Cheré King-Marais: “Ek kon my kind nie red van verslawing nie”

78

’n Kind wat verslaaf is, betrokke in ’n erge motorongeluk of wanneer dobbel jou baas is  Moenie moed opgee nie, jy sál anderkant uitkom want Hy dra jou, getuig gewone, onbekende mense én bekendes!

“Ek kon my kind nie red van verslawing nie”

Op dieselfde erf was ons al twee besig met dieselfde onheil. My tienerdogter Ashleigh in die buitekamer saam met haar pêlle en ek binne saam met my tik-vriende. Ons het dieselfde verskaffers gebruik, maar nooit saam tik gerook of openlik daaroor gepraat nie. Ons was te skaam.

Tik het my gevoelens, maar ook my gewete, verdoof. Dit is wat dwelms aan jou doen. Dit raak jou god. Jy gaan dood in jouself. Jy weet nie wie jy is nie. Dit gaan op die ou einde net oor jou dwelmbehoeftes.

Ek het geweet sy gaan deur dieselfde pyn en vrees, maar ek het nie omgegee nie.

Ná die dertiende keer wat ek my lewe wou neem, het ek ingestem om hulp te kry. Ek is na ’n veiligheidshuis, House of Hope, gebring.

Daarna wou Ashleigh net altyd weet: “Is Mamma al gesond?” Hierdie klein mensie wou my help en my beskerm. Genadiglik is sy in dié tyd ook gespeen van haar verslawing.

Ashleigh het aan ’n oorerflike niersiekte gely. Ons het haar op agt jaar vir dié siekte laat toets. Die uitslag was negatief en toe toets ons nie weer nie.

Die dwelmmisbruik het die siekte weer aangewakker. Haar hart was vier keer groter as normaal. Sy het begin agteruitgaan en was net vel en been.

Gelukkig kon ek myself teen hierdie tyd begin vergewe vir die slegte ma wat ek was.

My moedersinstink het vir die eerste keer ingeskop. My hele wese het daarna gesmag om my kind gesond te sien.

Ek het haar in my arms vasgehou en die enigste reddingstou was gebed. Ek het haar ook om verskoning gevra. Sy was so ’n wonderlike kind. Sy het my vergewe en haar woorde was: “Mamma is gesond en ek is so trots op Mamma.”

Selfs as ons vroeër hiervan geweet het, sou niemand regtig iets vir haar kon doen nie. Ek dink die Here het vir ons die ekstra tyd gegee sodat ons hierdie gebroke verhouding kon herstel.

Nou kon ek haar ten minste vir die eerste keer vertel hoe lief ek vir haar was.

Die nag voor haar dood was sy rustig. Sy het ons vertel van ’n droom waar die Here haar gewys het dat Hy haar binnekort kom haal.

Ons het soveel tyd gemors. Tyd wat ek nooit kan terugkry nie. My kind het net sekuriteit en liefde gesoek. Vandag weet ek ek was wel in haar laaste jaar daar vir haar.

Ek ken die plek waar niks sin maak nie. Maar ek weet ook my Ashleigh wou veg, ten spyte van haar pyn. En die rede waarom sy bereid was om aan te hou veg, was net om haar ma gelukkig te sien met die lewe.

–CHERÉ KING-MARAIS