“My dogtertjie se stryd bring vreemdelinge op hulle knieë”

8

Ek was in die kombuis besig toe ek die slag hoor. Toe volg ’n gil wat deur murg en been sny. Ek skrik! ’n Geweerskoot? Skiet iemand op ons? My man! My kinders! Hulle is buite. Daar waar die slag vandaan gekom het. Ek los alles en hardloop uit …

Die gesig wat my buite begroet, behoort geen ma ooit te sien nie. Dis ’n beeld wat die res van my lewe by my gaan spook. Die onheilspellende lig van die vlamme … die verskrikking.

Die angs op my man se gesig … en daarmee saam die vreesaanjaende besef: Dis Pippie. Pippie brand! My pragtige tweejarige dogtertjie is in vlamme gehul.

Sonder om verder te dink, pluk ek my bloes af en draai dit om haar. Probeer só die wrede vlamme blus wat besig is om die klein liggaampie te verteer. Ek druk-druk met my hande, maar dit bly brand.

Van êrens verskyn my skoonpa met die deurmatjie … Ná wat soos ’n ewigheid voel, is die vlamme uitgedoof …

Hoe ernstig is dit? Sal sy bly leef? Die vrae. Die verskriklikste gedagtes. Die onsekerheid. Eers toe die dokter met my kom praat, besef ek regtig hoe ernstig Pippie verbrand het.

“Jou dogtertjie het derdegraadse brandwonde oor tagtig persent van haar lyfie,” sê hy simpatiek. “Sy het net ’n tien persent kans op oorlewing.” Maar hy ken nie my klein Pip nie. Sy is ’n vegtertjie.

Ons word verras deur die meelewing en belangstelling van mense om ons. Dit maak dit makliker om moed te hou.

En ná 100 dae in die intensiewesorgeenheid begin sy self weer asemhaal.

Dat ’n klein dogtertjie soveel duisende op hulle knieë kon kry, is ’n wonderwerk waarvoor daar nie ’n verduideliking is nie. Hierdie belangstelling, wat selfs verder as die landsgrense strek, kon net deur Goddelike ingryping bewerkstellig word.

Ons dien ’n magtige God! As wat met my klein prinsessie gebeur het, net een mens na Jesus toe lei, val ek in dankbaarheid op my knieë neer.

Natuurlik het ek vrae. Waarom moes dit juis met Pippie gebeur? Met my pragtige, onskuldige kind?

Soms wens ek dit was alles net ’n nare droom, ’n nagmerrie waaruit ek gaan wakker word.

Maar ek weet ook daar is ’n doel met alles. Iets wat ons nog nie verstaan nie, nie kán verstaan nie, maar dit sal wel later vir ons duidelik word.

Pippie dra lig en lewe met haar saam. Deur alles is ek intens bewus van die liefde en die teenwoordigheid van my Vader. Dit voel vir my of ek nie net meer aan sy voete sit nie, maar op Sy skoot. En daar is vrede in my gemoed.

– ANICE BARNARD, Ma van Pippie Kruger

Vorige artikelVergelyk jy jouself met die vroue om jou?
Volgende artikelLeer uit jou foute en probeer weer