Baklei op die regte manier

1421

Ons lyk, dink en doen verskillend. Dié verskille veroorsaak dat konflik in verhoudings onafwendbaar is. Dis egter hóé jy die situasie hanteer, wat saak maak.

Konflik is nie noodwendig sleg nie; dit kan selfs ’n groeigeleentheid in julle verhouding wees. Die algemeenste fout wat mense maak terwyl hulle probeer om verskille op te los is om te reageer voordat hulle die volle prentjie het. Dan is argumente onvermydelik. As jy te vinnig reageer, reageer jy dikwels op die verkeerde kwessies. Moenie dink jy weet wat in die ander een se kop aangaan nie. Baie argumente word gebou op valse aannames oor hoe die ander persoon voel of dink.

Ken jouself en hanteer ’n argument beter

Dis belangrik om bewus te wees van jou eie vooroordele en watter dinge jou maklik warm om die kraag maak.

Dan kan jy jouself emosioneel en verstandelik voorberei sodat jy positief kan reageer as hierdie kwessies geopper word.

Dink mooi: Watter gedrag by ander mense hanteer ek moeilik tydens konflik? Hoe reageer ek gewoonlik? En hoe wil ek graag reageer?

Kyk ook mooi na jouself. As jy moeg, honger en gestres is, is die kanse baie groter dat jy sal oorreageer.

As jy wegstap van die bakleiery vererger die probleem

Jy is dalk nie lus vir ’n argument nie en bly daarom liewer stil. Maar as jy opkrop, kan jy eendag uitbars en goed sê wat liewer moes gebly het, sê kenners.

Praat liewer kalm oor kwessies wat krap voor dit “groot” raak. Die doel van konflikoplossing is nie om al ons verskille weg te vat nie. Eerder om ons te leer hoe om op so ’n manier daarmee saam te leef dat albei partye tevrede voel.

Niemand hou van wrywing nie, maar moenie jou net afsluit en wegstap nie. Respekteer die ander persoon genoeg om minstens te luister wat hy/sy sê.

Moenie dat elke verskil in ’n argument ontaard nie – want argumente raak maklik buite beheer en emosioneel gelaai.

Sommer gou skree julle op mekaar of een begin huil.

Vermy houdings soos “enige redelike mens sal met my saamstem”. Onthou: Die doelwit is om ’n oplossing te vind, nie om ’n argument te wen nie.

Julle het nodig om mekaar se idees te respekteer, selfs al verskil dit. En om liefdevol op mekaar te reageer, al stem julle nie saam nie. Glo dat ’n oplossing moontlik is – en dat julle dit saam kan bereik.

Respekteer die basiese reëls wanneer julle oor iets verskil

Ons het dit al 1 000 keer gehoor maar dit bly die nommer een reël: Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie! Fokus op die probleem waarmee julle besig is.

Wys dat jy luister – en doen dit ook! Maak oogkontak en moenie reeds begin dink wat om volgende te sê nie. Om te luister, help om op die kern van die probleem te fokus en ’n oplossing te vind wat albei bevoordeel.

Moenie persoonlik raak nie. Fokus daarop om die probleem op te los en nie om die mens aan te val nie. As jy verdedigend raak, mis jy dalk die punt wat die ander party aan jou wil oordra.

Oppas vir rooiletterwoorde soos “nooit” en “altyd”. Veralgemenings is teenproduktief en gewoonlik onwaar.

Soms wen jy die argument, maar die verhouding verloor eintlik. Jy kan dalk op jou voete dink en jou argumente so mooi uiteensit dat die ander persoon nie ’n kans staan nie.

Maar as julle albei nie gelukkig wegstap nie, kan dit julle verhouding knou.

Vorige artikel[PODSENDING] Is jy realisties of negatief? [Reeks 1 Nommer 6]
Volgende artikelWaardes is wat saak maak!