Rozanne McKenzie: “Die storms is nou verby”

81

Rozanne mckenzie weet dat god haar anker in elke stormgety is. sonder sy lig om die donkerte te verlig, kon verkeerde keuses haar lewe anders laat verloop het. vandag, deur die storm van postnatale depressie en anderkant uit, voel sy weer haar ou self. vreugdevol, spontaan en energiek.

“Waarmee kan ek jou he…?” Die dokter kon nie eens haar sin klaarmaak nie, toe stroom my trane al. Daardie dag is nog so helder in my gedagtes soos gister. Die huil het van diep binne losgebreek, die sluise wawyd oop.

Die minute het verbygetik. Sy het haar pasiënt laat begaan … en ek het laat waai. Sonder ophou gehuil.

Hoe verander ’n mens van ’n spontane, borrelende persoon in ’n wanhopige stuk hartseer – en dit in ’n lewensfase waar jy veronderstel is om sielsgelukkig te wees?

Moeg, depressief en bitterlik kwaad. Dis al wat hier binne oorgebly het. Die woede wat swaar op my bors kom lê het, het elke stukkie lewensvreugde uitgepers.

Die situasie was heeltemal oorweldigend. Dit het my vasgekeer laat voel, toegesluit in ’n tronk van omstandighede buite enigeen se beheer. Die toekoms vaal en uitsigloos.

Toe die trane uiteindelik klaar gestort is, kon die stormgedagtes woorde word.

Die dokter het rustig enduit geluister, en toe met groot simpatie geantwoord: “Rozanne, dit gebeur met baie ma’s.” Selfs al was die geboorte en swangerskap ook hoe mooi en sonder probleme, is woede een van die algemene simptome. “Daar is hulp.”

Postnatale depressie. Niemand praat ooit daaroor nie. En dit laat ’n mens nog meer geïsoleerd en soos ’n mislukking voel.

Dit was asof ek die enigste ma op hierdie aardbol was wat gespartel het met emosies van wrewel en ontoereikendheid. Die enigste een wie se kind, wat veronderstel was om rustig en gesus by my te voel, glad nie die troos kon kry waarna sy gesmag het nie.

Ek het bly wonder: Gaan hierdie baba ooit weet ek het haar lief? So tussen my hartseer en eie trane deur?

Wat ’n verligting was dit om te hoor dat daar ander vroue was wat soos ek gevoel het.

Diep asemhaal. ’n Sweempie hoop. Die eerste skrefie lig het in die donkerte begin skyn.

Terugskouend was daar ’n paar dinge wat daardie dag in die spreekkamer heeltemal anders kon laat verloop het. ’n Paar ander keuses sou my lewe dalk totaal en al laat ontspoor het.

Dank die Here dat Hy dáár was, in die oomblikke toe ek Hom die nodigste gehad het.

Ek was vir jare ’n partytjiemens. Hard gewerk in die week tot Saterdagaande toe. Dan was dit tyd vir skoene uitskop en ontspan. Uiteet saam met my man, Chris. ’n Paar drankies saam met vriende. Lag en kuier tot die hane kraai.

Elke Sondagoggend was ook dieselfde. Babelaas. Daardie wakkerskrik in ’n waas met ’n kloppende hoofpyn. Moeg en sat, nog voor die nuwe week begin het. Een so oggend het ek so verslaap dat ek ’n baie spesiale oomblik op radio gemis het.

Jakaranda FM het vir elkeen van ons omroepers die kans gegee om in ’n program (wat gelukkig vooraf opgeneem is) ons gunstelinghoërskooltreffers met die publiek te deel.

Hierdie oggend was dit my liedjies se beurt. Ek het so daarna uitgesien om saam met die luisteraars na my skooljare teruggevoer te word.

Maar toe mis ek dit … omdat ek die vorige aand te veel gekuier het en nie betyds kon wakker word nie!

Die teleurstelling was verskriklik, veral omdat stiptelikheid en om altyd goed voorbereid te wees van my persoonlike sterk punte is.

En hier word ek deur my eie agterlosigheid, en te veel alkohol, uitgeboul. “Vir iemand wat so baie daarvan hou om in beheer te wees – en wat boonop gesondheidsbewus is – het jy maar bitter min balans in jou lewe,” het die selfberisping in my kop weerklink.

Genoeg is genoeg!

Dit was kort voor die feestyd. Tyd om ’n “droë Desember” uit te toets. Geen alkohol in die maand van vakansie en feesvier nie.

“As jy hierdeur kan kom, sal jy enigiets kan baasraak,” het ek nogal gedink. Hoe waar sou hierdie woorde nie word nie.

Dalk sou dié gesondheidsbesluit my kon help om weer swanger te raak. Ons het toe al vir geruime tyd tevergeefs probeer vir ’n tweede kind.

Daar was baie partytjies, afskeidsfunksies, hope versoekings … maar die vasberadenheid om by my voorneme te hou, het telkens gewen. En toe ons weer sien, was die swangerskapstoets positief. Die lewe was ’n lied!

Fallon het haar opwagting gemaak, en ek was steeds alkoholvry.

Aan die begin is alle babas mos stroopsoet. Drink en slaap soos ’n droom, maar op ’n dag het sy net uit die bloute losgetrek en begin skree. Paniek!

Dae het weke en later maande geword. En ek ’n wrak. Iemand wat in ontkenning begin leef het. Te bang om hulp te vra.

Daar was ’n ellelange lys van besware. “Sê nou hulle sit my op pille wat my in ’n zombie verander … en dan volg verslawing … weg is my persoonlikheid … en daarmee saam ook die werk waarvoor ek so lief is.”

Dit het gevoel asof die lewe besig was om tussen my vingers deur te glip. En daarmee saam die vreugde, passie en energie wat my gemaak het wie ek is.

In hierdie stikdonker tyd van my lewe het ek baie met Hom gepraat. Gevra vir hulp. Gesmeek vir ’n uitkoms. En toe gebeur dit op ’n tyd en plek – op my laagste laagtepunt – toe ek dit die minste verwag is.

Die maklike uitweg uit hierdie gat sou wees om weer in ou patrone te verval. Om net weer ’n drankie of twee (of drie) te geniet. Alkohol is mos ’n vinnige manier van ontspan. ’n Maklike uitweg om vrolik te voel, al is die wêreld besig om rondom jou te verkrummel.

Met ’n moeilike baba op die heup, ’n kleuter aan die hand, ’n voldagwerk en oë wat skaars kon oopbly, het hierdie gedagte ’n paar keer desperaat teen die deur van my hart kom aanklop.

Maar met genade van Bo was die besef ook elke keer daar: “As jy nóú toegee, Rozanne, as jy nou begin drink, gaan jy waarskynlik nooit weer ophou nie.”

Drank was nie voorheen ’n groot probleem in my lewe nie, maar dit het die potensiaal gehad om een te word. ’n Kruk wat met tyd baie moeilik sou wees om van ontslae te raak.

Die verlies sou onberekenbaar groot gewees het. Chris, my kinders, werk, geloof … elke kosbare verhouding sou daardeur geraak en vernietig word.

Vandag dank ek die Here vir die nugterheid om dit te kon insien. Vir die krag om diep geanker te kon bly, al het die woeste branders gedreig om my stukkend te slaan.

Die sterk fondasie van geloof is vroeg reeds gelê.

Dit het my keuses in ’n bepaalde rigting gelei. Maar op universiteit het die vrae oor sekere mensgemaakte reëls te groot geword vir die antwoorde wat ek gekry en soms nie gekry het nie.

Dit het my van die kerk begin vervreem, maar nie van die Here nie. Hy was steeds in my hart, deel van my lewe, maar ’n ware tuiste om te aanbid het ontbreek.

Ek het my geloofskeerpunt stelselmatig bereik toe ek ’n ma geword het.

Om vir James en Fallon dieselfde stewige fondasie van geloof te gee het my hartsbegeerte geword. Ek wil hulle baie graag ’n anker gee om eendag koersvas op hulle lewenspad te bly, selfs al kom daar soms vrae en afdraaipaaie.

Hoe ouer die kinders raak, hoe groter is die bewuswording van hoe graag ek wil hê dat hulle ook ’n lewende verhouding met die Here moet bou. Om in ’n plek van aanbidding, saam met ander gelowiges, die Here te loof en te prys.

Dis ’n groot gemis, daarom is ek tans in die proses om weer na ’n kerk te soek. ’n Geestelike tuiste wat opnuut struktuur aan my geloof kan gee – en daardeur ook aan die kinders.

Die wasigheid van ’n Sondagoggend is iets wat ek nooit sal mis nie. Dis baie lekkerder om verfris wakker te word. Dis selfs asof die kinders nie meer so stout is nie. Alles is nou beter en makliker om te hanteer.

Daar is ’n paar belangrike lesse wat ek uit my donker tyd geleer het: Geloof gaan jou deur die moeilike tyd dra. Hou vas daaraan, die antwoorde gaan wel kom.

Maar die antwoorde kom nie altyd hoe en wanneer ons dit verwag nie. Jy moet ontvanklik wees daarvoor. Oop om die antwoord te omarm en te aanvaar wanneer dit wel opdaag.

Dit was moeilik vir my. Vir lank kon ek net die donkerte sien. Wanhopig ruk en pluk aan die kettings wat my gevange gehou het. Maar toe ek begin oopmaak vir die Lig – erken het dat hulp nodig was – het dit die donkerte begin verdryf.

In my geval was mediese hulp – die kundigheid van ’n dokter – God se manier om uitkoms te gee.

Dit het my nié in ’n zombie verander nie, nié verslaaf gemaak of van my persoonlikheid beroof nie.

Dit het eerder gehelp om op ’n verantwoordelike manier, en sonder die kruk van alkohol, weer my ou self te word.

Vandag kom ek sonder medikasie klaar en is dankbaar vir elke oomblik – goed en sleg – wat gehelp het om weer vorm en fokus aan my geloof en menswees te gee.

Ek weet ook: ’n Mens is nooit alleen nie. Selfs al voel dit so. Daar is Iemand wat jou raaksien, wat omgee vir die mens wat jy is en die bydrae wat jy in hierdie wêreld kan lewer.

My roeping is om stories te vertel. Ook my eie storie, sodat dit ander hoop kan gee en kan bemoedig. Die beste raad? Moenie opgee nie. Gee oor. Maak oop vir sy lig, sodat jy ten spyte van die donker, steeds by jou beste self kan uitkom.

Vorige artikel[VIDEO] Dis gesond om hardop te lag
Volgende artikelGelowiges moet as één funksioneer