MARGIT MEYER-RÖDENBECK: “Berus jou in God se plan vir jou lewe”

112

Dit ís so, hoor ek. Hierdie keer is ek inderdaad swanger. Maar dis eers toe ek die dag die hartklop op die sonar sien dat die baba vir my ’n werklikheid word.

O, ek weet alles van huil van teleurstelling. Ek en my man het ’n ver pad gekom tot hier. Voordat ons op in vitro[1]bevrugting besluit het, het ons kunsmatige inseminasie probeer – nie een keer nie, vier keer. Eers daarna het ons in vitro beproef.

Daardie eerste keer toe die in vitro misluk het, was ek aanvanklik heeltemal ontwrig. Ten spyte van al die waarskuwings, die versigtige voorbereiding dat sukses nie gewaarborg word nie, was ek so seker dat dit sou werk.

Ek wou eenvoudig nie aanvaar dat dit toe nie gebeur het nie. Net waar ek gegaan het, wat ek ook al gedoen het, al wat ek raakgesien het, was ma’s en babas. Ek wou so graag ook enetjie hê, so verskriklik graag!

Soos met enige swangerskap het ek ook soms gevrees vir ’n miskraam. Ek het gereeld vir my toetse gegaan. Elke keer het die vraag by my opgekom: Wat as iets verkeerd is?

En elke keer as alles goed en reg is, het ek ’n sug van verligting geslaak. En dankie gesê vir die genade. Want ek weet dit ís net genade.

Dis ’n dogtertjie. Ons besluit nie dadelik op ’n naam nie. Ek dink daaraan om my ma, Retha, wat in 2003 oorlede is, te vernoem. Toe ons ’n 4D-sonar doen, sien ek haar gesiggie. Sy is pragtig, maar sy is nie ’n Retha nie, besef ek.

Kort daarna is ek en my man Italië toe vir ’n bederf-vakansietjie voordat die bondeltjie ons lewe onherroeplik sou verander. Daar besluit ons op Luca. Dis ’n sterk naam wat “lig” beteken. Dis presies wat ons dogtertjie vir ons sal wees.

Ek het baie vrae oor my kinderloosheid gehad, baie met die Here daaroor baklei. Ek wou so graag ’n kind hê en het so gesukkel daarmee.

Dit laat ’n mens wonder wanneer jy by ’n verkeerslig ’n ma, wat beswaarlik vir haarself kan sorg, sien staan met twee kinders aan die hand en een op die heup. Hoe regverdig is dit? Hoe verstaan ’n mens dit?

Dit het baie introspeksie en tyd geneem om te aanvaar dat Hy ’n plan het met elke mens se lewe en dat jy daarin moet berus. Ek dink God verstaan dat ons hierdie vrae vra. Dis tog ook ’n manier om nader aan Hom en jouself te kom.

Luca is die lig van ons lewe. Ek kan my die lewe nie sonder haar voorstel nie. Ek weet dit was alles die moeite werd en ek kan nooit genoeg dankie sê nie.

– MARGIT MEYER-RÖDENBECK (ook bekend as Dowwe Dolla), aktrise, komediant, sosiale kommentator en teatervervaardiger

Vorige artikel[VIDEO] Maak jou doelwit ’n strewe na uitmuntendheid
Volgende artikel[VIDEO] Besluiteloosheid kan jou van sukses ontneem