Kry jou krag by God om dapper te wees

279

Jou teenstander én jou oorwinning is albei binne-in jou gesetel. Net jy kan jouself, jou situasie en jou emosies bemeester. God gee jou die krag en waagmoed, maar jy moet jou lewe met geesdrif en dapperheid leef.

Ek wil vir jou van dokter Glenn Cunningham vertel. As agtjarige het hy die taak gehad om elke oggend voor skool ’n vuur aan te steek om die klaskamers te verhit.

As gevolg van iemand anders se nalatigheid het ’n brand uitgebreek. ’n Bewustelose Glenn is uit die brandende gebou gered en na ’n nabygeleë hospitaal gebring. Die dokters het vir die ergste gevrees.

Glenn het wel oorleef, maar as gevolg van ernstige brandwonde aan sy onderlyf was hy in ’n rolstoel gekluister. Maar hy het nooit moed verloor nie. Daagliks, vir maande aaneen, het hy homself uit sy rolstoel gegooi en hom teen ’n heining opgesleep. Hy het dit as steunpilaar gebruik om weer te leer loop.

Sy deursettingsvermoë het vrugte afgewerp. In Februarie 1934 het hy by Madison Square Garden die myl in vier minute en 8 sekondes gehardloop. Die wêreld se vinnigste binnenshuise myl!

Nie alles in jou lewe gaan moeiteloos of seepglad verloop nie. Omdat jy ’n kind van God is, verwag jy dit dalk. Maar dit is nie so maklik nie. God sal altyd aan jou sy wees, maar jy gaan ywer en vasberadenheid moet hê. Dit gaan jou uitkoms bepaal.

– KARIEN BASSON, redakteur Vroue wat Glo

Vorige artikel[PODSENDING] Hoe om ’n zero–begroting te bestuur
Volgende artikelStephanie Baartman: “God laat niks sonder rede gebeur nie”