Die 7 grootste issues oor seks

1426
7 grootste issues oor seks

Vroue verwag alles moet perfek wees in ’n verhouding, selfs seks. Jou emosionele bagasie kan jou terughou en verhoed dat jy die intieme tye saam met jou man geniet. Hier is raad oor daardie intieme issues.

Ons seksuele behoeftes is ’n geskenk – sodat ons die voorreg van kinders kan hê. Maar dis ook in ons geplaas om te geniet.

Iets word deur die twee mense gedeel wat hulle weerbaar en oop voor mekaar maak. Maar slegs deur hulle gedeel word en daarom spesiaal is. Dit is soos om ’n geheim te hê wat net hulle met mekaar deel. Dit maak dit spesiaal en heilig.

Vir dit om so te wees, moet albei maats mekaar hanteer met sensitiwiteit en bewondering. Albei moet bewus wees van hoe wonderbaarlik die ander persoon se liggaam werk.

’n Verhouding en seks moenie ’n las of ’n straf wees nie – dit moet ’n intieme, positiewe ervaring wees.

Dis ongelukkig waar dat waar mense betrokke is, dinge nooit sonder probleme is nie. Die meeste goed word ingekleur deur ons ervarings. By seks is dit presies dieselfde.

Enigiets uit die kindertyd beïnvloed vandag jou houdings en ervarings. Dit kan iets so ernstig soos seksuele molestering wees. Of jou ouers se geloof dat hulle nie veronderstel is om met hulle kinders oor seks te praat nie.

Dis ’n avontuur om jouself en jou liggaam, en jou maat se liggaam en julle seksualiteit beter te leer ken.

Hierdie avontuur sal wonderlike tye insluit. Maar daar sal ook moeilike tye wees, tye wanneer julle hindernisse moet oorkom en tye wat julle ’n blaaskans moet vat.

Vir ’n positiewe en genotvolle seksuele verhouding met jou maat, moet jy bewus wees van jou emosionele bagasie en dit probeer verwerk.  

1. Selfbewustheid oor jou lyf belemmer pret tussen die lakens

Vyf biljoen vroue dwarsoor die wêreld wil soos supermodelle lyk, maar daar is slegs agt wat wel so lyk.

Dus, moenie jou meet aan die standaarde van modelle nie. Beligting, grimering en photo shop laat hierdie vroue wonderlik lyk.

Die meeste mans verwag nie van hulle vroue om brandmaer te wees nie. Vroue verwag dit van hulleself en vergelyk hulleself met ander vroue.

Die media fokus ongelukkig op baie maer en sexy (kort rokkie, deurskynende klere, baie grimering) vroue. Nie een van hierdie dinge het enigiets met vroulikheid te doen nie.

Jy glo dat jy perfek moet wees, anders is jy nie ’n ware vrou nie. Dis moeilik om vroulik te voel met ’n rolletjie om die lyf.

In enige verhouding is daar altyd die vraag: “Is ek goed genoeg?” Alle verhoudings het beter en slegter tye, maar ’n mens kan maklik dink: “As ek maer is, dan gaan ek goed genoeg wees.”

As jy sukkel met jou gewig, word dit die bril waardeur jy na jouself kyk. Jy sien nie die mooi mens binne-in raak nie, net die vetrolletjies.

Verander dit, kyk verby die weerkaatsing in die spieël en sien die mens raak.

Jy is tog baie meer as jou rokgrootte. Vroulikheid is om vrouwees te aanvaar, dit te geniet en dit uit te straal. Jy weet jy is uniek en spesiaal en mag maar goed voel oor jouself.

Baie mense se denk- en lewenswyses word gebaseer op dubbele standaarde. Die standaarde wat jy vir jouself stel, moenie hoër wees as wat jy vir ander stel nie.

Jy gee nie om dat manlief oorgewig is en nie so goed na homself kyk nie. Maar jy glo dat jy onaanvaarbaar is met enkele kilo’s te veel om die heupe.

As hy na mooi vroue kyk, of vroue wat met die regte beligting en grimering perfek lyk, moet dit nie ’n bedreiging wees nie.

Onthou, hy het jou gekies en jy is werklik en nie net ’n foto nie. Jy is saam met hom en is sy maat, minnares en vennoot.

Die man of vrou in die boek is onbereikbaar, koud en ver. Mense besef wel dat die prentjie in die boek eintlik maar fake is.

Uiteindelik is dit belangriker om te wees as om te doen. Niemand verwag so baie van jou soos jy van jouself verwag nie.

2. ’n Vrees vir intimiteit laat jou wegskram van seks

Om intiem te wees met ’n ander mens, stel jy jouself baie bloot, maar dit hou ook ’n groot beloning in.

Om werklik net jouself te wees en die nabyheid van iemand anders te ervaar, is baie kosbaar.

Daar is verskillende fasette van intimiteit. Die blootstelling van wie ’n mens regtig is, wat jy dink en voel; fisiese kontak en seks.

Mense wat seksueel gemolesteer is of wat nooit intimiteit as kinders beleef het nie, sukkel ook as volwassenes daarmee. Hulle hou ander mense, ook hulle huweliksmaats, op ’n afstand.

As dit dalk met jou gebeur het, is jy bekommerd dat jou man nie tot jou aangetrokke sal voel nie, selfs afgesit kan word. Jy is dalk ook skaam oor jou geslagsdele.

Hierdie skaamte veroorsaak dat jy nie jouself kan oorgee wanneer julle seks het nie. Jy is te besig om dinge dop te hou en te beoordeel om die ervaring regtig te geniet. Dit veroorsaak dat jy ’n waarnemer word wat jouself punte gee, eerder as om deel te neem en die ervaring te geniet.

Dis belangrik om te verstaan dat ’n mens se gedagtes die sleutel tot sukses is. Wat jy dink, beïnvloed jou emosies en jou gedrag.

Seks lei tot intimiteit en intimiteit lei tot seks. Wanneer ’n vrou ervaar dat daar intimiteit is, wil sy en kan sy maklik oorgaan tot seks.

Vir ’n man begin die sirkel by seks en as hy dit kry, kan hy en wil hy intiem met sy maat verkeer.

Vroue voel veiliger met intimiteit en mans voel veiliger met seks. ’n Vrou voel meer weerloos gedurende seks. ’n Man voel meer weerloos wanneer hy homself oopstel tydens ’n intieme handeling of met intieme woorde.

Die oomblik as iets verkeerd gaan op een van hierdie vlakke, kan hierdie sirkel tot ’n mate verbreek word. Soos wanneer daar ’n nuwe baba in die huis is en die vrou voel dat haar liggaam verander het en sy moeg is.

Jou man sal heel waarskynlik reageer deur te onttrek en daar sal minder intimiteit wees. Maak nie saak wie se skuld dit is dat dit die kringloop in die eerste plek verbreek is nie. Die fokus moet eerder wees op hoe om dit reg te maak.

Praat oor die kringloop en dat julle dit wil regstel. Kry ’n manier (miskien met hulp van buite) om die negatiwiteit wat tussen julle bestaan, te verwerk.

 3. Jy glo jy kan nie ’n orgasme kry nie

Volgens navorsing benodig die gemiddelde man slegs twee minute vanaf die aanvang van stimulasie totdat hy ’n orgasme bereik. Die gemiddelde vrou benodig ongeveer 20 minute.

Die klitoris het net soveel senuweepunte as die punt van die penis en is baie sensitief. Dit is eenvoudig om te sien waarom 65-85% van alle vroue direkte klitorale stimulasie benodig om orgasmies te kan wees.

Hulle kry egter nie veel klitorale stimulasie gedurende seks nie. Hulle kry nie die geleentheid om die intense, direkte stimulasie te ervaar wat hulle maats ervaar nie.

Om ’n orgasme te fake, is een manier waarop jy kan verseker dat jy nooit ’n ware orgasme gaan beleef nie. Dit ontneem jouself en jou maat die voorreg om mekaar en jou liggaam regtig te leer ken.

Jy staan dalk van buite en toekyk na wat gebeur sonder om self ook deel te hê in die ervaring. Fokus eerder op dit wat vir jóú lekker is. Die oomblik wat jy dit doen, sal jy bewus word van jou eie liggaam en meer seksueel opgewek word.

Partykeer kan jy ook sê: “Dit sal lekker wees as jy bietjie stadiger beweeg” of “Ek sal daarvan hou as jy hier aan my vat”.

Orale seks kan ook deel wees van voorspel wat die ervaring meer intens maak.

Daar is mense wat ongemaklik voel hieroor. As dit werklik vir jou ’n probleem is, moet jou maat dit aanvaar. Maar julle moet verstaan dat niks wat tussen julle gebeur, solank albei positief daaroor is, lelik of onaanvaarbaar is nie.

Sommige vroue kan tot baie na aan ’n orgasme kom, maar dan ’n “plat” oomblik beleef. Wanneer dit gebeur, dink hulle dat dit nie meer gaan gebeur nie. As dit die geval is, sal hulle ook nie ’n orgasme beleef nie.

Die geheim is om hierdie plat oomblik te oorkom en nie op te gee nie. As die stimulasie aanhou, sal jy by die plat oomblik verbybeweeg en terugkeer na die opwaartse kurwe.

Dis belangrik om vir hom te verduidelik wat presies jou behoeftes is. Selfs die instruksies kan lei tot ’n baie erotiese oomblik. Jy kan vir hom wys met behulp van masturbasie, of deur sy hand te gebruik, of julle albei se hande saam.

Dit gebeur baie selde dat ’n paartjie gelyktydig orgasmes kry. Sien daarom gelyktydige orgasmes as ’n bonus, eerder as ’n reël.

4. Jy is te moeg vir seksuele omgang met jou maat

In ons besige en veeleisende lewens is uitputting wel ’n realiteit. Tog hoef dit nie te veroorsaak dat bedsake die laaste item op jou lysie word waarby jy nooit uitkom nie.

Gebruik seks eerder as ’n opkikker. Iets wat jou kan herinner aan die goeie dinge in die lewe en die lekkerte van oorgawe aan jou maat.

Seks bevredig ’n mens en gee terselfdertyd energie. Navorsing het ook getoon dat ’n orgasme lei tot die vrystelling van endorfiene en ander chemikalieë wat jou laat goed voel.

Daardie gevoel dat die hele wêreld reg is ná ’n heerlike saamweestydjie, is as gevolg van die chemikalieë wat deur die bloedstroom vloei.

Jy moet weet dat medikasie ’n invloed kan hê op jou seksuele behoefte. Dit sluit in medikasie soos antidepressante, medikasie vir maagsere en selfs antihistamine. Sekere voorbehoedmiddels kan ook ’n invloed hê.

Dit is belangrik om eers seker te maak dat die oorsaak van die probleem nie fisies is nie. Besoek dus ’n ginekoloog of uroloog.

Skakel eers die moontlikheid van fisiese probleme uit en begin dan om dit te hanteer as ’n praktiese of psigologiese probleem.

Sommige vroue se vlakke van seksuele begeerte is van nature laag, ander s’n daal ná hulle swangerskappe, menopouse, ’n mastektomie, ’n ovariëktomie of ’n histerektomie.

Daar is sekere aanvullings om bloedtoevoer  te verhoog: Pycnogenol  (80 mg) + L-arginine (3 g); Horny goat weed (2500 mg kapsules); of 2 Omega-3 vetsuurkapsules.

Lae vlakke van begeerte kan die gevolg wees van ’n paar faktore.

Depressie kan jou moeg en hooploos laat voel. Sodra jy hulp kry by ’n berader of sielkundige, of selfs medikasie, kan jy …

Na die geboorte van ’n baba is dit belangrik om weer aan die gang te kom. Hanteer moegheid deur ekstra hulp in te kry en werk deur jou verwyte en vrese.

Menopouse lei tot ’n afname in die produksie van ’n vrou se seksuele hormone. Jy mag dalk meer smeermiddels nodig hê, maar menopouse behoort nie jou libido te beïnvloed nie, behalwe as dit sielkundig is.

Miskien is die oorsaak ’n slegte verhouding of die ontkenning van ’n slegte verhouding tussen julle. Dan moet die waarheid geïdentifiseer en verwerk word.

Probeer om oor die algemeen gesonder te leef. Eet meer groente en vrugte, verminder stres en drink minder alkohol.

5. Pyn tydens omgang is ’n algemene issue tydens seks

Party vroue raak so gespanne oor omgang, dat hulle vaginale spiere so styf word dat penetrasie baie pynlik of selfs onmoontlik is. Hierdie toestand word vaginismus genoem en word meestal veroorsaak deur sielkundige faktore.

Vrees pak ’n mens op verskillende maniere beet en is soms baie subtiel, maar kan jou sekslewe negatief beïnvloed.

Waarskuwingsboodskappe uit jou kinderdae kan lei tot vrees en versigtigheid by seks. Dit kan selfs veroorsaak dat baie vroue nie wil uitdrukking gee aan hulle seksualiteit nie, selfs binne ’n veilige omgewing.

Trauma uit die verlede kan ook veroorsaak dat jy huiwer as dit by intimiteit kom. Vir vroue wat gemolesteer, verkrag of op enige ander manier aangerand is, kan vrees ’n groot rol speel in hulle siening oor seks. In sulke gevalle is psigoterapie nodig om oor die vrees te kom.

Wanneer die vagina te styf is kan dit lei tot bloeding ná seks. Die oplossing is om te ontspan. Dit kan gebeur wanneer jou man ’n sensitiewe bedmaat is.

Dit kan ook help om ’n vorm van selftoegepaste kognitiewe terapie te doen. Emosies funksioneer wel onafhanklik, maar kan tog deur jou gedagtes beïnvloed word.

Sodra jy agterkom dat jy gespanne is, kan julle albei vir ’n kort breek vra. Julle gaan nie dan uitmekaar nie, maar bly naby mekaar.

Gebruik die geleentheid om diep asem te haal en jouself te oortuig dat jy kies om by hierdie persoon te wees. Ná ’n kort tydjie gaan julle versigtig voort. Probeer om voort te bou op die meer ontspanne gevoel wat jy ervaar.

Hormonale uitwerkings is ook baie belangrik vir vroue se optimale funksionering.

Die vaginale weefsel en labia benodig genoeg estrogeen om hulle elastisiteit, volheid en vermoë om klam te word, te behou.

Vir vroue wat ’n tekort aan estrogeen het, is daar heelwat maniere om dit teen te werk, byvoorbeeld die gebruik van vaginale tablette of ’n ring wat estrogeen vrystel.

Tog is dit nie altyd nodig om estrogeen te gebruik om vaginale klammigheid te verbeter nie. Daar is baie smeermiddels op die mark beskikbaar, waarvan KY en Astroglide die beste is. Nie net is hulle veilig vir die vagina nie, maar hulle is ook getoets saam met kondome en verswak nie die lateks nie.

6. Jy ontken jou eie behoeftes in die bed

In jou kinderjare het jy geleer om suksesvol te wees. Dit was nie noodwendig akademiese sukses of sukses op sportgebied nie. Die boodskap was egter dat jy ’n “soet meisie” moet wees.

Daardie klein dogtertjie het nie presies geweet wat dit beteken nie en het probeer om in alle opsigte die perfekte kind te wees. Jy wou vir niemand moeite veroorsaak nie, het nooit kwaad geword nie en het nooit eise gestel nie.

Dit het veroorsaak dat jy vandag baie selfkrities is en hoë standaarde aan jouself stel.

Ons verwag baiekeer dat ander net moet weet wat ons behoeftes, regte en persoonlike ruimte is. Ons probeer ook die heeltyd interpreteer en uitwerk wat hulle van ons wil hê.

Ongelukkig sit ons gereeld die pot mis en selfs met ons beste pogings voel dit asof ons gee en gee, maar niks kry nie.

Ongelukkig word ons van jongs af geleer dat dit selfsugtig is om op jou eie behoeftes te fokus. Jy voel baie skuldig indien as jy waag om dit te doen.

As jy nie vir mense kan sê wat jy nodig het nie, is die kans goed dat daardie behoeftes nie bevredig sal word nie. Dan is negatiewe emosies jou voorland.

Albei partye in ’n verhouding moet sê wat hulle nodig het. Dan eers kan julle ’n great verhouding hê. en kan jy hoopvol en tevrede voel pleks van wanhopig en moedeloos.

Mense wat deurentyd ander probeer tevrede stel, het aanvaarding nodig, maar intussen gebruik hulle hulleself op. Hulle trek geen lyne nie en sien dit as hulle verantwoordelikheid om ander gelukkig te maak.

Dit skep soveel negatiewe emosies en ongelukkigheid as jou behoeftes nie bevredig word nie. Vir jou behoeftes om bevredig te word, moet jy vir ander mense kan sê wat dit is. Die voorwaarde hiervoor is dat jy natuurlik self moet weet wat jy nodig het.

Min mense weet wat hulle nodig het, omdat hulle ingestel is op ander en voeling met hulleself verloor.

Om dit te verander, moet ’n proses begin waar jy in klein, alledaagse dinge vir jouself vra wat jy nodig het. Dink hoe jy voel en wat jy graag sal wil hê.

Gee heel eerste erkenning aan jouself, voordat jy van ander verwag om jou op die skouer te klop.

7. Seks is ’n plig en nie ’n plesier nie

Jou seksualiteit is deel van wie jy is en jou maat s’n is deel van wie hy of sy is. Net so is julle seksuele verhouding ’n integrale deel van julle.

Dit behoort ’n vanselfsprekende deel van ’n verhouding te wees, soos om vir mekaar in die oggend “hallo” te sê.

Een van die behoeftes wat by mans en by vroue gekoppel word aan seksuele kontak, is die gevoel dat julle mekaar gelukkig maak en tevrede stel.

As ’n persoon voel dat die ander een dit geniet en daarom graag daar wil wees, voel hy of sy goed oor hom- of haarself. Die persoon voel soos ’n goeie minnaar en hou daarvan om te weet dat sy of haar maat se behoeftes bevredig word.

Dis net nog ’n goeie rede waarom elkeen in die slaapkamer daarop moet fokus om te kry én te gee.

Woede is verseker ’n goeie manier om te keer dat julle goeie seks het. Die bron is dikwels buite die slaapkamer, maar dit bly nie altyd net daar nie.

Woede kan veroorsaak word deur klein probleempies of groot ongeregtighede. Een ding is seker – mense het ’n geneigdheid om aan hulle woede vas te klou.

Soms word die woede veroorsaak deur iets in die slaapkamer. In ’n redelike goeie verhouding kan ’n negatiewe sekservaring veroorsaak dat woede ontstaan en een of albei partye seks begin vermy. As dit die geval is, is dit tyd om ’n seksterapeut te besoek.

Alle paartjies raak kwaad vir mekaar. Maar paartjies in gesonde en liefdevolle verhoudings leer hoe om woede te verwerk en bring nie ou rusies saam bed toe nie.

Bespreek enige negatiewe emosies wat daar in die verhouding is met mekaar. Hou op fokus op hoe goed jy doen en of jou liggaam saamwerk of nie.

Fokus op hoe lekker dit is om saam te wees en op elke aspek wat julle van mekaar waardeer en bewonder. Wees ingestel op jou eie liggaam en op jou man se liggaam.

Leer om die negatiewe gedagtes in jou kop stil te maak en te ignoreer. Dan kan jy die oomblik geniet en net voel en ervaar en aandag gee aan wat jou maat voel. Niks is meer eroties as die huidige oomblik nie!

Vorige artikel[VIDEO] Praat, al maak dit seer [Reeks 1 Nommer 4]
Volgende artikel[VIDEO] Basta met selfsugtige, bedorwe brokkies [Reeks 1 Nommer 7]