“Die Karoo help my om my verlede te verwerk”

38

Ons water was min, ons arms seer gebrand en voete gaar. Geen ander stappers in sig nie. Net ek en Mariëtte en die oorverdowende stilte van die Karoo. Vuil en seer het ek opgekyk en my pyn aan God geskreeu: “Ek sal nie aanvaar dat U van my vergeet het nie. Ek sal aanhou, en aanhou ..!”

Ná die verlies van drie ouers in een jaar, het my man sy werk verloor. Hoe moet ons elke dag opstaan? Behoorlik asemhaal? Alles was net te seer. Maar ons is nog hier. Ek is nog hier. Want in die Karoo het ek my Skepper ontmoet.

Op ’n Oujaarsaand het ek en twee vriendinne besluit om die Tankwa Camino in die Karoo te gaan stap. Ons was al drie stukkend. Ons harte leeg.

Halsoorkop het ons die deposito betaal en begin voorberei vir die 250 km wat ons oor tien dae sou stap.

Haar ma is ongelukkig drie dae voor die staptog oorlede en Terri kon nie saamgaan nie.

Die roete strek van Calvinia tot by Ceres. Ná die eerste paar kilometer op teer het ons op ’n grys, droë grondpad afgedraai. Ons was op pad na ’n belewenis in die woestyn.

Al oefen jy hoe hard vooraf, is dit ’n uitdaging. Dis iets waaraan jou lyf nie gewoond is nie. Jou hart ook nie! Jy bak letterlik van onder en bo. Die organiseerders karwei jou bagasie en tent elke dag na ’n kampeerplek.

Saans wag die heerlikste kos vir jou, maar tent opslaan, uitpak en oorleef ná ’n dag se pyn is jou eie indaba.

Elkeen het ’n klip saamgevat en dinge daarop neergeskryf wat ons in die woestyn by ’n kruis op ’n heuwel wou gaan neersit. En ons hét toe klaargemaak.

Saam met tien volwaardige stempels in ons groen Karoo[1]paspoorte het ek en Mariëtte closure gekry oor die dinge wat ons gejaag het.

Ek het beter teruggekom.

Natuurlik bied elke dag terug in die gewone lewe nuwe uitdagings, maar ek sal aanhou om aan te hou. Dít is wat ek wil doen met wat God aan my gegee het. Ek het my klip neergesit. My ouers, my man se werksituasie …

My rugsak was daarna ligter, my gemoed ook.

Ek het nie verniet deur die Karoo geloop nie. My klip lê daar en ek gaan dit beslis nie weer haal nie! Al is dit op my knieë, bly ek staande deur genade, is ek weer bemagtig met hoop en gemotiveer deur liefde wat God in my hart geplant het.

– FELICIA LATEGAN, mediabestuurder

Vorige artikelEerste treë na gesondheid
Volgende artikelHou op tob en maak vrede met jou situasie