Liefde en geluk kom nie vanself nie

268

’n Gelukkige verhouding met jou maat kom nie vanself nie. Julle moet opreg na mekaar luister, dink voor julle praat en by mekaar se harte uitkom. Wys ook julle liefde op verskillende maniere.

In alle verhoudings is daar soms konflik of vervelige, saai tye. Die geheim is om woorde te vermy wat seermaak en liewer saam aan ’n positiewe oplossing te werk. Vier mekaar se positiewe eienskappe en verskille met grasie.

Sê en wys jou liefde. ’n Drukkie op die regte tyd doen baie om jou ondersteuning en liefde te bewys. ’n Telefoonoproep of boodskap deur die dag sal ook help.

Luister aandagtig en wys dat jy hom regtig liefhet

As hy by jou afpak, is jou eerste instink om ’n oplossing voor te stel. Maar is dit regtig wat hy nodig het?

Dink ’n bietjie wat jy in so situasie sou wou hê: Raad? Of eerder net ’n kans om aan jou emosies uiting te gee en ’n bietjie vertroosting te kry? Die meeste van ons wil net voel ons word gehoor en dat iemand verstaan.

Luister regtig, sonder om dadelik raad te gee. Dit sê jy gee om, is ’n teken van respek en help jou begrip ontwikkel vir wat sy behoeftes is.

Luister werklik – sonder dat jou aandag dwaal. Behou oogkontak en stel belang in wat hy sê.

Fokus op sy emosionele belewing van die situasie en vra belangstellend uit, sodat hy gemaklik voel om sy emosies uit te druk.

Later kan jy hom help om ’n oplossing te vind deur hom te lei om die voor- en nadele van opsies te ondersoek.

Wees eerstens daar vir hom sonder om jou opinie op hom af te dwing.

Kies jou woorde slim sodat julle verhouding nie skade ly nie

Dis maklik om in ’n oomblik van woede of swakheid iets te sê wat ’n ander so diep kwets dat dit die verhouding onherstelbaar seermaak.

Die woorde is nog skaars gesê, dan wens jy jy kan dit ongedaan maak, maar dis reeds te laat. Jy kan jammer sê, maar die skade is klaar gedoen.

Die goue reël is om te dink voor ’n mens praat – makliker gesê as gedaan as die woede-stoomwolke by jou ore uitborrel! Dit gaan egter oor selfdissipline. Oefen om te stop en te dink.

Vra: Sal my woorde ons verhouding bou en ons nader aan mekaar bring? Lewer dit ’n positiewe bydrae tot ons gesprek? Sou ek dit graag wou hoor as ek in die ander een se skoene was? Watter soort reaksie sal my woorde ontlok?

’n Mens sê ook makliker verkeerde goed as jy gestres, moeg of in ’n slegte bui is. Oefen hierdie vaardigheid in situasies waar jy nie so voel nie, sodat dit vanself kom in daardie tye wanneer jou selfdissipline min is.

Onthou, dit is baie keer nie wát ons sê nie, maar hóé ons dit sê.

Vind uit wat in sy hart aangaan met die knieskyftegniek

Kies ’n tyd en plek waar jy en jou maat nie gesteur sal word nie. Vat twee stoele en gaan sit teenoor mekaar sodat julle knieë aan mekaar raak.

In hierdie “naby”-posisie kan julle dan oor allerhande kwessies gesels. Veral daardie tameletjies wat meer sensitief is en geneig is om die nekhare te laat rys.

Die snaakse ding is dat dit onmoontlik is om op mekaar te skree of hard te praat as julle so naby mekaar is. Dis asof dié aanraking albei rustiger hou en outomaties ’n intieme, vertroulike atmosfeer skep waarin julle in mekaar se harte kan kyk.

Vorige artikelKoop tyd uit!
Volgende artikelKry weer lus vir die lewe!