Moenie ’n slagoffer wees nie

85

Is jy ’n slagoffer? Ek was.

Die lewe gebeur. Verhoudings verbrokkel, werknemers word afgedank, misdaad en geweld is ’n realiteit. Selfs die ongelukkige ruimte waarbinne jy jouself bevind, kan verander.

Die lewe gebeur nie met jou nie, die lewe gebeur. ’n Slagoffer-mentaliteit vind dit gerieflik om die blaam eerder op iemand of iets anders te plaas as om self verantwoordelikheid te neem. ’n Slagoffer-mentaliteit staar hom blind teen sy eie probleme en besef nie die persoon langs hom huil ook nie.

Jy het weereens ’n slegte dag gehad. Jou medekollega het die promosie gekry waarop jy gehoop het, en jy het die sperdatum vir jou artikel gemis. Jy is boonop laat vir jou enigste vriendin se verlowingspartytjie. (Nie dat jy daarna uitsien nie, want jy is 35 en steeds enkellopend. Dit is nie jou skuld dat jy jou lewe afstaan aan jou werk nie.)

’n Slagoffer-mentaliteit verhoed jou om te verander of jou denke te vernuwe.

Hoekom is die rol van ’n slagoffer so aanloklik? Want die teks – jou lewe, keuses en reaksies – word deur ander mense geskryf. Mense en gebeure bepaal hoe jy vandag gaan dink, optree en voel. Alles gebeur, want die of daai een is daarop uit om jou lewe moeilik te maak.

Verder kan ’n slagoffer-mentaliteit jou toelaat om ander te manipuleer of die aandag volkome op jou en jou probleme te plaas. Die lewe is nou maar eenmaal teen my.

Herken jy jouself in van hierdie scenario’s? Moenie mismoedig word nie! Sê vandag nee vir die slagoffer-rol, en kies om die nuwe rol as oorwinnaar aan te neem.

In sterk kontras staan die rol van die oorwinnaar. As oorwinnaar skryf jý die teks. Jy bepaal jou eie geluk en houding en skep jou eie geleenthede. Dit vereis inspanning, deursettingsvermoë en harde werk.

’n Oorwinnaar is nie iemand wat ’n moeilike kinderlewe, of daai geldgedrewe baas of chroniese siekte vrygespring het nie. ’n Oorwinnaar ervaar ook die lewe met sy veranderlikes, maar kies om in beheer te bly. ’n Oorwinnaar sien raak wat sy wel het, en kies om nie te fokus op dit wat sy nie het nie.

Terwyl Paulus in die tronk vasgekeer is, sing hy lofliedere tot eer van die Here! Ons Verlosser, Jesus Christus, is bespot, versoek, vals beskuldig en gekruisig. Maar Hy het weer opgestaan, en heers vandag aan die regterhand van God, ons Hemelse Vader.

Doen introspeksie. Ons vermy dit omdat ons dan eerlik met onsself moet wees. Jy gaan dalk moet vergewe en jouself losmaak van die bande wat jou bind en beheer. Deur introspeksie kan jy bepaal wat jou optrede, jou geluk en emosies beheer. Is dit eksterne faktore, of is dit jy?

–Eunice Stoltz