Chantelle Rudman: “’n Kar ry my flenters en vat my loopbaan weg”

121
hoopstories

My hart klop in my keel toe die maatskaplike werker die nuus oordra. “Jammer, Chantelle, maar jy’s nie meer in staat om polisiewerk te doen nie.”

Skielik oorval die woede, hartseer en teleurstelling waarmee ek al vyf jaar worstel, my van voor af. Hoekom moes die ongeluk gebeur? Hoekom moes dit ék wees?

Die aand van die ongeluk is ek uitgeroep om te help met ’n padblokkade. Dit was reeds donker toe ons die motors begin aftrek. Ek het by ’n motoris se venster gestaan toe almal skielik uit die pad spring. Almal, behalwe ek, sien die kar wat teen volle vaart deur die versperrings jaag.

Die impak laat my 14 meter deur die lug trek voor my agterkop die teerpad tref. My oor bars oop. My skedel breek.

Toe ek wakker word, is die “ou Chantelle” weg. Letterlik. Die impak teen my agterkop het my brein aan die voorkant van my skedel beskadig – daardie deel wat jou persoonlikheid, emosies, spraak, smaak, reuk en sosiale gedrag beheer.

Van die stil introvert wat ek voorheen was, is daar geen teken meer nie. Ek is aggressief en luidrugtig, soos ’n kleuter wat in ’n grootmens se lyf vasgevang is. Ek sê en doen nét wat ek wil.

Gelukkig vind hulle dit maklik om hierdie “aweregse kleuter” in die rehabilitasiesentrum te laat opneem – die plek waar ek weer moet leer loop, eet, reg praat en my emosies en impulse beheer.

Teen die tyd dat ek ontslaan word, en in die maande daarna, kan die dokters nie glo watter goeie vordering ek maak nie.

Selfs toe ek later medies ongeskik verklaar word om gewone polisiewerk te doen, is daar nuwe uitdagings wat wink. Soos om die Ironman-wedloop in 2008 te voltooi. Vir die dokters wat my behandel het, is my toestand vandag ’n wonderwerk.

As ek moet terugdink, het ek baie verloor. Vóór die ongeluk was ek ’n bondel energie. Skrander. ’n Uitstekende sportvrou.

Maar ná die ongeluk het ek net soveel meer bygekry. In baie opsigte is ek ’n beter mens as vroeër. Ek het ’n sterker band met God. Ek het waardering vir die lewe.

Weens my beserings sal ek nooit so ’n goeie sportvrou soos voorheen wees nie, maar ek deins nie terug vir “onmoontlike” uitdagings nie.

En die beste van alles? Die ongeluk se impak op my brein het my van ’n introvert wat maar min vir ander omgegee het, in ’n ekstrovert verander. Sommer net so, oornag.

Nou kan ek nie ophou praat en uitreik na ander nie. Ek kan nie ophou om mense te wil help, na hulle te luister of om hulle gelukkig te wil sien nie. Vir my is dít die grootste beloning vir alles wat ek verloor het.

– Chantelle Rudman, berader by LifeLine

Vorige artikelWat die Bybel sê oor… swaar tye
Volgende artikelHou jou gesin emosioneel en fisiek veilig