Hoe om ware geluk te vind

196

Hy vind vreugde in die gebooie van die Here … Hy is soos ’n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd (Psalm 1:2, 3).

Die meeste mense het ’n gesonde begeerte om gelukkig te wees. Die vraag is net: Wat maak ons regtig gelukkig? Oor eeue heen is “geluk” nagejaag en nagevors.

Van die uitgetrapte paadjies na geluk, is een vir ons vreemd

Geluk verskil vir ons almal. ’n Mens sou vele paadjies kon volg om dit te vind.

Geluk kan in julle huwelik of kinders lê, ’n posisie in jou beroep, of om gewild tussen vriende te wees. Dalk is geluk vir jou om gemaklik te leef en goeie gesondheid.

So ’n siening van geluk vra nogal iets. Jy moet ’n stewige beursie hê, asook genoeg oefen en slaap. Daarby moet jy ’n gesonde dieet volg. Jy moet ook genoeg tyd vir ontspanning en plesier inruim.

Sommige van ons dink ook dat geluk ’n mylpaal van drome en ideale is wat ons nog moet bereik. Dan is dit of geluk net so ’n rapsie buite bereik bly.

Dis amper soos ’n skoenlapper wat mooi fladder en op jou kom sit.

Sodra jou oog egter op die “besoekertjie” val, fladder dit weer weg. Dit het jou net weer ontglip.

Kenners sê dis hoekom geluk vir die meeste van ons skaars is. Dit bly ons ontwyk. Vir sommige is geluk eintlik niks meer nie as ’n lekker gevoel. Dis soos ’n vlietende emosie wat oor ’n mens spoel.

Geluk is dan om sjokolade te eet. Dis om jou kind vir die eerste keer in jou arms vas te hou. Geluk is om spontaan te kan lag en dans. Of dink aan daardie ekstase toe die Springbokke die Wêreldbeker-finaal wen.

Mense soek gedurig nuwe, méér en beter ervarings. Wie wil nie graag regtig gelukkig wees nie? Oor en oor misgis ons onsself. Geluk bly vir die meeste van ons net dít: iets waarna ons ons lewe lank soek. Dis ’n ideaal wat nie vervul kan word nie.

Lees ons God se Woord, besef ons vinnig iets oor geluk. Daar is nie soveel paadjies waarvan ons kan kies vir ware geluk nie. Om die waarheid te sê, is sake hier heel eenvoudig.

Vir die digter van Psalm 1 is die antwoord op ons soektog na geluk net een paadjie. Dit is om God met alles lief te hê en uit daardie verhouding vrugte te dra wat hou.

Jesus bevestig dit met sy “grootste gebod” en die “tweede wat hiermee gelykstaan” (Matt 22:37-39).

Hierdie pad klink vir ons vreemd. Dis beslis nie dieselfde geluk wat ons op sosiale media, in tydskrifte, of op Google vind nie. Dis ook nie wat ons in daaglikse gesels en kontak met mekaar sal teëkom nie.

Dié vreemde geluk laat jou méér huil, maar ook méér lag

Ware geluk gaan dus oor ’n lewe van liefde. Dit gaan oor die verhoudings waarin ek staan en die gemeenskap waarbinne ek leef.

Nou moet ek egter ook erken: om lief te wees is nie verniet die grootste gebod nie. Ek ervaar dit beslis ook as die moeilikste gebod. Liefde is nie net glansryk en mooi nie, dis ook ingewikkeld en morsig.

Daar is nie vinnige oplossings en maklike antwoorde by verhoudings nie. Nee, ek dink dis veel makliker om net vir jouself te leef en jouself te verryk.

Dis doodmaklik om net oor jouself bekommerd te wees en jou eie lewe te beheer. Só spring jy talle verantwoordelikhede, moeite en tyd vry – én natuurlik ook seerkry.

Tog hoor ek diep in my hart: “Wees nét lief, want dit bring ware geluk.” Ware geluk bestaan dus nie sonder swaarkry, stukkende harte, taai tye en seer emosies nie. Die feite is: Kies ons dié pad na geluk, kan ons dalk juis méér huil, maar ook méér lag.

Dalk lééf ons dan net werklik vir die eerste keer. Intens, doelbewus, met oorgawe en gevoel. Ek het ’n idee dis deel van die vreemde teenstelling van die evangelie wat ons moet snap.

Kies jy hierdie pad na geluk, is jy soos ’n boom wat langs sterk strome geplant is. Jy sal op die regte tyd vrugte dra. Jou blare sal nie uitdroog nie. Dis ’n belofte. Jy sal blom waar jy geplant is.

Ware geluk is nie om vas te klou nie – jy verloor jouself

Nou is die groot vraag: Watter pad na geluk kies ek? Een saak is wel seker: Jy hoef nie te voel geluk is nie vir jou beskore nie. Dis nie ’n hoë ideaal in die lewe wat jy nooit sal bereik of smaak nie.

Geluk is liefde wat jy lééf. Jy het dit reeds in jou. Dis reeds aan jou geskenk. Jy hoef jou nie moeg te soek na vlietende geluk wat jou bly ontglip nie. Telkens maak dit die gat in jou hart net nog groter.

Daar is net een ware pad na geluk. Daar is één volhoubare Hoofbron waaruit jy put en by Wie jy kan leer. Jesus ons Here het nie aan sy belange vasgeklou nie. Hy het niks teruggehou nie. Hy het nie gevat nie, net gegee (Filippense 2:6-9).

Ons Here het nie vasgehou nie, net laat gaan. Jesus het Homself volledig sonder voorwaardes gegee. Dit het Hom werklik gelukkig gemaak.

Wat is ’n gelukkige lewe? Dit gaan nie oor nóg meer bymekaarmaak of byvoeg, ervaar of bereik nie. Dit behels afsterf, laat gaan, verloor en ontslae raak.

Ja, dit gaan oor al die dinge waaraan ons so krampagtig vashou.

Ware geluk kom op één saak neer: Gee jouself.

– Meri Schoeman

Vorige artikel[VIDEO] Hou jou gesin emosioneel en fisiek veilig [Reeks 1 Nommer 10]
Volgende artikel[PODSENDING] Verouder met grasie in liggaam en siel