Ken hy jou behoeftes en begeertes?

177

Natuurlik dink jy dat jou man vanself weet wat jou behoeftes en begeertes is. Maar die meeste mans is sleg met gedagtes lees en skimpe vang. Jy sal hom aan die hand moet vat en leer!

Mans raak skoon bleek as vroue vir hulle wil begin sê hoe hulle hulle moet hanteer. Die meeste mans glo dat dit moeilik is om die Evas te verstaan. Maar dit is eintlik baie maklik om ’n vrou gelukkig te maak!

’n Vrou se grootste behoefte is liefde en geborgenheid. Of ’n mens kan eenvoudig net sê dat vroue ’n behoefte aan sekuriteit het.

Die manier waarop ’n man hierdie veiligheid aan sy vrou kan gee, is hoofsaaklik deur vir haar te wys – en te sê – dat hy lief is vir haar.

En dan tyd te maak om saam met haar te kuier.

Saamwees is ’n belangrike behoefte vir vroue

Liefde is vir ’n vrou baie belangrik. Sy wil dit gereeld hoor en soek ’n liefdevolle atmosfeer waarin hy sê: “Dis lekker om jou hier by my te hê. Ek is lief vir jou. En ek wil niemand anders in jou plek hê nie.”

Saamkuier is ’n noodsaaklike geleentheid om liefde en veiligheid te ervaar. Dalk terwyl julle saam in ’n skuimbad lê. Of koffie drink by ’n koffiewinkel. Of oor ’n glasie rooiwyn by kerslig.

Daar is baie kreatiewe geleenthede om alleen saam tyd te spandeer.

Bêre die selfone en gesels met mekaar terwyl julle regtig luister wat elkeen sê. Jy sal nie glo watter verskil dit aan julle verhouding maak nie.

Hy moet verstaan seks maak nie alles reg nie

Mans moet weet dat liefde en seks vir vroue glad nie sinoniem is nie. Liefde is die emosionele atmosfeer waarbinne seks moet gebeur, maar dit gaan oor baie meer.

Dit is gevaarlik om te dink dat seks ’n vrou se behoefte aan liefde en omgee kan vervul.

Dit kan wel ’n manier wees om dit te wys. Maar ’n vrou het spesifiek ’n behoefte daaraan dat ’n man gereeld en op baie maniere moet wys dat hy vir haar omgee. Daaruit kan sy agterkom wat hy vir haar voel.

Die belangrikste manier waarop hierdie atmosfeer geskep word, is deur aanraking. ’n Vrou geniet dit wanneer haar man op ’n nie-seksuele manier aan haar raak.

Soos wanneer hy jou deur die dag ’n drukkie gee, aan jou arm vat of hand aan hand met jou stap. Die boodskap is: “Jy is vir my belangrik. Ek staan saam met jou in die lewe. Ek is trots op jou.”

Hoe hy kan wys jy is spesiaal

Maak ’n lys van die dinge wat hy moet doen om jou spesiaal te laat voel. Dit help niks as hy weet wat jou sal laat sien dat hy vir jou omgee, maar hy dóén dit nie.

Dalk laat dit hom aan die begin ongemaklik voel. Deur dit gereeld te doen, word dit later ’n gewoonte wat weer die vonk in julle huwelik kan terugsit.

Daar is baie ander maniere waarop hy kan wys dat hy vir jou omgee. ’n Bos blomme verrig altyd wondere, liefdesbriewe maak enige hart week en ’n romantiese ete kan knieë lam maak.

Andersins kan hy sommer self die kos maak en die skottelgoed ná die tyd was!

Wanneer hy vir jou geskenke koop, kan hy iets koop wat vir jou emosionele waarde het. ’n Yskas of iets vir die huis is nie ’n geskenk nie!

Die uitdaging is juis om te soek na kreatiewe maniere om sy gevoelens te wys om nuwe gewoontes van omgee te ontwikkel – ter wille van julle verhouding.

Vorige artikelRhona Erasmus: “Liefde is die grootste seëning in my lewe”
Volgende artikel[VIDEO] HOE OM… te sê “vergewe my”