Motiveer jou man met jou woorde

429

’n Geneul sal jou man nie verander nie. Verras hom eerder met ’n opregte kompliment of ’n woord van motivering. Frank Rautenbach en ander mans help jou met hierdie woorde wat elke man graag wil hoor (en lees)…

Woorde het mag. Woorde besit energie en kan mense help, heelmaak, seermaak, verneder en ophef.

Dit wat ander vir jou sê of jy vir hulle sê, affekteer jou direk. Spandeer maar tyd saam met ’n persoon wat gedurig negatief is en kyk hoe dit jou dreineer!

Gary Chapman gebruik ’n mooi beeld in sy boek Love as a Way of Life. Hy sê woorde kan koeëls of saad wees.

Wanneer ons woorde op mekaar afvuur soos koeëls, gevul met oordeel en beterweterigheid, sal ons verhoudings ’n knou kry.

Gebruik ons dit as saad, gevul met die beste bedoelings, is dit makliker om ’n verhouding te laat blom.

Ons ken almal die Bybelse gesegde: Wat jy saai, sal jy maai. Wanneer ons slegte dinge kwytraak, wonder ons hoekom ons lewens nie in plek val nie. Ons oes maar net die woorde wat gesaai is!

Deur ons tonge in toom te hou, sal goeie saad by ons monde uitkom wat ’n goeie oes sal oplewer.

Voor jy iets sê, dink eers wat jy gaan sê en hoe jy dit gaan sê. Wat sal die uitwerking wees? Jou woorde moet vol respek, inspirasie en aanmoediging wees.

Natuurlik is dit nodig om die waarheid praat – op ’n liefdevolle manier. Ons moet beter maak, nie seermaak nie.

Dit begin in jou eie huis. Ons vergeet maklik hoe die manne kan blom wanneer ons vir hulle mooi dinge sê. Jy moet die potensiaal in jou man raaksien en hy moet dit by jóú hoor!

Ek het respek vir jou as man en pa …

Hoe verseker jy dat mense vir jou respek het en jy ook vir jouself respek het? Net soos maatskappye hulle reputasies op verskeie maniere moet beskerm en bestuur, moet ons dit ook doen.

Dis maklik! Wees deursigtig. Eg. Konsekwent en geloofwaardig. Wees die man wat jy veronderstel is om te wees te midde van hierdie warboel van wêreldse uitdagings en veranderinge.

Die een ding waaraan jy moet kan vashou, is jou eie reputasie. Jou reputasie, wie en wat jy is, lê nie altyd noodwendig by wat jy van jouself sê nie. Dit is gesetel in wat ander sien en beleef, en van jou sê.

Dis belangrik om jou eie naam te beskerm. As dit eenmaal deur die modder gesleep is, sal dit baie moeite en tyd verg om dit weer volkome te herstel.

Dit neem dalk 20 jaar om ’n reputasie op te bou wat jy in vyf minute vernietig het.

Volg die nommereenreël: Behandel ander soos jy behandel wil word. Praat met jou gesin soos jy wil hê hulle met jou moet praat. Respek word verdien, nie sommer net pasella gekry nie.

Die beginsels is eenvoudig. Dis om Hom eerste lief te hê, en dan jou naaste soos jouself. Om die vrugte van die Gees uit te leef, ook in jou eie huis.

Die uitdagings om dit toe te pas, lê gewoonlik in moeilike situasies. Iemand het jou miskien te na gekom. Kry maar eers die feite. As mense aan die ontvangkant van oningeligte besluite is, kwyn respek.

Dink mooi oor die persoon se optrede, omstandighede en beweegredes. ’n Bietjie begrip kan baie help om die regte manier te bepaal om die situasie te hanteer.

Daar word dikwels net op die gevolge van ’n situasie gefokus sonder om die werklike oorsake te bespreek. Die fokus moet juis daarop wees om mense se toekoms te help verbeter.

Dit beteken nie dat jy doekies moet omdraai nie. Doen wat reg is en wat die situasie vereis.

Praat reguit en bring mense tot by die punt om ook eerlik met hulleself te wees. Sonder wedersydse integriteit in ’n verhouding sal niks verander nie.

Doen dit op ’n mooi manier. Vul jou denke, besluite en optrede met goedhartigheid. Een van die grootste geskenke is om iemand te help, sonder om iets terug te verwag.

Saam maak ek en jy ’n goeie span …

Om lewenslange verhoudings te behou, moet jy dit koester. Dit moet versorg word soos plante wat moet water kry. Nie te veel nie, dan verdrink hulle. Nie te min nie, dan verlep hulle en gaan dood.

Die balans tussen gee en neem, onttrek en deponeer, is uiters belangrik. Anders flikker die rooi ligte.

Die neem en gee moet natuurlik en gemaklik wees. ’n Langtermynverhouding is nie moontlik as albei mense in die verhouding nie hulleself kan wees nie.

’n Mens moet ook in ’n vriendskap gemaklik en natuurlik kan wees. Soveel meer nog in ’n verhouding of huwelik. Julle dink, besluit en doen tog alles saam.

Daar is altyd potensiële voordele vir al die partye betrokke in enige verhouding. As jy wil hê ’n verhouding moet vir jou werk, moet jy seker maak waarom jy daarin is.

Jy het ’n verhouding met jou werkgewer. Dit bestaan omdat die potensiële voordeel vir jou ’n inkomste is en vir jou werkgewer, jou vaardighede. Baie frustrasie ontstaan omdat die partye nie die aanvanklike grense respekteer nie.

Watter dieper waardes onderskraag daardie verhouding?

Daardie waardes sal bepaal hoe moeilik dit gaan wees om ’n slegte verhouding te verlaat. Met julle troudag het jy ’n gelofte gemaak wat lui: “ … tot die dood ons skei.”

Integriteit en ’n bewustheid van jou lewensdoel sal ook help. Indien ’n verhouding belangrik genoeg is, moet jy ten alle koste doen wat nodig is om dit in stand te hou.

Hou jou verhoudings reg, dan het jy nie nodig om hulle herhaaldelik reg te maak nie.

Om die een of ander rede sukkel mans om jammer te sê. Hulle is trots. Wees haastig om te vergewe. En verskoning te vra.

Baie is onder die indruk dat die woord “jammer” hulle sleg gaan laat lyk.

Maar dit is ver van die waarheid. ’n Sterk man en pa wys dat hy soms verkeerd kan wees. ’n Nog sterker man en pa stel sy foute reg.

Wanneer ’n man onverwags vir sy vrou jammer sê, maak dit haar hart meer ontvanklik as enige romantiese woordjies.

“Jammer” blus dadelik ’n vuur wat dreig om handuit te ruk. ’n Uitgerekte bakleisessie word sommer dadelik verkort en liefde seëvier.

Jy sal verbaas wees hoe lekker jy gaan slaap en hoe lekker jy daarna opstaan. En as ’n mens elke dag lekker uitgerus opstaan, sien jy kans vir soveel meer.

Jy is steeds handsome en ek sal jou weer kies …

Die flieks wys vir ons ’n Rambo of ’n James Bond. Bultende spiere of genoeg geld vir vinnige motors en luukse vakansies.

Die meeste mans is in ’n lewe van voorgee vasgevang, met die begeerte om sukses te behaal. Om hulle lewens te laat tel. Om op 50 nog net so aantreklik en fiks te wees soos op 30.

Niemand kan die onmoontlike regkry nie, maar jy kan wel jou gewoontes verander om gesonder te leef. Dit is nooit te laat of te vroeg om te wees wie ook al jy wil wees nie.

Ons het maar almal ons gewoontes, daardie kortpaaie na wat bekend en gemaklik is.

Hulle sê mos die verskil tussen ’n groef en ’n graf is net die diepte. Wanneer jy gemaklik raak in ’n groef met jou gesondheid en fiksheid, is dit tyd om te stop.

Besin of dit wat nou vir jou belangrik is, op die lang termyn regtig van waarde is. Word jy daardeur meer jouself, die mens wat jy bestem is om te wees?

Onthou, daar is nie ’n keerdatum nie. Daar is nie ’n afsnypunt of ’n grondwet wat jou weerhou van verandering, ontdekking of vervulling nie.

Om beter gewoontes aan te leer, is soos om ’n staptog aan te pak. Dit is een ding om daaroor te lees. Dit is iets heeltemal anders om dit self te stap.

Tydens so ’n staptog kan jou lewe verander, want jou gewoontes verander. Aangesien gewoontes en identiteit hand aan hand loop, sal jou identiteit ook verander.

Jy is dalk nie seker of jy kan nie. Gee net die volgende tree. Hou net aan om die een voet voor die ander te sit.

Dis eenvoudig. Jy vorm gewoontes en dan vorm die gewoontes jou. Jy kry ’n nuwe identiteit. Dit verander daardie gewoonte-denke, gewoonte-emosies en gewoonte-dade.

Ons almal ervaar een van twee soorte pyn: die pyn van dissipline of die pyn van berou. Die verskil is dat dissipline onse weeg, terwyl berou tonne weeg.

Daarom moet jy jouself dissiplineer om getrou te oefen, gesond te eet en jou kop reg te hou.

Ja, dis soms moeilik om vroeg op te staan om te oefen. Maar die spyt wanneer jy nie dissipline toegepas het nie, sal die lewe moeiliker maak.

Jy is nie perfek nie, maar ek lief jou …

Op ’n keer het Jesus saam met ’n huis vol mans geëet wat baie goed daarmee was om die beste voetjie voor te sit. Totdat daar ’n “vrou van die nag” ingeloop het.

Sy het onvanpas opgetree. Sy het Jesus se voete nat gehuil en dit met haar hare afgedroog. Sy was blootgestel. Sy het niks gehad om weg te steek nie. Sy was gebroke.

Die gasheer, Simon, het op die vrou neergekyk. Die mense het net haar sonde gesien, maar Jesus het háár gesien. Haar egtheid het tot ’n ommekeer in haar lewe gelei.

In daardie huis was sy die enigste een wat die regte sy was. En sy is gered.

Net soos daardie vrou is dit nie nodig om perfek te wees nie. Jy kan maar net wees wie jy is en ontspan.

Jy beskik reeds oor al die innerlike hulpbronne om ’n ware man te wees, ongeag jou ouderdom. Haal gerus maar daardie masker af. Jy is so uniek saamgestel soos jou vingerafdruk. Daar is net één van jou!

Wanneer jy besef dis nie nodig om ’n front voor te hou nie, kom jy nader daaraan om jouself wees. Wie jy werklik is!

Dit beteken egter nie dat ’n mens maar agteroor kan sit nie en sê: “Ek is nou eenmaal so gemaak en so laat staan.”

Almal dink daaraan om die wêreld te verander, maar niemand dink daaraan om hulleself te verander nie.

Baie mans jaag dinge na, terwyl hulle nie eens weet wat dit is nie. Ander soek weer hulle eie gewin. Hulle is bereid om enigiets te doen om dit te kry.

Dalk is jy ook agter dít aan wat almal jou laat glo belangrik is. Jy wil die wêreld verander en dink jy gaan dit doen deur sekere dinge in die lewe te bereik of bymekaar te maak.

Besef dat jou uiterlike lewe ’n direkte weerspieëling van jou innerlike lewe is. Eers dan sal jy regtig begin leef en waarlik ’n impak begin maak.

Dit is een van ons grootste verantwoordelikhede. Om aan jouself te werk. Om op die punt te kom waar jy waarlik gelukkig is met wie jy is en waarheen jy op pad is.

Dit begin by die ou in die spieël …

Geniet jou seun-wees, jongman-wees, man-wees, pa-wees, en oupa-wees. Jy lewe net een keer. Voel goed daaroor!

Dankie vir die geld wat jy huis toe bring …

’n Man se identiteit word maklik bepaal deur hoeveel geld hy kry, waarmee hy ry, en waar hy bly.

Mans is deurlopend onder druk om “goed genoeg”, “sterk genoeg” en “ryk genoeg” te wees. Mans wat “goed genoeg” wil wees, sal mense se aanvaarding soek.

Dié wat “sterk genoeg” wil wees, sal ure aan sport en in gimnasiums bestee. Ander wat “ryk genoeg” wil wees, sal besittings bymekaarmaak.

So dryf die “genoeg” ons om iets te wees en te word. Maar wie sal jy wees as jy alles moet verloor? As jy nie gelukkig is sonder geld nie, sal geld op sigself jou beslis nie gelukkig maak nie.

Daarom is identiteit belangrik. Nie om jou status in die samelewing te verbeter nie, maar om jou rigting te bepaal.

Die wêreld wag vir mans wie se hoop en identiteit nie op begeertes gebou is nie. Wel op dit wat standvastig en ewig dieselfde is.

Die oomblik as jy jou identiteit in Christus vind, gaan jy ongeag mislukkings of sukses, altyd vergenoeg wees.

Ons elkeen word daagliks met soveel situasies en geleenthede gekonfronteer, wat eintlik toetse is.

Jy staan dalk met die verkeerde voet uit die bed uit op. Die planne rakende ’n groot besigheidstransaksie loop nie soos dit moet nie. Finansies kwel. Jou vrou en kinders irriteer jou.

Besluit om liewer terug te klim in die bed. Met die ander voet en sommer aan die ander kant van die kooi op te staan.

Onthou, geld en aardse besittings is niks in vergelyking met die tyd wat jy saam met jou geliefdes bestee nie.

Alles wat ons beleef en doen, gun vir ons die geleentheid om die resultaat daarvan te bepaal.

As jou grafsteen eendag iets oor jou moet sê, wat sal dit wees? Dit behoort iets te sê soos: “Hy het ’n verskil gemaak.”

Jy kan so baie doen om van die wêreld ’n beter plek te maak. Jy moet opbou, nie afbreek nie. Bemoedig, nie negatief maak nie. Energie oordra, nie opgebruik nie.

In plaas daarvan om geld en besittings bymekaar te maak, moet jy die rolle van jou lewe opnuut waardeer.

Vra: Verander my gesin, my kollegas, my vriende omdat ek daar is? Jy weet wat om te doen sodat daar weer nuwe hoop by jou mense kan wees. Wees vrygewig met jou lewe!

Ek weet jou werk is belangrik en ondersteun jou …

Mense is moeg vir hulle omstandighede. Moeg gesukkel met geld, werk, verhoudings, huwelike en die situasie in die land.

“As ek net die regte geleentheid kry, die lotery wen, iemand aanlyn ontmoet, ’n pos in die buiteland kry …”

Die waarheid is geen geleentheid kan ’n deurbraak gee nie as jy nie die karakter het om dit te kan benut nie.

Sukses gaan veel meer oor die karakter van ’n persoon as om goeie geleenthede te kry. Daarom maak dit nie saak in watter omstandighede of plek jy grootword of jouself bevind nie.

Die geheime pad tot hoër hoogtes loop nie noodwendig deur talente nie. Dit vra harde werk en ure se voorbereiding.

Dit is hoe die groot manne sulke reuse geword het. Harde werk is die enigste voordeel wat jy bo ander mans het.

Sukses is ’n werkwoord. Dit begin by dié wat minder praat en meer doen. Welslae word behaal wanneer mense gewone dinge ongewoon goed doen.

Alle mense wat oornag iets bereik het, het eintlik baie lank voor dit al begin. “Oornagsukses” vat dus die spreekwoordelike veertig dae en veertig nagte.

Suksesvolle mense, soos Gary Player, sê hoe harder hulle gewerk het, hoe meer “gelukskote” het hulle gekry.

Daarom, moenie elke dag vra wat die oes is wat jy inpalm nie, maar vra watter sade jy vandag geplant het.

Kies tien jaar, vyf jaar of drie jaar. Dink terug oor dié tydperk. Die goeie en die seer, die vreugdes en die verse.

Jy sal verstom wees oor hoeveel van jou vrese nooit waar geword het nie. En in daardie oomblikke van aarsel het die geleenthede die een na die ander deur jou vingers geglip.

Maar dis nou verby. Dis net ’n mors van energie om te lank te vertoef by “ek kon”.

Prediker 3 herinner ons daaraan dat daar ’n tyd is vir alles. Dis dalk tyd om die ankertoue los te maak en die horisonne in te vaar.

Natuurlik sal jy foute maak. Maar leer daaruit en moenie toelaat dat dit jou aftrek soos swaar klippe nie. Foute moet ’n trampolien wees wat jou verdere hoogtes laat bereik.

Waar in die week kan jy ’n bietjie ekstra tyd inwerk om aan jou drome en planne te werk? Harde werk oor ’n lang tydperk sal altyd beloon word. Komaan, doen dit!

Ek sien op na jou as man van God …

Die wêreld se slagspreuk is: Survival of the fittest. ’n Evolusiespel waar die oues en die swakkes afgemaai word sodat net die sterkste oorbly om aan te gaan. Vir die deelnemer is die mikpunt “to win or to die trying”.

Woorde soos broederskap, barmhartigheid en liefde, dra in hierdie spel geen waarde nie. Hier moet jy in jouself glo en jouself sterker maak.

Die Woord leer egter iets anders. Die uitgeworpe Josef word ’n magtige heerser. Ondanks Moses se spraakprobleem word hy die leier van meer as ’n miljoen mense.

Nie één van dié mans se sukses is bepaal deur in hulleself te glo nie. Ons sal die wêreld oorwin met ’n dienende hart. Ons sal die swakkes help om die sterkes te word deur van onsself te vergeet en mekaar se pyn te dra.

Ons ken die uitdrukking: As jy in Rome is, maak soos die Romeine. Jesus het saam met die sondaars geëet, maar dit beteken nie Hy het gemaak soos die sondaars nie.

Ons is gereeld in “Rome”, langs ’n braaivleisvuur of by ’n werksgeleentheid. Hierdie is die perfekte tyd en plek om jou lig te laat skyn.

Die teoloog Thomas Cranmer het gesê God se liefde neem ons op reistogte waarop ons nie wil gaan nie. Dit lei ons langs paaie wat ons nie gekies het nie en neem ons na plekke wat ons nooit sal wil verlaat nie.

Om te misluk in jou loopbaan en al jou geld te verloor, is nie die lewensreis wat enigiemand sou kies nie. Ook nie om ná jou 40ste verjaardag vir ’n minimumloon te werk nie.

As jy mooi luister, sal jy hoor Hy fluister in jou gees dat die doel van die reis is om Hom te dien, en nie jouself nie. Sonder dat jy dit agterkom, kan jou loopbaan ’n afgod word.

Sodra jy dit besef, het jy op ’n plek gekom wat jy nooit sal wil verlaat nie. Waar God die belangrikste is, en nie jou loopbaan nie. Waar Hý jou identiteit en waarde bepaal, nie die sukses van jou werk nie.

Vanuit hierdie posisie is jy vry om jou drome na te streef vir Sy heerlikheid.

God kan die mislukkings van jou lewe neem en dit in kunsmis verander vir nuwe groei. En dit alles omdat Hy vir jou lief is.

Vorige artikelVerseker jou finansiële toekoms
Volgende artikelVind balans in fisieke en geestelike selfversorging