Kommunikasie vir ’n gelukkige huwelik

144

Kommunikasie, kommunikasie, kommunikasie. So leer hulle ons van dag een af. Geen huwelik kan daarsonder oorleef nie, sê hulle. En dit is dalk so. Maar dit lyk eerder asof nie–verbale kommunikasie die geheim is!

As jy vir manlief sê: “Engel, ons moet praat.” Wat gaan hy antwoord? Beslis nie: “Ek dog jy vra nooit nie.”

Die kans is groter dat hy hom gaan onttrek. Jy wil oor julle verhouding praat as jy ontsteld is, sodat jy beter kan voel.

Hy wil nie daaroor praat nie, want praat laat hom beslis nie beter voel nie. Al wat hy “hoor”, is dat hy niks reg kan doen nie.

Luister aandagtig en wys dat jy hom regtig liefhet

Wanneer vroue oor probleme praat, begin hulle ontspan en beter voel. Vir hulle het dit ’n kalmerende effek.

Mans, daarenteen, begin fisiek ongemaklik voel. Daar is ’n groter bloedtoevoer na hulle spiere toe, wat hulle laat vroetel en aggressief laat voorkom.

Maar dit beteken nie dat julle verhouding vir jou maat minder belangrik is nie. Of dat hy nie ook die geborgenheid en warmte van ’n verhouding wil hê nie.

Mans voel net soms so … vervreem. Uitgesluit. Weg. En vroue kan dit glad nie verstaan nie. Jy wou mos oor die verhouding praat – jy hét probeer om nader aan hom te kom!

Die probleem is dat mans en vroue dit op verskillende maniere probeer doen. Jy probeer jou nader aan hom praat en hy probeer homself nader aan jou doen. En in die proses mis julle mekaar!

Nie–verbale kommunikasie help julle nader aan mekaar kom

Patricia Love en Steven Stosny sê in hulle boek How to improve your marriage without talking about it: Finding love beyond words: Hou op praat! Daar is ’n beter manier om nader aan mekaar te beweeg.

Glo in jou man. Moenie altyd die negatiewe en “dit gaan nie werk nie” in elkeen van sy planne raaksien nie. Glo dat hy die pad ken en dat hy daar sal uitkom. Dat hy die boom sal snoei. As hy ’n fout maak, is dit nie omdat hy jou aspris te na wil kom nie.

Wys jy waardeer sy harde werk en versorging. Deur heeltyd te kla hy is te min by die huis, laat jy hom verstaan jy waardeer nie sy werk nie.

’n Man se grootste vrees is dat hy niks beteken nie. Dis nie nodig om ja en amen op alles te sê nie, maar respekteer hom nes jy jou ma respekteer.

Maak oogkontak wanneer julle tussen mense is. Maar nie op ’n manier wat sê nie: “Gedra jou!” Eerder: “Ek is bewus van jou, en nou-nou is dit net ons twee!”

Gebruik ’n vriendelike stemtoon wanneer julle praat

Die manier hoe paartjies met mekaar praat, spreek boekdele oor hulle verhouding. Is julle vriendelik en verdraagsaam of kortaf en ongeskik?

Hóé jy ’n ding sê, is wel belangriker as wát jy sê. Mense is geprogrammeer om nie-verbale seine baie makliker te verstaan as die woorde wat hulle hoor.

Dis soms moeilik om te onthou presies wat iemand gesê het. Maar jy sal gewoonlik onthou of die persoon kwaad, vriendelik of kortaf was.

As jy elke keer moeg en geïrriteerd klink as jy met jou maat praat, sal hy jou begin vermy. Glimlag voor jy “môre” sê, dan sal dit klink asof jy regtig bly is om hom te sien.

Volgende keer wanneer hy iets vertel, kyk in sy oë, lyk geïnteresseerd en raak aan hom … Wie weet, hy besluit dalk net om al meer en meer met jou te begin praat!