Leer op die regte manier baklei

58

Jou ridder op sy wit perd arriveer en julle begin ’n lang en gelukkige lewe saam … Dan begin sy gewoontetjies jou irriteer. Hoe gebruik ’n mens die konflik om nader aan mekaar te kom?

As jy en jou man gedurig vassit voel jy skuldig. Paartjies wat regtig gelukkig is, stry mos nie so nie. Maar konflik is normaal in enige verhouding. Hoe jy optree en wat jy tydens ’n rusie kwytraak, speel ’n belangrike rol. Baie van ons glo dat kwaad word, beteken om beheer te verloor, daarom onderdruk ons ons emosies. Só ontaard iets wat as ’n ligte irritasie begin, in frustrasie en eindig in ’n enorme uitbarsting. Wanneer paartjies leer om konflik reg te hanteer, word rusies ’n energieke manier om verskille op te los en selfs die liefdesband te versterk.

Moenie emosies onderdruk om die vrede te bewaar nie

Dis belangrik om nie jou gevoelens te onderdruk nie. Dit is beter om erkenning aan jou emosies te gee, selfs al is daardie emosie dan ook woede. Woede is ’n natuurlike emosie. Ons het dit nodig om te oorleef. Dit is reg en goed dat ons dit voel, maar die vraag is wat ons daarmee doen.

Jy moet op ’n beskaafde en volwasse manier vir jou man kan sê as jy kwaad is. Probeer dit steeds in kalmte en liefde uitdruk. Woede moenie sarkasties, wraaksugtig of beskuldigend wees nie.

Maak vooraf reëls vas vir wanneer julle die dag baklei sodat albei weet wat aanvaarbaar is en wat nie. Besluit byvoorbeeld dat julle nooit op mekaar sal skree tydens ’n rusie nie. Of kom ooreen oor iets soos ’n timeout, indien daar ’n behoefte is om net vir ’n oomblik van die probleem af weg te loop en perspektief te kry.

Bly kalm wanneer julle met mekaar baklei

Dis goed om nie beheer te verloor as jy kwaad is nie. Bly kalm. Maar as jy té koel en kalm is, kan jou maat dit as ’n gebrek aan belangstelling en selfs verveeldheid interpreteer.

Daar is seker niks so frustrerend nie soos wanneer jy omgekrap is en iemand sê vir jou: “Ag, dis nie so erg nie.” Die meeste mans is onbeholpe wanneer dit by emosies kom.

Hy verstaan dalk regtig nie hoekom jy kwaad is omdat hy aan die slaap geraak het toe hy na die kinders moes kyk nie. Niks het mos gebeur nie.

Om te verhoed dat die gesprek in ’n uittrapsessie ontaard, sê iets soos: “Ek gee nie om as jy ’n middagslapie neem nie, maar jy kan nie slaap terwyl jy na hulle kyk nie. Dis onverantwoordelik. Sê dan eerder vir my tot hoe laat jy wil slaap en wanneer jy na hulle kan kyk.”

Moenie wen ten koste van jou huwelik nie

Wanneer jy en jou man ’n probleem probeer uitpraat, hoef daar nie ’n wenner of verloorder te wees nie. Dit is juis wanneer julle mekaar persoonlik aanval dat iemand gaan voel hy het die onderspit gedelf.

Jou huwelik is nie ’n rugbywedstryd nie. Hou op om boek te hou van wie watter geveg gewen het. ’n-Oog-vir-’n-oog-benadering het niemand nog ooit goed gedoen nie.

Navorsing het getoon dat selfs gelukkige paartjies sowat agt kwessies in hulle huwelik het waaroor hulle nooit sal saamstem nie. Dit is belangrik om te leer baklei vir ’n wen-wen-situasie.

Hou altyd die liefdesband in gedagte voor jy jou man iets toesnou waaroor jy later spyt gaan wees. Dit verg bitter harde werk en moeite, maar om te leer om suksesvol te argumenteer is ’n belegging van onskatbare waarde.

Jy kan eerder jou liefdeslewe red deur te leer hoe om konflik op die regte manier te hanteer.

Vorige artikelJa, jy kan … ’n betekenis– volle lewe hê
Volgende artikelBegin met ’n gesonde roetine