“Dien ander, maar bly glo in jouself”

81

Ons het baie tradisioneel grootgeword. “Ons is hier op aarde om God te dien”, het my ma my van kleins af geleer. “Jy moet goed wees vir ander, maar jy moet ook in jouself glo. Weet dat God altyd daar sal wees vir jou.”

Dit is dié wete wat my die moed gegee het om verder te gaan op die pad wat voor my uitgestrek het.

Ek het nie besef hoe groot die verwagtinge van my sou wees nie.

Hoe baie het ek nie na die glans-en-glorie-geleentheid op televisie gekyk sonder die geringste idee dat ek eendag op daardie selfde verhoog sou staan nie. Niks kan jou werklik voorberei vir wat op jou wag nie.

Toe ek genooi word om ’n oudisie te doen vir die televisiereeks Lied van die Lappop was ek só bly. “Here, dis wat ek wíl doen,” bid ek stil. “Dis my plan vir my lewe, maar ek weet nie of dit U plan is nie. As dit U wil is, laat dit asseblief gebeur.”

Ek kry ’n rol in die reeks. En daarna weer en weer. Genoeg vir my en my man om te besluit om Johannesburg toe te trek in die hoop dat daar meer geleenthede vir my sou wees.

Aanvanklik is die reaksie heel positief. “Jy was fabulous,” word ek verseker. “Presies waarna ons op soek is. Ons sal jou bel.” Ek loop op die wolke, gaan huis toe en wag vir die oproep.

Ek en manlief wag saam. Dag ná dag. Totdat ek besef daardie oproep gaan nooit kom nie.

Een van die ander meisies was toe ook fabulous en het die rol gekry.

Ek sluk swaar aan die teleurstelling. “Dalk het ons ’n fout gemaak om hiernatoe te kom,” sê ek vir my man. “Miskien moet ek maar weer vir Eskom gaan werk.”

Dan die onsekerheid. Het ek dan die Here se beloftes vir my verkeerd verstaan? Hier en daar doen ek oorklanking of stemwerk, maar dis nie genoeg nie.

My man is my steunpilaar en ek weet ek sal net weer moet opstaan en aangaan. Weer probeer. Toneelspel en filmwerk is hierdie platskoenmeisie van Atlantis se passie, ek kan dit nie sommer so laat gaan nie.

Ek word gekies vir Vlug na Egipte en begin weer in myself glo. Terwyl ons in die Karoo skiet, praat die natuur opnuut met my. Die heuwels om my bekoor my.

Dis droog, die aarde is dor, maar selfs in sy dorheid is die natuur vir my mooi.

En weer besef ek: God is orals en sy heerlikheid en teenwoordigheid manifesteer op verskillende maniere. ’n Mens moet net dieper kyk. Geduldig wees. En die boodskap van geloof, hoop en liefde aan die wêreld uitdra.

– KEZIAH JOOSTE, aktrise en voormalige tweede prinses in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie

Vorige artikelStappe vir ’n gesonde leefstyl
Volgende artikel[VIDEO] Hoe om ’n zero–begroting te bestuur