Pla dit hom dat jy gewig opgetel het?

46
Pla dit hom dat jy gewig opgetel het?

Maak dit vir hom saak dat jou jeans nie meer pas nie? Jou man sal dit nie vir jou sê nie. Maar, ja, hy voel ongelukkig oor die gewig wat jy sedert julle troue opgetel het.

Vir haar boek For Women Only het Shaunti Feldhahn met 1000 mans uit alle sektore van die samelewing onderhoude gevoer. Verskillende mans soos dokters, advokate, pastore, besigheidsbestuurders, kelners en sekuriteitspersoneel is tydens die studie ondervra.

Die toets is daarna op kerkgangers herhaal. Die resultate was dieselfde. Nege uit tien mans voel trots as hulle vrou goed lyk. Vroue hoef nie noodwendig rietskraal te wees nie, maar moet hulleself goed versorg, sê die manne.

Die gewig wat jy opgetel het, pla jou maat

As jou man sy bestuurspos verloor en skielik ’n minimumloon kry, sal dit jou direk raak, reg? Dis hoe een persoon die situasie beskryf wanneer vroue ná hulle troue baie gewig optel. Hy sê vroue moet besef dat dit ’n probleem is wanneer hulle ná die troue in grootte verdubbel.

Dit is dieselfde as ’n man wat van ’n besturende direkteur ’n minimumloonwerker word en aanneem dat dit nie sy vrou gaan pla nie.

’n Vrou se uiterlike is ’n eenvoudige, tog belangrike deel van die geluk in ’n huwelik.

Baie mans het al erken dat hulle lief is vir hulle vroue, maar nie gelukkig is nie. Hoofsaaklik omdat vroue geweldig gewig opgetel het ná hulle troue.

Wanneer jy jou mooi versorg, voel jou man goed

Die meeste mans het erken dit sal hulle emosioneel affekteer as hulle vrou niks doen om hulleself te versorg nie.

Een skryf: “Dankie dat jy hierdie saak aangeraak het, want ek kan nie. Dit is net te sensitief.” Dit is vir niemand lekker as sy vrou ’n klomp gewig optel nie.

Wat dit erger maak, is as sy niks doen om die situasie te verbeter nie. Dit laat hom in die proses voel dat jy hom verwaarloos.

As jy soveel gewig optel dat jy slordig begin lyk, sal jou man dit dalk moet noem. ’n Mens sien jouself mos nie altyd soos jy regtig lyk nie. As hy lief is vir jou, sal hy nie wil hê mense moet agter jou rug oor jou praat nie.

Vra hom om saam met jou te dieet

Volgens navorsing sal die meeste huweliksmaats uit hulle pad gaan om hulle maat te ondersteun as sy gewig wil verloor.

Een ou sê: “My vrou is op die oomblik besig om gewig te verloor en dit laat my soos ’n kampioen voel. Ek weet sy doen dit ook vir haarself. Maar niks laat ’n man so goed voel as wanneer jou vrou moeite doen om vir jou goed te lyk nie. Dit wys dat sy omgee.”

God het vir Adam as visuele wese geskape. Probeer daarom om hom weer trots te maak op jou.

Dit is in elk geval belangrik om gesond te wees. Kry die regte, gesonde eetgewoontes. Kies ’n geskikte oefenprogram. Begin net êrens.

Vra hom sommer om saam met jou te gaan stap of fiets te ry om van daardie boepie ontslae te raak. Dit sal hom ook meer waardering gee vir die moeite wat jy doen.

Dalk is jy verbaas oor daardie sprankel wat skielik na jou maat se oë terugkeer as hy na jou kyk!

Uiteindelik is die belangrikste egter om te groei in julle verhouding. Om beter vriende te word en saam die mense om julle te dien. Dit terwyl julle albei gesond bly en na julle gewig kyk.