Gelukkige gesinne is geestelik ingestel

66

Met sosiale media gemaklik op sy troon is die blootstelling en prioriteite van die gewone gesin onvergelykbaar met ’n gesin van die 1980’s. Dit is soos om appels en pere te vergelyk!

Sosiale media veroorsaak konstante persoonlike vergelyking, en gevoelens van minderwaardigheid en oppervlakkige fokus oorweldig ons.

Volgens navorsing spandeer tieners tot nege uur per dag op die internet en sosiale media. Genade, kan jy jou indink wat die wêreld jou kind alles wysmaak in daardie nege ure?

Duidelik kan ons nie dieselfde resep vir ’n gelukkige gesin volg as wat ons ’n dekade of twee terug gedoen het nie.

Ek mis nie soseer die dae van uitgedateerde ensiklopedieë deurblaai in die biblioteek nie. Maar as ek terugdink is ek is laggend dankbaar dat my ma ons verbied het om sekere TV-stories te kyk. En my ouers se woord was wet!

Wanneer Power Rangers se temaliedjie begin speel het, wou ek en my boetie gewoonlik ’n kans vat om te sien waaroor al die maatjies praat. Maar ma het eenvoudig ingeloop en die TV afgesit. Daar was ook nie selfone by die skool om verder te gaan ondersoek instel nie.

Daar was ’n balans waaraan ons blootgestel was. Dit is die groot ses- letter-geveg: balans. Om ’n balans te handhaaf waaraan ons op die regte ouderdom blootgestel kon word, was veel makliker sonder sosiale media.

Identiteit lê nie net in die uiterlike nie

Deur die dekades is die spreekwoordelike keeping up with the Joneses nog maar altyd ’n beslommernis van menswees.

Met die ewige teenwoordigheid van sosiale media in ons huise is ons konstant besig om onsself te vergelyk. Ons doen dit nie net met die Joneses nie, maar met die wêreld én sy kind.

Sosiale media het moderne mense se fokus op een faset van menswees gerig: die uiterlike en materialisme.

Daar is selfs diegene wat na ’n sewejarige “status-kind” se Gucci handsakkies en Chanel rokkies kyk en hulle eie klerekas daarmee vergelyk.

Dit is duidelik dat hier geen teken van balans is nie. Soveel aandag word op die uiterlike van hierdie kind geplaas dat haar hele identiteit in ’n klere-etiket gevestig is.

’n Gelukkige gesin weet hulle identiteit en waarde lê nie in hulle uiterlike nie. Ons uiterlike is slegs een deel van wie ons is.

Om geestelik te wees begin by die wete – belangriker nog – die verstaan dat ek nie my uiterlike is nie. Geestelike gesinne begryp dat ons uit liggaam, siel en gees bestaan.

’n Prentjie van ’n plaaseier herinner my aan menswees. Daar is soveel meer aan hierdie fyn, feilbare doppie as wat die oog sien.

Al is die plaaseier ook hoe groot en blink, as dit vrot is aan die binnekant is die eier se totale bestaan ’n mislukking. Hierdie eier se waarde lê ónder die dun doppie!

Die wêreld is behep met die uiterlike. Dit is dus van kardinale belang om as gesin mekaar te herinner dat ons waarde in ons gees en siel lê.

’n Gelukkiger jy begin by die keuse om jou fokus van die uiterlike na die innerlike te verskuif.

Bou standvastige gesinne deur liefde

In hierdie stukkende wêreld smag ons na liefde, sekuriteit, aanvaarding en ’n eie identiteit.

Die perfekte plan vir die huisgesin was ’n liefdevolle pa wat sy dogter vanaf ’n jong ouderdom haar unieke waarde leer. Haar standaarde vir toekomstige romantiese verhoudings is hoog omdat haar identiteit reeds by die huis gevestig is.

’n Pa leer vir sy seun dat respek die merker van ’n ware man is. In ’n ideale huisgesin is ’n ma wat weet hoe spesiaal sy is en ’n dogter wat haar ma se voorbeeld van selfvertroue volg. ’n Ma wat haar seun se lof besing met die talente waaroor hy beskik, en ’n verhouding gekenmerk deur oop kommunikasie.

Ouers sou as ’n span saamwerk om kinders te leer om dankbaarheid te koester. Om te weet liefde is ’n keuse – en nie net ’n gevoel nie – wat ’n mens daagliks maak. Ook dat die fisiese net nog ’n faset van menswees is.

Maar ons lewe in ’n gebroke wêreld met gebroke mense. Geestelike gesinne moet streef om op hierdie waardes, verhoudings en ideale in ons gesinne te fokus.

Om geestelik te groei verg skaafwerk

Die pad na geestelike groei begin wanneer ons leer om gebalanseerd te leef deur bewus te word van ons innerlike waarde. Dit waarop jy fokus gaan

jou of laat groei of vrot. Gesinne wat geestelik ingestel is, fokus om te werk aan die persoon wat my in die oë kyk wanneer ek voor die spieël staan.

Theodore Roosevelt het gesê: “Nothing in the world is worth having or worth doing unless it means effort, pain, difficulty …” Om ’n gelukkiger jy te wees of ’n gesin wat geestelik ingestel is te hê, gaan vir seker werk.

Kyk na klippies in ’n stroom. Hierdie klippies het ’n gladde oppervlakte en is soms koeëlrond. Hulle was eens net gewone stukkies klip, maar is gevorm deur jare se geslaan, gerol en gemaal in die water.

Kibbel in jou gesin, vorm mekaar. Al neem dit stamp en seerkry, is dit hoe ons groei. Wanneer ’n gesin saam geestelik groei, versterk dit die liefde, vreugde en vrede in die gesin.

Elke keer wanneer jy ’n appel, peer, mooi eier, kabbelende stroompie of ’n ronde klippie sien, mag jy herinner word dat jy meer is as jou uiterlike. Jy is liggaam, siel en gees!

– Melanie Jacobs