Petronelle Ebersöhn: “Om te koop het ’n verslawing geraak”

53

Een aand laat bel my jongste boetie en sê hy gaan homself skiet. Ek redeneer met hom; vertel hom hoe lief ons vir hom is en hoe verkeerd dit in God se oë is.

Hy het net gesê: “God ken my!” Met dié stamp hy die geweer teen die vloer, en ek hoor hoe die skoot afgaan en my ma gil.

Ná sy dood was dinge moeilik. My pa se gesondheid het verswak en hy was lank in die hospitaal. Toe hy daar uitkom, wou hy skielik alles skoonmaak en die plaas verkoop.

Dit was vir ons vreemd, maar ons het nietemin gaan verf koop en Pa gehelp verf.

Een aand het ek my ma tot laat help skoonmaak voor ek huis toe is. My ma het met verfklere en al langs my pa aan die slaap geraak.

Hy het haar wakker gemaak en gesê sy moet gaan bad. Terwyl sy in die bad sit, het sy die skoot in die kamer hoor afgaan.

My ma het deur alles naby aan God gebly en Hy het haar gehelp. Ek, aan die ander kant, het begin koop …

Toe my pa nog geleef het, het ons twee altyd saam vendusie toe gegaan. Hy sou vir ons elkeen ’n hamburger koop en dan eet ons dit terwyl ons rondloop en na alles kyk. Ná sy dood het ek aangehou om vendusie toe te gaan.

Ek het ander mense se goed gekoop, want ek het hulle jammer gekry. Dit het my laat beter voel as ek ander mense deur my kopery kon help.

Drie dae later was die “pil” uitgewerk; dan was dit weer dieselfde storie. Dit was soos ’n dwelm.

Toe die kinders uit die huis is, het die leënessindroom ingeskop. Ek het weer begin koop.

Later was ons huis so vol dat jy nie daarin kon loop nie. Selfs die garage was propvol goeters.

Met die verkoop van die antieke ware het dit duidelik geword hoe waardevol hierdie items was. Die 1935 Wolseley Wasp-motor het nie net my hart gesteel nie, maar almal wat hom gesien het s’n ook. Mense wou dit huur.

Stadig maar seker het Hy my kruis van koop verander in ’n uitkoms van verkoop.

Hoe wonderlik was dit nie!

Die oomblik toe my eerste kleinkind gebore is, het ek besef ek wil wees wat God my gemaak het.

Vir my vyftigste verjaarsdag laat ek my grys hare uitgroei. Ek beplan ’n fees en nooi almal, want ek wil dankie sê. Dankie vir my lewe; dat my kinders gesond is; dat dit nie meer nodig is om te koop nie.

Ek steek die kerse op en deel my gekoude klippe uit as mirre.

– PETRONELLE EBERSÖHN

Vorige artikel[VIDEO] Beplan en spandeer jou ekstra geld sinvol
Volgende artikelAfskeid ná die dood van ’n geliefde