begin wink.

Om uit die poppieboksie te breek en almal verkeerd te bewys, het ek ’n propvol program op skool gehad.

My doelwitte was duidelik, anders as dié van baie ander jongmense van dieselfde ouderdom. Nie almal het hierdie ambisie verstaan nie. Met tye het dit selfs tot vyandigheid van ander meisies gelei.

Dit vat aan ’n mens. Dit was soms regtig moeilik. Tog leer jy jouself ken en beleef jy hoe jou karakter daardeur groei en gevorm word.

Dié ervaring het my heel moontlik meer empatie vir ander gegee. Ek het vroeg reeds geleer om gou te vergewe en aan te gaan.

As ’n mens dit nie doen nie, kan ander maklik jou positiwiteit en opgewondenheid oor die lewe begin steel.

Nie een van die vyandige meisies op skool het ooit om verskoning gevra vir hulle optrede nie.

Tog het sommige van hulle ná die kroning van Mej. Suid-Afrika boodskappe van gelukwensing gestuur. Hulle het gesê dat hulle trots is omdat hulle weet watter harde werk dit reeds van skooltyd af geverg het.

My pad kruis amper daagliks met honderde vroue wat gesellighede bywoon waar ek optree. Hierdie posisie vereis dat ’n mens druk en selfs kritiek met grasie moet kan hanteer.

Natuurlik moet ek op my beste lyk en optree. Soms moet ’n mens saam met ’n klomp vroue vir ’n foto poseer. Jy kry nie eens ’n vinnige pouse om badkamer toe te hardloop of iets te ete te kry nie.

Van hierdie vroue reis ver om dié geleenthede by te woon en my doelwit is dat hulle tevrede daar sal wegstap. Dit moet ’n goeie ervaring wees. Dis belangrik dat elke vrou sielskos moet kry wat sy saam met haar kan neem.

Onnodige kritiek maak seer, maar jy moet na jou eie hart gaan kyk. As jou bedoelings opreg was en jy ’n skoon gewete het, is daar niks om oor sleg te voel nie.

Ná die kroning het daar eendag iets gebeur wat ’n groot effek gehad het. Ek was op pad na ’n funksie toe, nie ver van die huis af nie.

By ’n verkeerslig het vyf mans na my motor toe aangestap gekom. Twee van hulle was aan die bestuurder se kant en twee aan die passasierskant. Hulle het aan die motorruite geklop en ’n vuurwapen op my gerig.

Ek was vasgevang in die verkeer, daar was nêrens om heen te vlug nie. Met ’n kloppende hart het ek die motor se deur oopgemaak en uitgeklim en terselfdertyd gevoel hoe die kaper my probeer terugdruk. Dit was ’n weerlose gevoel!

Gelukkig het die adrenalien en die ingeoefende kennis van hoe om sulke situasies te hanteer, oorgeneem. In Women Empowered is ons geleer om ’n aanvaller op die keel te slaan en dan te vlug. Dis presies wat gebeur het.

Wat skokkend was, is dat niemand wou help nie. Ná tevergeefse kloppe aan ’n klomp motorruite, was dit uiteindelik ’n meisie wat my opgelaai en na veiligheid gebring het.

Daardie dag het ons Vader my beskerm.

Te midde van die chaos het ’n kalmte op my neergedaal.

Drie veiligheidswagte wat op pad huis toe was en alles gesien het, het uit hulle taxi gespring en op die kapers toegeslaan. Die aanvallers het gevlug en my motor is teruggevind.

My verhouding met die Skepper speel ’n belangrike rol.

’n Mens kan nooit verwag om groot dinge te bereik sonder harde werk nie. Tog, as jy jou ure insit, kom Hy en sit wind in jou seile om die onmoontlike moontlik te maak.

Om as finalis in ons land se grootste skoonheidskompetisie gekies te word, was groot. Om te wen, was ’n wonderwerk!

Uiteindelik is wat Hy dink die belangrikste. Dis wat tel.

My ouers was nog altyd wonderlik.

Hulle het nooit druk uitgeoefen nie, maar was altyd baie ondersteunend. Hulle is my grootste ondersteuners en sal alles vir my prysgee.

As jong meisie was dit ’n groot skok om uit te vind dat my halfsuster, Franje, sonder ’n serebellum in haar brein gebore is.

Dit het ’n groot impak op ons almal se lewens gehad.

Sonder ’n serebellum het ’n mens geen spierfunksie nie. Franje kon dus nie eet, praat, regop sit, oogkontak maak of selfs jou hand vashou nie.

Om ’n gestremde in die huis te gehad het verander vir seker ’n mens se persepsie oor gestremde mense in die gemeenskap.

Daar is meer empatie en respek, ook vir die mense wat hulle versorg.

’n Mens aanvaar ook nie meer jou gesondheid en dat jy normaal kan funksioneer as vanselfsprekend nie.

Dit was maar moeilik om haar so te sien. Maar dit leer ’n mens ook om te waardeer wat jy het en die lewe met albei hande aan te gryp. Franje het my motiveer om elke dag voluit te leef en alles twee keer meer te geniet en te bereik.

Jy moet eers met jouself gelukkig wees voor jy kan verwag om geluk by iemand anders te kry.

My droom en gebed was om iemand te hê wat my visie vir die lewe deel.

Ek en Tim (Tebow) kan saam die lewe met albei hande aangryp, saam lag en herinneringe bou. Elke dag is ’n geskenk waarvoor ’n mens baie dankbaar moet wees.

As mense my vra om myself te beskryf, sal dit heel moontlik so klink: “The girl that went for it.” Iemand wat uitdagings met albei hande aanpak en nie verskonings gebruik vir hoekom dit nie gedoen kan word nie.

Ware geluk lê nie in iets wat jy bereik nie, dit gaan oor of jy gelukkig met jouself is of nie. Daar gaan natuurlik altyd mense wees wat jou stereotipeer of slegsê of nie van jou hou nie. Dit kom gewoonlik van mense wat ongelukkig is met hulleself.

My raad aan jong meisies is om ’n punt te bereik waar jy nie meer toelaat dat ander se opinies jou seermaak nie.

Vind uit wie jy is, want jy is meer spesiaal as wat jy dink.

As ek terugkyk, weet ek ’n mens moenie so streng met jouself wees nie. Leef in die oomblik. Wees teenwoordig hier en nou.

Die tyd gaan baie vinnig verby en as dit eers verlore is, is dit vir ewig verlore.

Beplan vir die toekoms, maar leef ook in die hede en leer om te ontspan.

Ek het al baie doelwitte bereik, maar dit het baie geverg. Soms het ek selfs onnodig baie pret verlore laat gaan omdat ek te gefokus was.

Vir die toekoms is daar heelwat drome en doelwitte, maar nou is my lewe gevul met geluk, tevredenheid en liefde.

As ’n mens te gedrewe raak, trap jy maklik in die strik waar niks ooit vir jou genoeg is nie.

Fokus op die klein dingetjies.

Uiteindelik is dit die belangrikste.

Vorige artikelLindie Strydom: “Moet nie dink my lewe is perfek nie”
Volgende artikelEenheid, ten spyte van verskille