“Ek is nie meer ’n slagoffer nie”

1083

JENNA–LEIGH BILONG moes al ’n paar keer vergewe om die plek van vryheid en geluk te bereik waar sy vandag is. Nou kan sy ander mense help met hulle seer, want haar raad kom uit die hart en uit haar eie negatiewe ervarings.

Die besluit om in ’n plakkerskamp te gaan bly het my meer empatie met mense gegee. As tiener wou ek graag iewers behoort. Omdat die vriende saam met wie ek gereeld gesing en musiek gemaak het, in ’n plakkerskamp gewoon het, is ek ook soontoe.

Dit het, vreemd genoeg, vir my ’n familiegevoel gegee. Almal daar het my aanvaar soos ek is. In ’n plakkerskamp leer ken jy egter ook gou die gevoel van hopeloosheid en die realiteit van armoede. Ek het baie mense ontmoet wat hard gewerk het om die beste van hulle situasie te maak.

Party huise was selfs netjieser as van die grootste mansions waarin ek al was! Tog was almal in dieselfde gevoel van bekommernis en magteloosheid vasgevang.

As ek vandag vir iemand raad gee, gebruik ek nie bloot boek- of kopkennis nie. My raad kom uit die hart omdat ek hierdie emosies al self beleef het. Ek weet wat dit verg om in moeilike omstandighede positief te bly. As my storie ander kan bemoedig en hoop gee, was die swaar tye die moeite werd.

My verlede het my sensitief gemaak vir hoe groot die Skepper se genade is. Ek weet hoe weerloos en eensaam ’n mens kan voel. Dit het ek uit my eie ervaring van huishoudelike geweld en huweliksontrou geleer!

Om as 20-jarige vrou agter die yskas weg te kruip om van die vuiste van iemand veel groter en sterker as jy weg te kom, laat jou ontsettend alleen voel.

Vir buitestanders is dit maklik om te sê: “Kom uit die huwelik. Los die man.” Só ’n situasie laat jou egter kragteloos en hopeloos voel. Waar kry jy die krag om op te staan as jou binneste uitmekaar geskeur word?

Die boeke wat beloof om jou binne 21 dae te help om totale genesing te beleef, klink dalk na ’n goeie idee. In die praktyk werk dit ongelukkig anders. Genesing neem tyd en vereis dat jy geduldig en eerlik met jouself moet wees.

Omdat traumatiese ervarings in ’n mens se onderbewussyn ingeëts is, het dit ’n invloed op jou verwagtings van toekomstige situasies. Ek moes ’n punt bereik waar ek my lewe kon oopmaak en “toestemming” gee dat Hy mag inkom om heel te maak wat stukkend was. Daarna kon ek anders oor die toekoms dink.

In die proses is daar ’n paar mense op my pad gestuur. Ed was een van hulle! Sy onvoorwaardelike liefde en omgee het my persepsie van die huwelik heeltemal verander en herstel. Hy het my kom wys wat liefde regtig is.

Ook die kerk het ’n groot rol gespeel om my te laat besef dat ons nie alleen en in isolasie deur die lewe kan gaan nie. As ons gesond wil word, het ons mekaar se ondersteuning nodig.

’n Mens wens mislukkings en moeilike tye maklik weg uit jou lewe. Dit was egter juis in hierdie tye dat ek die Een wat my geskep het, die beste leer ken het.

Al die slegte ervarings gee vandag baie skietgoed waarmee ek ander kan inspireer. Ek besef nou eers dat as ek terugkyk op die pad, ek nooit alleen was nie.

As jy ander nie kan vergewe nie, word jy self ’n gevangene. Dinge soos bitterheid, ’n swak selfbeeld en die vrees dat wat jy beleef het, weer sal gebeur, oorheers later jou lewe. Dít is alles neweprodukte van onvergewensgesindheid.

Daar is ’n manier om te sien of jy iemand werklik vergewe het. Dink hoe dit sal voel as jy hoor dat daardie persoon nou self swaarkry, misluk het of dat haar lewe uitmekaar val. As jy bly voel daaroor of jou daarin verlekker, is dit heel moontlik ’n teken dat jy haar nog nie heeltemal vrygespreek het nie!

Ná die skryf van my boek, Goedheid en Guns, het ek besef dat ek die mense wat my seergemaak het, moes vergewe. Indien nie, sou hulle aan my bly kleef. Dan sou ek hulle aanhoudend blameer vir die slegte dinge wat gebeur het.

Die ironie is, dit wat mense sê om jou seer te maak, sê meer oor hulle as oor jou. En jou besluit om hulle te vergewe sê meer oor wie jý is as oor wie hulle is.

Daar was baie meer laagtepunte as hoogtepunte wat tot my sukses vandag bygedra het. Dit maak die hoogtepunte net nog meer prominent!

In die mediabedryf is geloof soms al wat ’n mens regop hou. Daar is nie altyd genoeg geld nie. Ander kere is daar gerugte dat jou kontrak nie hernu gaan word nie en dan kou jy jou naels van spanning. Of die netwerkgeleenthede wat jy so seker was jy opgebou het, val eensklaps plat.

Hierdie soort dinge laat ’n mens maklik voel of jou hele lewe uitmekaar val. Dit kan nogal senutergend wees.

Ek probeer egter altyd onthou dat die Een wat my daar geplaas het waar ek nou is, my nie sal verlaat of in die steek sal laat nie.

Daar was natuurlik al geweldige druk om van my geloof af te sien. Toe ek pas in Johannesburg aangekom het, het prominente mense in die bedryf gevra hoe enige mens in hierdie “storie” kan glo.

Ek het selfs al gewonder of mense nie spesifiek gestuur is om te probeer om my te laat twyfel nie!

Daar was moeilike seisoene toe ek net glad nie geweet het watter kant toe nie. In daardie tye is my geloof beslis getoets, ja. Maar Hy was nog altyd daar en ek twyfel geensins dat dit vir die res van my lewe ook so sal wees nie.

Om van slagoffer tot oorwinnaar te beweeg was ’n doelbewuste besluit. Dit het beteken dat ek moes ophou om my pynlike verlede as ’n kruk te gebruik wanneer dinge nie reg uitgewerk het nie.

Ek het besef dat ek hierdie dinge eerder as materiaal moes begin sien waarmee ek ander mense kon inspireer. Vergifnis was vir my die kern in hierdie hele “oorskakelingsproses”. Wanneer ons begin om mense wat ons te na gekom het te vergewe, word dit makliker om ons blink toekoms tegemoet te stap.

Dit breek die houvas wat die seer op ons het. Buiten vir my verlede, moes ek ook leer om die geboelie in die mediabedryf te hanteer.

Party mense het gesê ek is te vet vir televisie. Ander het weer gemeen ek is ondergekwalifiseer. Party het my duidelik laat verstaan dat ek dankbaar behoort te wees vir waar ek is.

Sulke seermaakdinge vat nogal aan ’n mens se selfbeeld en jou geloof in jou eie vermoëns.

Met die hulp en krag van Bo kon ek egter die slagoffermentaliteit afskud. Die vryheid vandag is só oorweldigend dat dit my ongemaklik laat voel as iemand na my as ’n “slagoffer” verwys. Dit is net nie meer deel van wie ek is nie!

Geen loopbaan is heeltemal sonder uitdagings nie, maar probleme maak jou sterker. Deursettingsvermoë was van kleins af deel van my.

Ek het matriek op 15 geslaag en op 19 as ’n rubriekskrywer vir die plaaslike koerant begin werk. Op 23 is ek as ’n nasionale radio-omroeper aangestel en op 24-jarige ouderdom het ek as nuusleser op kykNET en kykNET & kie begin werk.

Daar was maar altyd uitdagings. Ek het nie eens genoeg geld gehad om by Magdaleen Kruger in Seepunt uit te kom vir die onderhoud as omroeper by RSG nie!

As radio-omroeper en televisie-nuusleser moes ek al baie kritiek hanteer. Dit was moeilik, maar dit was beslis nie die ergste wat al gebeur het nie.

My grootste uitdaging is nog steeds om my geloof te behou in ’n bedryf waar mense glo dat daar nie ’n plek vir geloof is nie. Dis ook nie lekker om al die verkeerde dinge te sien wat gebeur nie.

Meisies wat hulle skoonheid gebruik om bo uit te kom. Of mense wat hulle netwerk gebruik om op televisie te kom. Gelukkig is daar mense wat kies om nie deur die sisteem meegesleur te word nie, maar om op Goddelike beginsels te bly staan.

Al is dit soms moeilik, glo ek dat die Een wat my geplaas het waar ek vandag is, my platform sal beskerm en seën solank as wat Hy my daar nodig het.

Die kykers en luisteraars se positiewe terugvoer maak my bewus van hoe ek lewens beïnvloed. My ondersteuners en aanhangers help regtig baie om te herinner dat dit wat ek doen, tog ’n verskil maak. Dat my klein bydrae ander kan inspireer en motiveer.

As ek terugkyk, weet ek dat alles tog die moeite werd was. Vandag kan ek ander mense deur hulle seer help, want ek was self daar. Wat ’n voorreg!

Vorige artikelLoof Hom in krisistye
Volgende artikel[VIDEO] Is jy realisties of negatief? [Reeks 1 Nommer 10]