Stel jou huwelik bo jou kinders

359

Lily en Arnold Geerdts is mal oor hulle kinders en verkeer graag gesellig saam met hulle as gesin. Tog besef hulle hoe belangrik dit is om hulle huwelik altyd eerste te stel.

Dit klink dalk verskriklik om te beweer dat haar huwelik vir ’n vrou belangriker moet wees as haar kinders. Hoe kan ’n ma enigiets bo haar kinders kies? Nietemin is dit juis een van die hoofredes waarom huwelike verbrokkel. Daardie wonderlike moederinstink is dikwels die klein jakkalsie wat die wingerd kan verwoes. Lily glo dat jou huwelik die fondament van ’n gesonde gesin is; geen vrou moet toelaat dat vrou-wees in die skadu van ma-wees staan nie.

“Die tyd wat jy saam met jou kinders deurbring, is uiters belangrik en nodig, maar as mammas vergeet ons soms dat jou man die hoeksteen is waarop alles gebou is. As dinge nie goed gaan tussen jou en jou maat nie, beïnvloed dit die kinders. Dit veroorsaak ook stres in die huis en dinge vloei dan net nie lekker nie.”

Vir die Geerdtse is die bekende sê-ding uit The Three Musketeers soos ’n leuse “One for all and all for one! Hulle is ’n baie hegte gesin en geniet dit om dinge saam te doen, maar Lily en Arnold spits hulle ook daarop toe om “grootmens-tyd” te hê, al verg dit meestal ’n bietjie beplanning.

“Iemand het eenkeer vir my gesê: “Jy wys vir jou kinders hoe lief jy hulle het deur vir hulle ma lief te wees.” Ons is jaloers op die tyd wat ons kry om alleen as ’n paartjie saam te wees, ons wil dit ontgin en koester,” vertel Arnold.

Soos ander egpare kom hulle ook nou en dan agter dat hulle mekaar mis en by mekaar verbyleef. Gelukkig is dié twee se liefde (en verliefdheid) van so ’n aard dat hulle dit gou raaksien. “Dit is ’n positiewe teken. Dit is nie iets wat doelbewus gebeur nie, dit is maar die lewe wat tussenbeide getree het. Ons weet dan dit is ’n teregwysing en ons moet beter beplan om by mekaar uit te kom.”

Head Start Kids is nog een van Lily se babas wat baie van haar aandag en tyd in beslag neem.

“Ja, dit is juis hoekom ek nou effens in die rooi is by Arnold oor ons tyd saam. Dit is maar iets waaraan ’n mens pal moet werk. Ons gaan sover moontlik saam gimnasium toe en ons geniet dit baie om saam te kook. Dit gaan bloot daaroor dat jy jou maat moet raaksien en hom of haar deel van jou dag moet maak.”

Hulle is ook dankbaar vir die gesellighede wat hulle saam kan bywoon, want selfs in ’n onthaalkamer vol mense kan jy steeds alleen wees, meen Lily. “Intimiteit is nie iets wat tot die slaapkamer beperk hoef te word nie, ’n mens kan dit op omtrent enige plek laat vlamvat. Daardie flirtasies is uiters belangrik vir ons.”

Dit was egter die moeilike tye wat hulle gehelp het om tot hierdie insig te kom. ’n Paar jaar gelede het hulle heeltemal vergeet om saam te wees. Arnold het sy werk verloor, daar was dood in die familie en die druk was net massief. “Ons was in die moeilikheid, maar deur God se genade het ons besef dat ons dinge sal moet omdraai.”

Hulle raad is eenvoudig: Maak tyd, steel tyd, smokkel tyd as jy moet. Dit is die enigste manier om “n gesonde verhouding met jou maat en uiteraard jou kinders te hé. Jou man moet jou oorkussing wees, jou vertroueling en beste pel.

Vorige artikelBybelvrou – Liesel Krause-Wiid [Hanna]
Volgende artikel[PODSENDING] Wat doen ek met die leegheid binne my? [Reeks 1 Nommer 9]