Mites wat jou huwelik kan verwoes

119

Jy het geglo julle verhouding gaan vir ewig maanskyn en rose wees. Dit is ontnugterend om uit te vind die mites wat jy oor die huwelik geglo het, is nie altyd waar nie.

As iemand oor en oor dieselfde ding vir jou sê, begin jy dit later glo en daarvolgens optree. Dis ook hoe ’n mite werk. Dis ’n manier van dink en doen wat so by jou ingeprent is dat jy dit as die waarheid aanvaar. Dit gebeur ook in jou huwelik. As jy glo dat konflik die einde van ’n huwelik beteken, sal jy elke keer as jy en jou man vassit, dink dis verby. Voorkom dat ongegronde opvattings jou huwelik bedreig. Wees bewus daarvan en verander jou manier van dink. Hier is van die mites waarvoor jy versigtig moet wees.

Konflik beteken my huwelik is tot mislukking gedoem,

Niemand hou van konflik nie, veral nie met die persoon die naaste aan jou nie. As struweling in ’n negatiewe patroon verval, baklei julle later sommer oor nietighede. Dit raak moeilik om die gewoonte te verbreek.

Ongesonde en geniepsige konflik kan ’n huwelik vernietig. Julle kan dit verander as julle besef dis net ’n lelike gewoonte. Praat weer mooi met mekaar, en kyk watter verskil dit maak.

Onthou egter dat konflik normaal is. Dit gebeur in enige huwelik, maar dit moenie afbrekend wees nie en moet reg hanteer word. Gesonde konflik kan ook die lug suiwer. Dit kan dinge uit die weg ruim wat lankal tussen julle gebroei het. Daarna kan julle aan beweeg. As julle dus nou en dan vassit, is dit nie die einde van die wêreld óf die huwelik nie.

Bly net by die reëls van skoon baklei en beskou dit as ’n kans om verskille op te klaar.

As ek altyd daarvoor moet vra, beteken dit min

Die enigste manier om ’n behoefte behoorlik te kommunikeer, is om daarvoor te vra. “Is jy nog lief vir my? Jy sê dit nooit meer nie … ” Dié vraag beteken nie noodwendig jy wil weet hoe lief jou man vir jou is nie, jy soek net bevestiging.

Almal hou daarvan om verras te word. Dis mos lekker as iemand iets vir jou doen sonder dat jy daarvoor hoef te vra. ’n Geskenkie van waardering laat jou voel dat alles die moeite werd is. Soms is dit egter nodig om te vra as jy iets regtig nodig het.

Dis soos om kos in ’n restaurant te bestel. Jy moet tog vir die kelner sê wat jy wil hê, anders sal hy nie weet nie! Praat met mekaar. Herinner mekaar nou en dan daaraan dat julle nie mekaar se gedagtes kan lees nie. Julle kan nie, al is julle hóé na aan mekaar.

’n Huwelik gaan oor die vervulling van behoeftes

Baie huwelike is “verbruikershuwelike”. Elkeen dink hulle behoeftes is die belangrikste, en as dit nie vervul word nie, vat hulle hulle goed en loop.

Daar is behoeftes wat binne ’n huwelik vervul moet word, maar om te verwag dat jou huweliksmaat na al jou behoeftes moet omsien, is eintlik net ’n vorm van selfsug.

Niemand is in staat om iemand anders se behoeftes ten volle te bevredig nie.

Dikwels weet jou maat nie eens van die onrealistiese verwagtinge waaraan hy moet voldoen nie. Of hy kan dit doodeenvoudig nie doen nie.

Wat daarvan as jy dit ’n bietjie omdraai. Gee jý ’n bietjie meer as wat van jou verwag word. Kyk of jy jou man se behoeftes kan raaksien en reageer daarop.

Jy sal hom baie gelukkig maak én dit sal terugkom na jou toe. Só bou julle ’n nuwe kultuur in julle verhouding wat almal tot voordeel sal strek.

Vorige artikelZoë Brown: “Leer uit die lewe se draaie”
Volgende artikel[VIDEO] Maak jou doelwit ’n strewe na uitmuntendheid