“Verlamming het my van ’n afgrond gered”

278

Ek het die gebruik van my bene verloor. My toekoms gaan afhang van hoe ek met hierdie wrede werklikheid gaan saamleef. Want ek wil nie méér verloor nie.

Ek sal planne moet maak om so onafhanklik moontlik met my lewe aan te gaan. En dit begin vandag! Elke klein dingetjie wat ek tot in daardie stadium vir myself probeer doen het, was ’n uitdaging. Ek moes innoverend raak om doodgewone dinge baas te raak.

Miskien kan ek tog ’n normale lewe lei, selfs al is dit met beperkings. Ek is tog baie meer as net ’n meisie in ’n rolstoel.

Net nadat ek onverwags lam geword het, het niemand in ons gesin geweet hoe om dit te hanteer nie. My broer moes my help om in die bad te kom. Nee! besluit ek. Dit gaan nie werk nie. Ek moet sélf in die bad kom.

Toe ek die beskerming van my ouerhuis verlaat en teruggaan skool toe, besef ek dat dit nooit maklik sal wees nie. Natuurlik is almal nuuskierig oor my en word ek aangestaar. Maar geleidelik raak almal gewoond aan my in my rolstoel.

Ek kan nie self teen die opritte uit nie en het tog soms my vriende se hulp nodig.

Hulle is fantasties! Kloek nie onnodig baie om my nie, maar daar is altyd iemand wanneer dit nodig is. Wonderbaarlik raak my nuwe lewe vir my amper normaal.

Soms gaan dit sukkel-sukkel teen die steilte uit, maar ek gaan kuier nog soos voorheen by my beste vriendin se huis. Dis dalk my redding, die alledaagse, die besef dat ek nie my lewe soos ek dit geken en geniet het, heeltemal verloor het nie.

Miskien het hierdie ervaring my in my spore gestuit, tot stilstand gedwing voor ek op ’n paadjie sou beland wat na ’n afgrond kon lei. As dertienjarige meisiekind was ek eintlik te oud vir my jare, met kennis van volwasse sake sonder die nodige wysheid om dit te hanteer.

Ek kan miskien nie loop nie, maar ek kan baie ander dinge doen. Ek is soos ’n vis in die water. Ook is dit wonderlik om te weet ek het ’n sukses van my loopbaan gemaak – nie omdat ek in ’n rolstoel is nie, maar omdat ek my alles gee.

Die heerlikste uitdagings kom op my pad. Ek gaan soek nie daarna nie, maar ek deins ook nie daarvoor terug nie.

Daar is natuurlik beperkings aan wat ek fisiek kan doen, maar ek dink ook gestremdes kan baie meer doen en geniet as wat hulle besef.

Daar is baie maniere om hindernisse te oorkom. My vlerkies mag dalk geknip wees, maar dit weerhou my nie daarvan om ver en hoog te vlieg nie.

– MARTELIZE BRINK, aanbieder en vervaardiger by RSG

Vorige artikelJy moet die groter prentjie sien
Volgende artikelJou oë is die venster van jou siel