Manie Jackson: “My ma se gebed red my lewe”

67

’n Kind wat verslaaf is, betrokke in ’n erge motorongeluk of wanneer dobbel jou baas is  Moenie moed opgee nie, jy sál anderkant uitkom want Hy dra jou, getuig gewone, onbekende mense én bekendes!

Manie Jackson: “My ma se gebed red my lewe”

Ek is laat en daar is net een uitweg: voet in die hoek. Die pad is donker en ons is moeg, maar daar is nie nou tyd vir rus nie.

My eksvrou se selfoon piep. ’n SMS van my ma. Sy lees dit hardop en ek glimlag.

Dis net weer ’n bevestiging dat Ma altyd op haar knieë bly vir haar kinders.

Skaars vyf minute later gebeur die ondenkbare. Uit die niet verskyn die buitelyne van ’n enorme vragmotor wat reg voor ons in die pad staan, sonder ligte of waarskuwingsdriehoeke.

Die opsies flits deur my kop: “As ek links draai, gaan ek by die brug afjaag.

As ek regs draai, gaan ek onder die vragmotor inry.”

Dis te laat om stadiger te ry. Te gevaarlik om links of regs te swenk. So, dít is dit. Hier kom die dood, dink ek.

Toe ons die vragmotor tref, voel ek hoe my knieë teen die instrumentpaneel voor my vasslaan.

Hoe my borsspiere skeur. Hoe fyn glasstukkies soos duisende spelde in my voorkop steek.

Noodpersoneel is binne minute op die toneel en almal skud kop oor die feit dat ons oorleef het. Trouens, ek het so “goed” daarvan afgekom dat ek die bloed afvee en aandring dat iemand my help om by die konsert uit te kom.

As ’n musikant wat nog oor bekendheid droom, kan ek dit nie bekostig om nié op te tree nie.

Laat ek dit nou maar erken: Ek is seker wat jy ’n mommy’s boy sou noem.

Van graad nege af was dit net ek en sy in die huis. Ek onthou hoe ek in graad tien saam met ’n vriend besluit het om alleen dam toe te gaan. Ons wou uitvind hoe dit voel om dronk te word.

Toe begin sy bid dat daar iets moet gebeur sodat ons nie by die dam kon uitkom nie.

En raai wat? Dit reën toe die hele naweek.

Ek glo my ma was ook my engel daardie aand. Sy het getik: “Ek bid ook vir julle twee, dat die Here julle sal beskerm.”

Ek is nog bewerig van skok toe ek met my seer, stram lyf op die verhoog klim. My oë is toegeswel en my kakebeen potblou. Dit lyk of ek in ’n kroeggeveg was.

Maar ek gee nie om nie. Vanaand staan ek hier met ’n dankbare hart. Teenoor ma’s wat vir hulle kinders bid en teenoor God wat na sulke gebede luister.

Ná vanaand sal ek nooit weer dieselfde oor die lewe dink nie. Ek sal nooit weer nét kan sing nie. Ek sal ook iets van God se goedheid met my gehoor deel. Al is dit ’n subtiele boodskap dat ons hier-wees op aarde niks anders as genade is nie.

–MANIE JACKSON Sanger