Jak de Priester: “Ek weet nou dat God bestaan”

109

Die hele huis is vol mense. Ek gaan sit langs Francois se bed. Die vorige dag het hy na ons geroep. “Skakel die lig af, asseblief,” het hy gevra. “Dit skyn in my oë.”

Maar dit was pikdonker in die kamer. Toe vertel hy ons van die mense wat hy om sy bed sien. Was dit dalk engele?

Terwyl ek daar langs my sterwende broer sit, vat ek sy hand. Hy weeg skaars 40 kg.

Toe druk hy my hand. Styf. Baie styf. Hy haal diep asem – en hou dit in.

So, dis dan die oomblik waarop ons gewag het, die oomblik wat ons gevrees het. Ek was agtien toe Francois die eerste keer siek geword het. Dis hý wat my van Parys af Pretoria toe neem om vir drama gekeur te word, want ek het nog nie ’n rybewys gehad nie.

“Ek wonder watse knop sit hier onder my arm?” vra hy daardie aand by die plek waar ons oorslaap. Ek voel daaraan en hy kry nogal seer.

’n Maand tevore het hy moesies op sy rug laat verwyder. Die toetse het wel gewys dat dit kwaadaardig was. Maar ons huisdokter het toe net dieper gesny met die hoop dat al die kwaad verwyder is.

Hierdie keer wys die toetse die teendeel. Francois het melanoomkanker wat al na sy kliere versprei het.

Ons het nooit daaroor gepraat dat hy moontlik kon sterf nie.

Vandag wens ek ons het oor die dood gesels. Kon ek maar net vir hom sê dat my hart seer was. En dat ek nie geweet het wat ek sonder hom sou doen nie.

’n Maand voor sy dood het Bon Jovi in Johannesburg opgetree. Francois sou saamgaan, maar hy was te swak.

Ná die konsert was daar ’n vuurwerkvertoning terwyl What a wonderful world in die agtergrond speel. Al waaraan ek kon dink was dat my broer siek by die huis lê.

Die aand ná sy dood het ek in my ma se motor geklim en ’n entjie gaan ry. Oor die radio het die liedjie What a wonderful world gespeel.

Daar was nog van sy studentegeld oor wat na my toe gekom het. Dit was net genoeg om ’n basiese klankstelsel te koop. Daardie luidsprekers en klankbord was vir my baie kosbaar. My eerste konserte is daarmee gedoen.

Die grootste geskenk wat ek deur Francois se dood gekry het, is die bevestiging van God se bestaan. Die tekens was duidelik. Die engele, die helder lig …

Ek wil graag glo dat hy van my sukses as sanger weet. En dat hy deel het daaraan.

– JAK DE PRIESTER, sanger

Vorige artikel[VIDEO] Benut jou bates vir groter finansiële voordeel
Volgende artikelOntwerp ’n droomkaart met spertye en doelwitte