Hoekom dwaal sy of jou oë?

40

Die dag toe jy in die kerk gestaan het en jou huweliksbeloftes afgelê het, het julle net oë vir mekaar gehad, maar hoekom verander dit nóú?

Wanneer jy of jou huweliksmaat smag na ’n bietjie liefde en aandag of wanneer seerkry uit jou kinderjare by jou spook, is dit maklik vir ’n oog om ’n bietjie te dwaal. ’n Affair mag dalk opwindend en na die regte doepa klink om weer spesiaal te voel, maar dit kan jou huwelik ruïneer. Moenie onkant betrap word nie en as die rooi ligte begin flikker, maak werk daarvan om jou huwelik te red.

’n Huwelik vol leemtes is ’n maklike prooi

As jou maat altyd moet baklei om seks by jou te kry, sal hy makliker vir ’n vrou val wat met hom flankeer, of wat grappies met ’n seksuele ondertoon maak.

Miskien is jou man uitgehonger om gewaardeer te voel, en word daarom deur ’n vrou geprikkel wat vir hom ’n kompliment gee.

Dalk voel jou man dat jy hom nie nodig het nie omdat jy ’n super-onafhanklike vrou is. Die vaal, hulpelose jong vrou by die werk kan oornag sy manwees en ego streel as sy hom bewonder vir sy raad en die hulp wat sy by hom kry.

As jy een van die vroue is wat altyd besig is en nooit tyd vir jou man maak nie, word die vrou by sy werk dalk sy vriendin wat hy in sy vertroue neem.

Wanneer ons egter kies om in ons huwelik op mekaar ingestel te wees en mekaar se behoeftes eer en erken, word versoeking net soveel moeiliker om voor te swig.

Emosionele seer uit jou kindertyd kan jou huwelik kelder

’n Leemte in jou huwelik omdat jou maat jou afskeep, is egter nie die enigste rede hoekom mense in buite-egtelike verhoudings betrokke raak nie.

Daar is baie mense wat getuig dat hulle affairs gehad het, al het hulle nie noodwendig ’n slegte huwelik gehad nie.

Kleintyd-seer weens ’n gebrekkige verhouding met jou ouers (veral met jou pa) kan een van die algemeenste redes wees waarom mense later na ander vir aandag, erkenning en liefde uitreik.

Al kry sulke mense aandag, liefde, koestering en erkenning by hulle eie man of vrou, is die aandag van mense buite hulle huwelik bloot iets wat hulle meer geborge laat voel.

Jou maat kan nie die pyn of leemtes van jou kinderjare vir jou genees nie – hy kan ook nie vír jou kies om daarvan los te kom nie.

Eers wanneer ons toelaat dat God ons van ons seer, bitterheid en pyn uit ons verlede genees, kan ons werklik gesond genoeg wees om versoeking as gevolg hiervan te weerstaan.

Wees op die uitkyk vir dié gevaartekens

Die grootste fout om te maak as jy dalk iemand is wat in hierdie stadium persoonlike dinge met iemand anders van die teenoorgestelde geslag deel, is om dit te ontken.

Die rooi ligte flikker wanneer:

  • Jy intieme dinge met hierdie persoon deel sonder jou maat se medewete. l Jy begin om jou maat met die ander persoon te vergelyk.
  • Jy geïrriteerd raak met jou maat omdat hy/sy jou nie so goed verstaan soos die ander persoon nie. • Jy nie meer jou maat se raad en ondersteuning nodig het nie.
  • Jy nie kan wag om die ander persoon te sien nie, en gereeld aan hom/haar dink.
  • Jy meer tyd saam met hierdie persoon spandeer as wat van jou verwag word of nodig is.
  • Jy flankeer en langer en meer intense oogkontak maak as wat jy met ander mense doen.
  • Jy moeite met jou voorkoms doen as jy weet jy gaan die persoon sien.
  • Jy nie meer vrymoedig tot God bid nie en wegskram van geestelike intimiteit saam met jou maat.
Vorige artikelJa, jy kan … WÉÉT WAT JY WIL HÊ
Volgende artikelDít inspireer my! (Leandie du Randt)