Die klein jakkalsies wat ’n huwelik verniel

160

Dis die klein jakkalsies wat groot irritasies veroorsaak. Julle moet die begroting laat klop, maar ook elkeen se manier van doen laat saamsmelt tot iets wat die beste vir die hele gesin werk.

Bertus en Louise se eerste vakansie was amper ’n mislukking. In Bertus se ouerhuis het sy ma die pakwerk gedoen en gesorg dat daar padkos is. Sy pa het seker gemaak die motor is versien, vol petrol en reg vir die rit.

Op die oggend van hulle vertrek het sy pa die motor gepak en sy ma het die huis gesluit. Dan was hulle reg vir son, see en strand!

By Louise-hulle het dinge min of meer op dieselfde manier gebeur, maar daar was een klein verskil. Haar pa het die huis voor hulle vertrek gesluit. En hierdie verskilletjie het amper hulle eerste vakansie geruïneer.

Hulle was halfpad op pad see toe, toe hulle agterkom nie een het die huis gesluit nie. Hulle het omgedraai en teen ’n onwettige spoed teruggejaag terwyl verwyte rondgeslinger is.

Klein jakkalsies en onbenullige verskille steel julle vreugde

Jy is dalk gewoond daaraan dat Kersgeskenke op Oukersaand oopgemaak word. In jou man se huis is dit weer vroeg Kersoggend gedoen.

Volgens jou hoort honde buite, maar jou man dink dis oukei om ’n hond op die bed te laat slaap. Wie is verkeerd en wie is reg?

Dikwels veroorsaak hierdie verwagting en die idee dat jy reg is en jou maat verkeerd, dat jy van hom verwag om te verander. Hy moet net regkom!

Ongelukkig kan julle mekaar dan maklik as persoon aanval, bloot omdat julle nie aan mekaar se verskillende maniere gewoond is nie.

Jy glo jy is reg en jou man verkeerd

Baie van die ontnugtering in ’n huweliksverhouding is te wyte aan onbewuste verwagtings, meen huwelikskenner Floris Knouwds. Julle het mos voor die huwelik geglo julle is so eenders. Maar ná die troue kom julle agter dat julle eintlik baie verskil.

Elke keer wanneer julle besef dat julle dinge anders doen, is dit ’n teleurstelling en vervreem julle effens van mekaar.

Hoekom gebeur dit? Omdat ’n mens glo dat die manier waarop jy dinge doen, die regte manier is. Die probleem is dus nie die verskille nie, maar jou idee van reg en verkeerd. Sonder om dit hardop te sê, glo jy jou manier is reg en jou maat s’n is verkeerd.

Julle kom elkeen uit ’n bepaalde huislike omgewing, met bepaalde gebruike en reëls. En omdat julle gewoond is aan julle eie ouerhuis, dink elkeen sy manier is reg.

As hierdie verskille nie opgelos word nie, is jy so gefokus op jou maat se foute dat dit al is wat jy raaksien.

Jou verwagting skep probleme, nie sy gedrag nie!

Verhoudings gebeur eers binne-in ons en dan tussen ons. Uit die gedagtes in jou hart, die dinge wat in jou binneste omgaan, kom alles wat jy doen. En jou ouerhuis is baie diep in jou hart gewortel.

Dit is hoekom jy sekere verwagtings van jou maat het en sekere eise aan hom stel. En teleurgestel word. En baklei.

Al hierdie dinge se oorsprong is in jou hart – nie in jou maat se gedrag nie!

In plaas daarvan om gedurig jou maat te veroordeel, ondersoek ’n slag jou eie hart. Leer om vir jouself te vra: Hoekom het hierdie konflik ontstaan? Wat is daar in my wat bygedra het tot die konflik? Wat is dit wat my so ontstel?

Met ’n bietjie skaaf hier en baie praat, kan jy weer begin om die mooi in jou maat raak te sien. In plaas van om ’n goeie huwelik prys te gee as gevolg van ’n paar verskille.

Vorige artikelHoe om uit jou gemaksone te kom
Volgende artikelSelfversorging is belangrik