Wat elke man in ’n vrou wil hê

83

Voorheen was mans die enigste broodwinner. Hulle moes rof en gespierd wees, van braaivleis en rugby hou en ’n paar biere kon wegslaan. Dit was oukei om skelm flirtasies aan te knoop en min tyd saam met hulle gesinne deur te bring.

Deesdae moet hy ’n metroman wees wat ’n oogroom gebruik, kan kosmaak en ’n baba se doek kan omruil. By mannekampe word daar vertel hy is koning, priester en profeet. Hierdie opdragte is egter vir albei geslagte bedoel.

Baie kinders word groot sonder ’n pa in die huis. Dit veroorsaak dat “God as Vader” vir hulle ’n vreemde konsep is. Gelukkig het Hy ook moederlike eienskappe soos deernis, versorging, nabyheid en emosionele geborgenheid.

Dis ’n uitdaging om sterk en dinamies te wees, en terselfdertyd hierdie moederlike eienskappe óók uit te leef.

Baie mans is emosioneel, geestelik en verstandelik moeg. Hulle voel hulle kom nie die mas op as eggenoot, pa en broodwinner nie.

Hy moet die suksesleer klim om goed vir julle te sorg. Die werk vreet sy tyd op en daar is min kans vir speel met die kinders en ’n kersligete met jou. Later leef hy ’n lewe van plig, stille frustrasie en betekenisloosheid.

Jy kan hom help om balans te kry deur te verstaan waardeur hy gaan en in hom te glo. As jy op praktiese maniere jou liefde en waardering vir hom wys, kan hy weer volwaardig mens voel.

– Karel Verhoef

Help jou maat uitvind wat sy lewensdoel is

Party mense word deur die lewe rondgeslinger. As jy egter weet waarom jy doen wat jy doen, is jy gefokus en staan jy sterk.

Die bekende antieke filosoof Seneca het eenmaal gesê: “Indien daar geen hawe in sig is nie, is geen wind die regte wind vir die skip nie.” Die eindpunt is belangrik.

Sommige mense dobber rond op die skip van die lewe en word deur elke wind meegesleur.

Hulle het eintlik geen rigting nie en weet nie waarheen hulle op pad is nie. Dit is mense wat leef sonder ’n (geestelike) kompas in die lewe.

Daar is manne wat al vier dekades lank ’n seeman en kaptein van ’n skip is. Volgens hierdie skeepskapteins is dit belangrik om te weet waar jy jou bevind as jy na ’n sekere bestemming op see wil vaar. Eers dan kan jy weet hoe om verder te gaan.

Hierdie goeie raad is nie net van toepassing op skepe nie, maar ook op mense.

Die vraag waarmee jy jou man help, is dus: Waar bevind jy jouself nou? Is jy op die regte plek in jou lewe en op die regte koers?

Dis soms moeilik om op koers te bly, want die winde van prestasie en ambisie kan hom wegvat van sy ware lewensdoel. Daarom is dit belangrik om uit te vind wat die primêre passie en dryfveer in sy lewe is. Hy moet weet waarom hy doen wat hy doen.

Simon Sinek sê ’n mens moet altyd vanuit die “waarom-faktor” in jou lewe werk. Dan kom “wat ek moet doen” en “hoe ek dit moet doen” vanself.

– Kobus Kok

Moedig hom aan om sy pa te vergewe

Min pa’s was goeie mentors vir hulle seuns. Mans praat nie oor die seer uit hulle kindertyd nie. Al manier om vorentoe te gaan, is deur te vergewe.

Dalk het jou man nooit sy pa geken nie omdat dié dood is toe hy nog klein was. Miskien het hy wel ’n pa gehad, maar ’n afwesige een wat net altyd gewerk het. Of sy ouers is geskei.

Of, erger nog, sy pa het hom en dalk ook sy ma, mishandel. So erg dat hy soms nie kon skool toe gaan nie.

Dit het hom hard en rebels gemaak. Waarom moet ek in só ’n huis grootword? het hy al gevra.

By tye wou hy dalk sy lewe neem maar het besef dan is sy ma alleen met hom. Hy sal haar te veel verniel, ten minste kan hy van die houe op hom neem.

Daar is min seuns wat met deernis van hulle pa’s praat. Min pa’s was teenwoordig en was mentors wat ook liefdevolle ondersteuning gegee het.

Mans praat nie oor die gevolge van kindertyd-trauma en seermaak-pa’s nie. “Cowboys don’t cry”. Maar dit werk nie. Dit sal hom aanhou teister tot hy vrede gemaak het met die verlede.

Dit sal hom bly teister in sy drome. Hy sal besef hy weet nie hoe om sy eie kinders groot te maak nie. En dit maak ’n man bang.

Jou man sal slegs bevryding beleef wanneer hy sy pa uit sy hart uit sal vergewe. Vergifnis moet uit die hart kom. Dit beteken dat hy sy pa moet vryspreek. Dan sal die onsinnige of verkeerde dinge waarmee daardie leemte gevul word, ook verdwyn.

– Danie Vermeulen

Fokus op manlief se karakter, nie op sukses nie

Dis beter om jou man te help om op karakterontwikkeling te fokus as om ander te probeer beïndruk. Integriteit, eerder as ’n titel, is wat mense onthou.

Mans is gedurig besig om die korporatiewe leer te klim. Hulle het elke dag krag nodig om die regte eienskappe uit te leef in ’n wêreld wat ingestel is op prestasie.

Die enigste deel van jou wat eendag saam met die roubeklaers gaan wegstap van jou graf af, is jou karakter. Jou karakter kan nie begrawe word nie. Wie jy is, gaan jou oorleef.

Goeie karaktereienskappe is wat mense van jou gaan onthou. Dis dinge soos integriteit, betroubaarheid, toegewydheid, geduld, regverdigheid, uitnemende waardes, deeglikheid en hardwerkendheid.

Hierdie eienskappe is ook die boustene van ’n suksesvolle loopbaan. Wanneer jou maat aan sy karakter skaaf en werk, sal hy wel bereik wat hy graag wil bereik.

Soms skei ons verkeerdelik, ons geestelike lewe van ons werkslewe, asof God nie betrokke is in ons loopbane of in die besigheidswêreld nie.

Ons sal maklik iets sê soos: “Besigheid is besigheid” en dan iets doen wat ons geloof weerspreek.

Mans mag nie hierdie soort “verkleurmannetjie-geloof” leef nie. Hulle moet ook in die werksplek in afhanklikheid van God leef en ons geloof uitleef.

As God nie aanwesig was in die besigheidswêreld nie, sou daar nie een gewees het nie.

Onthou eintlik werk ons almal voltyds vir die Here, nie net predikante en sendelinge nie. Jou werksplek is jou sendingveld!

Luister aandagtig wanneer hy oor die werk en sy kollegas gesels. Probeer saam mense of situasies identifiseer waar sy karakter uitgebou kan word.

– Siebert Wiid

Gee jou man toestemming om sy emosies te wys

Ons leef in ’n tyd dat mans huiwer om hulle gevoelens te wys. Laat hom verstaan hy is nie ’n softie nie – Jesus het ook gehuil.

Hoekom is dit so moeilik vir mans om hulle emosionele kant te wys? Leef ons in ’n samelewing wat bepaal hoe en óf ’n man sy emosies mag wys?

Dit is moeilik om sy gevoelens te wys want “’n ware man huil nie”. Maar al daardie opgekropte emosies is glad nie gesond nie.

Jesus was ’n baie emosionele mens. Ons lees dat sy vriend Lasarus op sterwe lê maar Hy verkies om langer in die gemeenskap te bly en te bedien.

Ná ’n paar dae gaan Jesus terug na Judea om te hoor hoe dit met Lasarus gaan. Lasarus het egter reeds vier dae tevore gesterf het.

In die verse wat volg, lees ons baie duidelik van Jesus se emosies. Toe Hy uitvind dat Lasarus dood is en die huilende Maria sien, het Hy ook gehuil. Op pad graf toe treur Hy oor sy oorlede vriend.

Hy is hartseer as mense honger is, bly as verlore mense hulle pad terugvind, en kry ’n melaatse jammer en maak hom gesond.

Jesus is emosioneel oor God se koninkryk as mense uitgesluit is of as God se familie groter word.

Kom ons leer by Jesus om bewus te raak van ons emosies. Ons moet by Hom leer om ons emosionele dimensie te ontwikkel.

Dit maak jou man beslis nie ’n swakkeling of “minder man” om emosioneel op te tree nie. Hy moet egter nie net sy emosies wýs nie, maar dit moet hom dryf na die regte optrede toe.

– Pierre Engelbrecht

Verseker jou man hy het nie misluk as iets skeefloop nie

Struikel maak nie saak nie, solank jy elke keer jouself weer regop kan kry. Wees jy die een wat jou man opbou eerder as afbreek.

Dit is moeilik om te probeer dink aan ’n geval waaruit groot sukses of lewensveranderende verryking gevloei het, waar die ontvanger daarvan ná die soveelste probeerslag handdoek ingegooi het.

Selfs die mees suksesvolle sakemanne, die grootste beroemdes en die mees bekroonde atlete se stories begin by ’n val, ’n teleurstelling.

Dit word gevolg deur sieldodende opoffering en nog meer struikeling, voordat dit eindig in sukses, roem en bewondering.

Waar sou daardie entrepreneur wat jou man so bewonder, vandag gewees het as hy nie ná die soveelste teenkanting aangehou het nie?

Sou jou mees geliefde kunstenaar se musikale skeppings ooit jou ore bereik het, indien hy nie aanhou klop het aan platemaatskappye se deure nie? Selfs nadat hy met die laaste een, die wrang bitterheid van vernedering gesmaak het?

Geen droom, hoe groot of klein ook al, kan ’n realiteit word sonder opoffering en deursettingsvermoë nie.

Dit is seker die moeilikste besluit vir ’n man om op te staan nadat hy op pad na sy droom gestruikel het. Dit is nog moeiliker wanneer dit ten aanskoue van sy kritici of kollegas plaasvind.

Daar is egter min gevoelens so vervullend as daardie uitgelate ervaring van uiteindelike, duur sukses. Of selfs die verblyding daarin dat jy eenvoudig nie opgegee het nie.

Indien jou strewe of jou droom die moeite werd is, is dit die opoffering en toewyding werd.

Komplimenteer hom gereeld op dit wat hy by die huis doen. Maak seker hy hoor hoe jy hom voor familie en vriende ophemel.

– Marius Nel

Motiveer hom om ’n gesonde sportman te wees

Jou man se gesondheid het ook ’n invloed op sy werk en prestasie. Motiveer hom om te begin oefen en saam met jou gesond te eet.

Sy liggaam is die eerste en een van die belangrikste besighede wat hy ooit sal bestuur. Dit beïnvloed die sukses wat hy op ander terreine van sy lewe sal behaal.

As ’n mens goed voel, neem jy beter besluite. Beter besluite lei tot beter resultate en op lang termyn lei dit tot ’n meer vervulde lewe.

Een belangrike gewoonte wat die mees suksesvolle, vervulde mense in die wêreld bemeester, is om gereeld tyd te maak vir oefening.

Hoe kan jy verwag dat enige besigheid suksesvol is sonder dat jy tyd bestee daaraan? Dieselfde geld vir jou liggaam.

Die voordele wat jy biologies, chemies en fisiek daaruit kry, is meer werd as wat jy dink. ’n Suksesvolle besigheidseienaar het gesê dat die geluk wat hy as ’n gesonde, fikse man beleef, meer werd is as sy miljoene.

Dit is nooit te laat om te begin nie, jy moet net genoeg rede hê. Besluit hoekom jy gesond en fiks wil wees en koppel dit aan iets groters. Kry dan iemand wat al sukses in die area behaal het om jou te lei.

Help hom om klein treetjies te gee en vier die klein oorwinnings. Beter nog, begin saam met hom gesonder eet en gimnasium toe gaan. Maak ’n afspraak by ’n biokinetikus en dieetkundige wat ’n persoonlike oefenprogram en eetplan vir julle uitwerk.

Binnekort het hy soveel momentum opgebou dat hy nie meer sonder die gesonde gewoontes kan klaarkom nie.

– Francois Chapman

Glo in jou pêl en help hom sy droom bereik

Die realiteite van die lewe kan ’n mens se droom op die agtergrond skuif. Maar met ’n paar aanpassings kan dit steeds ’n werklikheid wees.

Jou man kon dit dalk regkry om, voor julle kinders gehad het, te doen wat vir hom lekker was. Die volgende fase waarheen julle nou beweeg het, het dalk veroorsaak dat sy droom nie meer realisties is nie.

Die realiteit is dat hy vir die gesin kos op die tafel moet sit, doeke moet koop, skoolfonds en rekeninge moet betaal.

Al hierdie lewenskoste en basiese behoeftes kan enigiemand se droom op die agtergrond skuif.

Natuurlik is dit belangrik om nugter te dink. Maar dit beteken nie dat ’n droom nie met ’n paar aanpassings steeds ’n werklikheid kan wees nie.

Hy kan ’n bietjie skaaf en besef dat hy met ’n paar veranderinge sy passie steeds kan uitleef.

Om iets te doen waarvoor jy lief is, is ’n voorreg en is baie goed, nodig en waardevol vir jou menswees. Almal rondom jou maat sal daarby baat as hy vervulling kry in dit wat hy elke dag doen.

Kyk of jy kan uitvind wat sy hart vinniger laat klop. Moenie vaskyk in die realiteite nie. Stel saam ’n plan op hoe dit kan gebeur.

Moenie vaskyk in die “kan nie” en “moenies” van die realiteite nie. Help hom om iets uit te werk.

Daar kan vir seker ’n plan gemaak word om te midde van die alledaagse, steeds daardie passie deel van die lewe te maak.

Wie weet, dalk kan jy daarby inskakel en so julle verhouding versterk!

– Schalk Baard

Besin saam as ’n span oor ware rykdom

Alles wat ons het, is genade. Ware rykdom is dus nie ’n blinkrooi motor of bevordering nie. Soek dit eerder in verhoudings en mense.

Jou man het seker ook al die krag van ’n rooi Ferrari bewonder wat op die snelweg by julle verbyjaag. “Só ’n kar wil ek ry!” het hy moontlik gesê (of gedink!).

Daar is mense wat nie die einde van hulle aardse skatte ken nie, maar ook dié wat van maand tot maand net oorleef. Die meeste van ons is so tussenin.

Dis opvallend hoe veral mans hulle identiteit in besittings soos duur motors of die nuutste toestel soek. Party smag so na sukses of erkenning dat hulle nie waardeer wat hulle wel het nie.

Ware rykdom is egter nie hoeveel geld jy in die bank het nie. Dis nie waar jy vakansie hou nie, maar saam met wie jy vakansie hou. Nie wat jy ry nie, maar wie saam met jou ry.

Koos du Plessis se woorde som dit mooi op: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.”

Jou man moet verstaan hy kry nie net ’n V12-enjin en mooi bakwerk nie; hy kry ook elke dag krag en genade. Dít kan geen geld koop nie.

Of hy die uitvoerende hoof van ’n belangrike maatskappy of ’n skoonmaker is, hy moet weet dat hy man(s) genoeg is vir jou!

Plaas ’n boodskap op sosiale media vol dankies en komplimente oor wie hy is en nie oor wat hy doen of besit nie. Kyk hoe maak jy sy dag!

– Johannes Janse van Rensburg

Moedig hom aan om by ’n mentor raad te vra

Mans stoei baiekeer alleen met hulle probleme, want hulle is te trots om raad te vra. Mans met dieselfde waardes kan baie vir mekaar beteken as mentors.

Ware manwees is ’n baie moeilike doelwit om te bereik, veral aangesien daar nie duidelike riglyne is nie. Min pa’s wys regtig vir hulle seuns die pad wat hulle moet stap.

Die enigste manier om die regte pad te vind wanneer ’n mens verdwaal, is om te stop en raad te vra. Maar jy moet eers besef en erken dat jy nie op koers is nie en nie al die antwoorde het nie.

Die volgende stap is om die regte inligting te kry. Daar is uitstekende literatuur beskikbaar om jou hiermee te help.

Net soos ’n onbekende bestemming is ware manwees ’n baie moeilike bestemming om te bereik.

Dit is veral waar indien jy nie duidelike riglyne daarvoor het nie. In ’n era waarin ware vaderskap baie skaars is, kry mans moeilik hul pad na ware manwees.

Studies het bewys dat om ’n ware man te wees, ’n uiters noodsaaklike bestanddeel van ’n gesonde samelewing is! Dis nie slegs tot jou man se eie voordeel nie, maar ook noodsaaklik vir geslagte wat ná julle volg.

’n Vrou voel baie beter na ’n tranerige sessie saam met vriendinne. Mans raak maklik geïsoleerd, want hulle is te trots om hulp te vra.

Karaktervolle mans met dieselfde waardes kan baie vir mekaar beteken. Mentors is daarom onontbeerlik in sy lewe.

Doen dít saam met hom: Praat oor wie vir hom ’n mentor kan wees. Moedig hom aan om gereelde afsprake met hierdie persoon te maak en na te kom.

– Jimmy Powell

Help hom getrou bly as huweliksmaat

Wanneer jy trou, maak jy ’n keuse om die een lief te hê wat jy gekies het. As ’n span kom julle verder as op julle eie.

Om te trou is ’n keuse wat elke persoon maak. As jy reg kies, is een maal genoeg. Wat baie mens nie verstaan nie, is voor die troue kies jy jou liefde, ná die troue het jy jou keuse lief.

Die lekkerte van enige goeie keuse is dat dit al lekkerder word en dat jy dit al hoe meer waardeer.

Wanneer dit egter by verhoudings en huwelike kom, beleef baie manne nie hierdie lekkerte nie. Dit behoort nie so te wees nie.

Mans lees graag boeke oor leierskap en besigheid. Maar wanneer dit by verhoudings kom, dink hulle alles sal outomaties gebeur.

Hoe vaar albei van julle met die liefde van julle lewe? Julle huwelik moet uitloop op iets moois vir julle albei.

As dit nie gebeur nie, beteken dit nie dat julle ’n verkeerde keuse gemaak het nie. Wel dat julle dalk by mekaar verby leef.

Die lewe is nie wat dit veronderstel is om te wees nie, dit is wat dit is! Die onvermydelike stampe en stote van die lewe behoort ons nader aan mekaar bring en nie weg van mekaar te dryf nie. Jy moet daar wees wanneer die liefde van jou lewe swaar trek.

’n Warm atmosfeer, vol liefde en koestering, kweek sekuriteit. As ’n span kan julle weerstand bied teen enige aanslag op julle verhouding.

Jou man moet besef hy het jou nodig, want jy is baie sterker as wat hy dink. Lewe na mekaar toe en nie weg van mekaar af nie.

– Alan Sutton