Jy kan jou man nie dwing om te verander nie

107

Jy weet teen hierdie tyd dat jy nie jou man kan dwing om te verander nie. Maar dalk kan jy dinge ’n bietjie anders doen om julle verhouding in ’n nuwe rigting te help stuur.

Nie alles wat in jou huwelik verkeerd loop, is jou fout nie. Is dit dan jou man se skuld? Dan moet hy mos verander! Verkeerd.

As jy besef dat jy nie jou man kan dwing om te verander nie en net jouself kan beheer, het jy reeds ’n groot stap geneem. Jy sal uitvind dat jy jou lewe kan verander en daarmee saam julle verhouding.

Natuurlik kan jy nie binne ’n week of twee groot veranderings verwag nie. Jy sal die filosofie gedurig moet toepas en daar is altyd nog baie om te leer.

Maar dit is ’n fantastiese wegspringplek!

Leer om die onbenullige dingetjies mis te kyk

Hoe dikwels hoor ons dit nie? “Hy smyt sy klere reg langs die wasgoedmandjie neer!”, “Hoekom praat sy so onophoudelik?”, “Kan hy nie net sy voete afvee as hy inkom nie?” Só kan ander mense se “gewoontetjies” ons tot raserny dryf.

Dit kan verhoudings baie negatief beïnvloed as ons toelaat dat dit groei en later “groot irritasies” word. Leer eerder om die onbenullighede van belangriker dinge te skei.

Die Bybel leer ons dat ons ’n verantwoordelikheid het om oor die groot, belangrike dinge te praat. Dinge wat, as dit nie opgelos word nie, julle verhouding skade gaan berokken. Jy moet egter jou oordeel en selfbeheer gebruik om die klein dingetjies te identifiseer, en te laat gaan.

Jy sal baie geduldiger met jou man wees as jy besef dat die dinge wat jy as “oortredings” sien, eintlik maar onbenullig is. Verander jou houding en perspektief en sien die “oortreding” oor.

Jy is nie verantwoordelik vir sy keuses nie

Jy vrees familiebyeenkomste omdat jou man altyd dikmond daar eenkant sit. Dan wil hy nog vroeg huis toe gaan ook. Soms stry jy met hom voordat julle daar arriveer. Dan voel jy boonop nog verantwoordelik vir sy slegte bui. Jy vrees familiebyeenkomste omdat jou man altyd dikmond daar eenkant sit. Dan wil hy nog vroeg huis toe gaan ook. Soms stry jy met hom voordat julle daar arriveer. Dan voel jy boonop nog verantwoordelik vir sy slegte bui.

Gee hom die reg om sy eie keuses te maak en sy lewe te lei sonder dat jy daarvoor verantwoordelik hoef te voel. Maak jouself los daarvan. En as jy nie verantwoordelik voel nie, sal jy ook ophou om hom te probeer verander.

’n Ryk jong man het Jesus oor die ewige lewe uitgevra. Jesus het vir hom gesê hy moet alles verkoop wat hy het.

Dit was nie wat die jong man wou hoor nie, en hy het nie die raad gevolg nie.

Jesus het aanvaar dat hy die reg het om vir homself te besluit. Hy laat die man sy waardigheid behou om sy eie keuses te maak.

Neem jy die inisiatief en wees die minste

Jou man is altyd verkeerd en jou reaksie daarop is ’n bysaak. Hy maak die moeilikheid, en jou kant van die saak is silwerskoon. Julle is al weer in ’n heftige argument, en jy sê ’n klomp nare dinge. Jy weier om om verskoning te vra, want jy weet dat jy nie ’n “jammer” gaan terugkry nie.

Dis die speletjies wat ons in verhoudings speel. Ons is hardkoppig. Ons is spiteful. Ons manipuleer. Ons kry stilstuipe. Jy wag vir die ander persoon om toenadering te soek. Dis ’n afpersingspeletjie.

Neem ’n slag die inisiatief en vra om verskoning. Sê jy is jammer oor die lelike woorde wat jy hom toegesnou het. Erken jou aandeel aan die probleem, of iemand jou nou ontstel het en of iemand ontsteld is oor jou optrede.

Dit maak nie saak of hy jou gaan vergewe of nie. Jy sal net julle verhouding vorentoe laat beweeg.

Vorige artikelJa, jy kan … jou ideale só bereik
Volgende artikel[VIDEO] Ons kan saam soveel meer vermag