Jy is goed genoeg, foute en al

220

Hoe groot is jou skuldgevoel teenoor jou kinders? Ma–wees voel soos iets wat jy perfek moet doen vir die voorreg om “Mamma” genoem te mag word. Dis nie waar nie! Hettie Brittz, Charné Cronjé en ander ouerskap– kenners wys jou jy is goed genoeg nes jy is.

Om ’n fout te maak is nie noodwendig gelyk aan swak ouerskap nie. Ons moet regstel wat ons kan, maar ook weet ons gaan nog baie foute maak. Daar is in ouerskap ruimte daarvoor!

As ons met nuwe visie vorentoe wil beweeg, moet ons die insidente identifiseer wat tot ons gevoel van mislukking gelei het en dit so bevredigend moontlik oplos. Die hartseer, skuldgevoel of bitterheid sal nie weggaan voordat ons dit hanteer het nie.

Soms is dit net ons wat nog onsself moet vergewe. Dis iets wat ons biddend kan leer doen.

Maar dikwels moet ons saam met ons eggenoot en ons kinders deur die verlede se seer werk.

Daarna moet ons ons gedagtes dissiplineer om nie aanhoudend daarnatoe terug te gaan nie.

Voordat ons van ons kinders iets in ruil verwag – naamlik goeie gedrag – gee ons vir hulle die beste van onsself. Ons hoef nie altyd die regte ding te doen nie, maar ons moet daarna streef om die regte ingesteldheid te hê.

Wanneer ons fouteer, is ons nie ’n goeie voorbeeld nie, maar dit diskwalifiseer ons nie vir ouerskap nie. Ons moet egter ’n belangrike ding verstaan: ’n Lewe van oorgawe aan die hemelse Tuinier wat aan ons as grootmense snoei, is ’n beter voorbeeld as ’n lewe van valse foutloosheid.

Ons moet eerder ’n lewe leef wat vertel van val, gebrokenheid en vergifnis, van vordering en vrug, as om onsself as die volmaakte voorbeeld te probeer voordoen. Ons leer ons kinders daardeur hoe hulle ook kan val en opstaan.

–Hettie Brittz, skrywer en motiveringspreker

Moenie oordeel nie – probeer jouself en ander ma’s verstaan

Ma’s kan so hard wees op hulleself én op mekaar. En dit terwyl ma[1]wees eintlik vir almal dieselfde uitdagings en verskrikking inhou.

Mense hou daarvan om te skinder en te oordeel, sonder dat hulle die volle storie ken en verstaan. Ons sien net die gimklere, die tatoes, die egskeiding, die kind wat teruggehou is en weet nie wat daartoe gelei het nie.

Gesprekke handel gereeld oor afwesige ma’s, maar ons ken nie die omstandighede nie. Ons plak die heeltyd etikette op mekaar se voorkoppe. “Slegte ma”, “moeilike kind”, “onbetrokke ouer”, “helikopter-ma” …

Dink net hoe wonderlik sal die wêreld wees as ons met Jesus se oë na die mense om ons kyk? Wanneer ons elke keer die goeie bewustelik probeer raaksien. En vir mekaar opstaan wanneer mense ons oordeel sonder om die volle verhaal te ken.

Die lewe is uitdagend genoeg. Om vandag goed gebalanseerde, goed aangepaste kinders groot te maak, is vrek moeilik. Dis ’n uitdaging om al die balle in die lug te hou. En almal kry dit nie ewe goed reg nie.

Alle ma’s het wel een ding in gemeen. Ons is lief vir ons kinders en wil net die beste vir hulle hê. Ons almal weet dat ma-wees saam met ’n klein, verskriklike swaar geskenkpakkie kom. Skuldgevoelens.

Nie net wat mense oor jou uitspreek nie, maar die oordeel wat jy oor jouself spreek daar waar niemand jou sien nie.

Daardie dae as jy dit verloor met jou bloedjies. Wanneer jy die seer in hulle oë sien. En weet jy, die mens wat hulle die liefste op aarde het, het dit veroorsaak.

Dan haat jy jouself, voel so skaam en skuldig … Alle ma’s doen dit. Ons doen dit, want ons is mense. Onperfekte, gebroke mense met ons eie seer, eie struwelinge en eie storie.

Dankie tog die Here ken ons verhaal. Inteendeel, Hy skryf saam daaraan. Gelukkig oordeel Hy mense nie volgens ander mense se opinies van hulle nie. Ma’s het ook partykeer nodig om deur Jesus se oë na hulleself te kyk.

Wees sagter met jouself. Vervang die veroordelende binne[1]stem met ’n sagter, genadige stem. Vergewe jouself, en ons kinders moet ons vergewe vir die foute wat ons maak. Ons almal doen net ons beste. En ons kinders het ons nodig, foute en al.

–Annalize van den Heever, blogger en klinieksuster

Ken die verskil tussen bederf en verantwoordelikheid leer

Waar is die balans tussen versorg, beskerm en koester teenoor terugstaan en jou kinders hulle kant laat bring? Die goue draad van ’n “lekker” ma wees aan die een kant, en kwaai wees aan die ander, sodat hulle verantwoordelike grootmense word.

Moet jou kleintjies help skoonmaak? Of is hulle nog te klein? Hoe ver strek hulle sin van verantwoordelikheid? En aan die ander kant, hoe maak jy die “werk” pret dat dit nie vir hulle ’n las word nie, maar dat hulle dit wíl doen?

Hierdie dinge klink dalk vir jou so voor die hand liggend. Maar vir my het dit baie tyd op my knieë geverg en klomp skietgebedjies.

Voor lockdown kry ek die twee foto’s. ’n Vriendin het dit vir my gestuur. Op die een foto was daar ’n lys take soos kamer opruim, badkamer skoonmaak, klere optel, ligte afskakel, ensovoorts. Langs elke taak was daar ’n beloning in Monopoly geld geskryf.

Op die tweede foto was die winkel met belonings … lekkers, speelgoed. Wat jy ook al in die huis kan kry wat jou kinders wil hê, maar waarvoor hulle moet werk.

As gesin het ons besluit om dit te implementeer. My mond het oopgehang oor die aanvanklike wonderlike resultaat van hierdie eksperiment. Ons huis was skoon, netjies en ordelik. Die kinders se speelgoed het nie meer rondgelê nie.

En as ek ’n opdrag gegee het, was dit in ’n japtrap gedoen. Net omdat hulle dan kon aanmeld vir ’n geldjie waarmee hulle eindelik iets by die winkel kon koop.

Het dit vir ewig gehou? Die vroeë entoesiasme het so effens afgeneem toe die winkel en rewards min raak, maar die fondasie was gelê. Hulle het beleef dat dit voordelig is om verantwoordelikheid te neem.

Dit is lekkerder om in jou kamer te speel as jy nie oor alles val nie. Om te spaar vir iets, maar dis vervullend as jy op die ou end daardie groot ding in die “huiswinkel” kon “koop”.

Dit bly ’n unieke reis vir alle gesinne, aangesien elkeen se situasie ’n besonderse een is. Soms neem dit ’n val en opstaan en weer probeer, maar met gebed kom ons dag ná dag nader aan die balans.

Dr. Seuss het eenkeer gesê: “Lag en leer gaan saam!” Behou die pret en wanneer jy moet dissiplineer, behou genade en liefde. So mag jy dalk eendag selfstandige, pligsgetroue jongmense langs jou sien staan.

–Benescke Janse van Rensburg, radio-aanbieder en skrywer

Onderskei tussen moeg of uitgeput wees en uitbranding

Fisieke en geestelike moegheid is die gevolg van ’n oormaat stres oor ’n lang periode. Die eise wat aan ’n ma gestel word, is meer as wat met die hulpbronne beskikbaar hanteerbaar is.

Dit bestaan uit drie dimensies – emosionele uitputting, depersonalisasie en verlaagde effektiwiteit. Dit het ’n ernstige uitwerking op ma-wees. As ma, voel ’n persoon soos ’n totale mislukking.

Die energie om tyd en aandag aan jou kinders te gee, ontbreek. Vir die geringste dingetjie verskree jy hulle. Hulle raak bang vir jou.

Uiterste vermoeidheid kan die geheue aantas. Belangrike gebeurtenisse word vergeet. Jou emosies ry wipplank en die kinders reageer met aggressie. Die verhouding met jou man versleg, dis chaos in die huishouding.

Al drie dimensies het hulle eie simptome. Tipiese simptome van die beginfase van uitbranding sluit in slaaploosheid, ’n gebrek aan konsentrasievermoë, gemoedskommelinge en fisieke siektes.

Hoe meer gevorderd die uitbranding, hoe meer simptome kom by. Op ’n dag voel jy jy is nie meer in beheer van jou lewe nie. Jy voel jy is bloot ’n toeskouer. Alle hoop vir die toekoms verdwyn en jy vertrou niemand nie.

Maar jy kan ’n paar dinge doen … Vra hulp. Besef jy is nie die enigste ma wat moeg is, alleen in die verhouding of in die wêreld nie. Begin by God en staan net 15 minute vroeër op om die dag rustig saam met Hom te begin.

Maak tyd vir jouself. Jy weet jy moet en mag, maar doen dit nou in alle erns. Sit elke dag ’n paar minute opsy hiervoor. Jy sal vind dat jy skielik baie meer tyd en energie het. Vat af en toe ’n dag net vir jouself. Besoek ’n spa, bly in die bed met ’n boek, bederf jouself.

Leef gesond deur reg te eet en te oefen. Leer die kinders die speletjies wat jy gespeel het toe jy jonk was. Spring tou, speel wegkruipertjie, gaan stap. En hierna fokus jy op genoeg slaap. Spandeer minder tyd op jou foon of tablet en slaap meer.

Hoe meer gevorderd jou uitputting is, hoe meer intensief is die behandeling. Wees voorbereid daarop dat daar verandering sal moet wees, en dat dit nie altyd lekker of welkom is nie.

–Christi Pieterse, sielkundige wat spesialiseer in uitbranding

Kritiek van jou geliefdes kan opbouend en positief wees

Alle mense maak op ’n gereelde grondslag foute en sien dit nie self raak nie. Juis daarom het ons ander mense nodig wat ons vertrou om inspraak in ons lewens te gee.

’n Mens kan slegs konstruktiewe kritiek aan ’n ander persoon gee wanneer jy in ’n verhouding met so ’n persoon staan. Dit maak nie saak of dit in ’n vriendskapsverhouding of ’n liefdesverhouding is nie. Dan kom die opinie gewoonlik opreg vanuit ’n plek van liefde.

Dit geskied met die doel om jou en jou hart te beskerm en om jou as mens te laat groei. Die doel daarvan is glad nie om jou af te breek of te verkleineer nie. Dit is weldeurdagte terugvoer oor jou optrede en maak ook goeie voorstelle hoe jy dit kan verbeter.

Daarteenoor is negatiewe kritiek net ondeurdagte terugvoer. Dit is sonder enige voorstelle hoe die handelinge verbeter kan word.

Niemand hou daarvan om gekritiseer te word nie. Wanneer dit konstruktief is, onthou dat die persoon wat dit vir jou gee, regtig genoeg omgee om jou te wil help. Fokus op die situasie wat aangespreek word en nie op die mens wat dit gee nie.

Moenie aannames maak nie. Moenie dink omdat iemand iets negatief sê dat hy of sy eintlik iets anders bedoel nie. Is jy onseker oor hoe jy dit interpreteer? Vra dan reguit of dit regtig is wat hulle bedoel het toe hulle die opbouende raad gegee het.

Onthou altyd jou selfwaarde. Ander mense se opinies, ongeag of dit positiewe of negatiewe kritiek is, verander nie die waarde van jou as mens nie. As jy nie saamstem met die kritiek wat jy ontvang het nie, gaan bid daaroor.

Moenie dat negatiewe kritiek jou hart seermaak nie. As dit opbouend is, leer daaruit en bring die verbeteringe aan, maar as dit afbrekend is, ignoreer dit en beweeg aan.

Ons het almal iets waarmee ons ander se lewens positief kan beïnvloed. Maar wanneer jy kritiek lewer, moet dit soos goeie reën wees, nie ’n verwoestende storm nie. Sag genoeg om groei te stimuleer sonder om die ander persoon se wortels te beskadig.

Die snoeiseisoen is vir niemand ooit lekker nie en baie kere is dit “seer”. Wanneer dit reg gedoen word, laat dit die mooiste blomme op die regte tyd oopgaan. Sorg dat dit is hoe jy konstruktiewe kritiek gee, maar ook self ontvang.

–Leani van Niekerk, dosent

Kry Pa se samewerking deur baie te praat

Kinders grootmaak (net soos kinders maak) is nie ’n eenmansaak nie. Dit vat twee mense. Twee mense wat self baie anders grootgemaak is en heel waarskynlik hulle eie idees van “reg” en “verkeerd” het. So hoe maak ons nou? Wie “wen”?

Die kinders natuurlik! Ons kinders is ons s’n vir ’n rede. Die enigste “regte” manier van hulle grootmaak, is sáám. Hulle het Pappa se vrye gees net so nodig soos Mamma se partykeer kwaai wees.

Soms vra die situasie vir ’n sagte woord en ander kere kort daar strenger aksie. Solank ons op dieselfde bladsy is, al vereis dit om ’n bietjie in te gee. Dis selfs belangriker wanneer ouers dalk nie ’n huwelik deel nie. Ons is ons kinders se veilige hawe en sekuriteit. Hulle kyk op na ons.

Wanneer ouers as ’n eenheid saamstaan en vir hulle die veilige ruimte skep om te groei en groot te word, floreer hulle. Hulle mag ook nie Pappa teen Mamma afspeel nie.

Maar wanneer ouers saam intree, weet almal wat om te verwag.

Minagting en disrespek verdwyn gewoonlik sommer self. En wanneer hulle, soos kinders moet, die grense toets …weet hulle, hulle word ontmoet deur dieselfde verenigde front van liefde.

Gee mekaar die ruimte om saam die ouers te word wat julle albei wou wees. Maar hoe vind ons onsself op dieselfde bladsy? Deur te praat … en báie! Kommunikasie is die hart van enige suksesvolle vennootskap.

Maak tyd om met mekaar te gesels oor alles. Verwagtinge vir die gesin, dissipline, belangrike drome en waardes, roetines en huisreëls. Dinge wat jou pla of wat jy graag anders wil hê.

Wees oop vir mekaar se voorstelle en verduidelik waarom sekere dinge vir jou belangriker is as ander. Luister ekstra lank en moet nie mekaar in die rede val nie.

Soos ons kinders ouer word, duik daar gereeld nuwe uitdagings op. Daar moet keer op keer heroorweeg word waar almal staan.

Dit is moeilike onderwerpe om aan te spreek. Ouers vergeet steeds daarvan tot hulle besef, hulle verskil alweer. Tog is hierdie gesprekke kosbaar en hou dit aan om ons huishouding en verhouding as ma en pa te transformeer. Net omdat ons weet waar die ander persoon staan.

Ouerskap bring ’n mens gereeld tot op jou knieë. Daarom is daar geen plek oor vir veroordeling nie. Niks meer vuil kyke of baklei voor almal nie. Die enigste pad tot sukses en geluk is samewerking en aanpasbaarheid.

–Mari-Louise Candiotes, stigter van Just a Mamma en blogger

Hou op twyfel oor jou vermoë, vervul jou potensiaal

Baie keer blameer en verkleineer jy jouself. Jy vergelyk die onsekerhede wat binne jou broei met die skynbaar perfekte, uiterlik sigbare lewens van ander. Een wat nie ’n realistiese beeld weergee nie. ’n Nare perfeksie-infeksie.

Voer jou kinders die regte sielskos. Wys hulle die regte pad. Motiveer hulle om in diepe afhanklikheid van God te lewe. Die geskenk van geloof kan jy oordra deur in jouself te glo.

Hoe gaan ek my eie raad toepas? Deur meer vertroue in my eie vermoë as ’n ma te stel. Glo ek maak die regte keuses oor wanneer om “ja” te sê en wanneer om “nee” te sê.

Wees ’n voorbeeld van goeie besluitneming en gedrag soos respek, mededeelsaamheid, hulpvaardigheid en vriendelikheid. Só leer jy jou kinders om positiewe gewoontes toe te pas.

Onwerklike verwagtinge lei tot werklike teleurstellings. Vandag se ma’s se uitdagings is groot, aangesien die wêreld meer sosiaal verbind is as ooit tevore. Oral om ons word perfeksie verkoop. Deur modelle op voorblaaie en ander se skynbaar perfekte lewens op sosiale media.

Die advertensies op Facebook lok jou uit om produkte te koop wat verband hou met jou mees onlangse Google-soektogte. Die vrees vir oordeel is groot en is nie ongegrond nie, want ons lewe in ’n wêreld wat vol oordeel is.

Wat beteken dit om in jouself as ’n ma te glo? Laat gaan die soeke na die beeld vir perfeksie. Ons weet reeds ons het almal foute. Hoekom probeer ons dan steeds byhou met die beeld wat die wêreld voorhou? Leef jou realiteit na die beste van jou vermoë.

Is die dinge waaroor jy stres werklik belangrik? Laat dit gaan. Dis tyd om eerlik te wees met jouself. Wees lief vir jouself, vir die mens wat jy is met jou tekortkominge.

Betoon genade aan jouself. Kies om eerlik te wees met ander. Wys vir hulle ook die menslikheid wat jy vir jouself gee. Kies ’n lewe vol opregtheid in lyn met jou eie realiteite.

Omhels die strewe na egtheid. Wees real en gee vir jou kinders ’n voorbeeld om na te volg. Een wat blywend op die innerlike is. Wees opreg teenoor ander en ook teenoor jouself.

Gee jou gemors vir God om ’n meesterstuk mee te maak. Vertrou in jou eie vermoë as ’n ma, maar meer as enigiets anders: Vertrou in God om jou die regte pad te wys. In ’n perfekte Vader vind ons die antwoorde vir ’n gebroke lewensreis.

–Tersia Gouws, kommunikasiespesialis en skrywer

Leer mekaar die kuns van jammer– sê en regmaak

Hoe moeilik is dit vir jou om te erken dat jy ’n fout gemaak het? Hoe belangrik is dit vir jou dat jou kinders met jou moet eerlik wees indien hulle ’n fout gemaak het?

Hoe jy optree nadat jy ’n slegte besluit geneem het, wys en leer vir jou kind hoe ’n sekere situasie hanteer moet word. Uiteindelik gaan dit nie oor die fout wat jy gemaak het nie, maar oor hoe jy te werk gaan om dit reg te stel, daaruit te leer en enige skade te herstel.

Om foute te maak, help dit volwassenes en ook kinders om hulle besluitnemingsvaardighede te verbeter. Dis geleenthede om te leer en te groei vir almal in die huis.

Ons kinders leer by ons, hulle hou ons daagliks dop. Hulle doen wat ons doen juis omdat hulle ons as hulle rolmodelle sien.

Hoe jy in sekere situasies reageer, kan ’n baie groot invloed hê op hoe jou kinders in hulle eie situasies reageer. Probeer altyd ’n voorbeeld stel en beeld dieselfde positiewe gedrag en houding uit wat jy graag in hulle wil sien.

Jy is jou kind se belangrikste voorbeeld en is spesifiek gekies om jou kind se ouer te wees. Daar is nie ’n beter ma vir jou kind as jy nie. Vergewe jouself vir foute wat gemaak is en hoe jy dit hanteer het.

Begin dan vandag om positiewe veranderinge te maak met hoe jy situasies vorentoe hanteer. Dink ’n situasie eers deur voordat jy reageer.

Dit is belangrik vir jou om uit jou foute te leer deur te identifiseer waar die probleem is. Sodoende kan jy verander om ’n beter weergawe van jouself te wees.

Niemand weet presies hoe om alles wat in die ouerskapavontuur op hulle pad kom te hanteer nie. Tog bly die beste ouers altyd op soek na maniere om te verbeter.

Ons gesin leer elke dag by ons. Dit is ons verantwoordelikheid om vir hulle nuwe lewensvaardighede aan te leer en hulle voor te berei vir die grootmenswêreld.

Hoewel ouerskap een van die moeilikste uitdagings en “beroepe” is wat bestaan, bly dit ook die bevredigendste werk wat jy nog kan aanpak. Dra jou kroon as die ma in jou huis met trots. Indien dit begin afval of ’n bietjie skeef sit, skuif jy hom reg en begin weer.

– Charné Cronjé, Mammas 24/7

Vorige artikel“Berus jou in God se plan vir jou lewe”
Volgende artikelStappe vir ’n gesonde leefstyl