Om ’n verskil te maak met min

1411

RENATA VAN DER MERWE vertel hoe die onmoontlike vir haar moontlik geword het. Sy is iemand wat weier om op te gee en haar bietjie het in meer as genoeg verander.

Begin jou oggend met Dagbreek op Radio Namakwaland. Ons gesels met Renata van Kruispad.” So begin baie van my oggende. Soms voel dit steeds of ek droom.

Wie sou ooit kon raai dat ek, ’n regte tekkie-en-denim-meisiekind van Ceres, die selfvertroue sou hê om mense te inspireer.

Dit het alles met my man, Gerjo Ben, begin. Hy het sy dagstukkies met ander begin deel. Uit die aard van my opleiding as maatskaplike werker het ek hom met die terugskryf van e-posse gehelp.

Ons het lank kopgekrap. Ons het besluit om uit die korporatiewe wêreld te bedank en ons droom te leef … die streslys was lank. “Dalk was dit ’n moewiese fout,” het my man getwyfel.

Boonop het die duiwel baie klippe in ons pad gerol. Die dankbaarheid in die e-posse het egter harder as die onsekerheid oor die toekoms gepraat.

Eers was ek sprakeloos … alles het tog in plek begin val!

Kruispad is beslis nie ’n nou-daar-en-môre-klaar-besigheid nie … dis ’n daaglikse verantwoordelikheid. Navorsing, voorbereiding en redigering hou my lekker besig.

Ons hele huis en gespuis droom en werk saam. Om byvoorbeeld ’n suksesvolle aand vir 600 mense te reël, toets nie net ons geduld nie, maar ook ons interafhanklikheid.

Die ontploffing van ons lesersgetal bly fantasties. Om elke oggend dankbaar wakker te word en te weet ons opofferings was die moeite werd, is ’n gevoel uit die buitenste ruim. Om mense in vandag se woorde via die internet en sosiale media aan te vuur, bly vir my verskriklik lekker, maar dit gaan oor meer. Om saam met ’n span mense te werk wat dieselfde passie deel, is lonend, maar om saam ’n verskil te maak, is onbeskryflik.

Ons hoor so baie van ander se nood en wil graag help, maar wat het ons regtig om te gee? Wat kan ek regtig doen? Is ek waardig genoeg?

Dié twyfeling het my aan die storie oor die vyf broodjies en twee vissies laat dink. Dit het my geleer dat my bietjie meer as genoeg is.

My twyfel het soos sand in die woestyn verdwyn en vandag span ek al my talente in.

Mense praat mos deesdae met hulle vingers en hoor met hulle oë. Ons verstaan hulle taal … praat hulle taal en só bereik ons duisende.

En ons gaan nie stop nie! Ons het ’n verantwoordelikheid. Met ’n pad wat in die kollig gegooi word, kan ons net aanhou loop.

Dit sal vir my ook ’n lekkerte wees om weer ’n boek te skryf. Ek skrik nie meer vir uitdagings nie. Ek twyfel nie meer nie. Ek druk deur. My klein bietjie kan vir ander ’n oorvloed beteken.