Eenheid, ten spyte van verskille

117

Jy wonder dalk of julle ooit moes getrou het. Hoekom anders baklei julle dan so en is daar soveel verskille tussen julle? Fokus eerder op jou man se unieke ontwerp, dan word julle ’n eenheid.

Jy glo dalk, soos die meeste Christenvroue, dat daar net een persoon in die wêreld is wat vir jou bedoel is. In jou onderbewussyn dink jy dat hierdie persoon so spontaan by jou sal inpas dat julle huwelik maklik sal wees.

Dit sal nie nodig wees om kompromieë te tref, konflik te hanteer of te sukkel om vrede te maak met julle verskille nie. Só kan dit maklik voel asof jy met die verkeerde persoon getrou het.

Die waarheid is dat God mense verskillend gemaak het. Die uitdaging is om een te word: fisiek, psigies, geestelik en in die alledaagse dinge.

Julle is baie eenders, al is daar verskille

Jy moet weer ontdek dat julle albei mense is en daarom tog dieselfde is. Sien raak dat daar in hom, nes in jou, bepaalde behoeftes en begeertes, vrese en verlangens, kundigheid en onkunde bestaan.

Moenie net altyd sien hoe swaar jý gekry het nie! Kom op ’n punt waar jy kan toegee dat julle twee om verskillende redes ewe veel seergekry het. Dat julle ewe veel misverstaan is en ewe bang was vir die kwesbaarheid wat dit vereis om verskille deur te werk.

Geleidelik sal jy agterkom dat jy graag wil weet wat in sy hart aangaan. En graag sy gedagtes, emosies, drome, vrese, wonde en eensaamheid wil verstaan.

Gee hom genoeg ruimte

Om dít reg te kry, moet jy ’n “student” van jou man word. Jy moet hom dophou asof hy die een of ander seldsame, vreemde en fassinerende spesie is.

Jy moet sy sterk punte leer ken sodat jy hierdie eienskappe kan bewonder en dit kan gebruik om jou aan te vul. Maar jy moet ook sy swak punte ken. Dan kan jy dit met jou sterk punte aanvul op ’n manier wat hom laat voel dat julle ’n goeie span geword het.

Die mikpunt is om alles wat hy is, en alles wat hy in die verhouding inbring, te vier as deel van God se plan vir julle lewe.

Begeer eerder om jou man se andersoortigheid te ontdek as om dit gedurig as opposisie te sien. Ontwikkel ’n nuuskierigheid oor hoe besonders hy gemaak is en oor hoe sy uniekheid jou kan aanvul en verryk.

Probeer hom ontdek in al die aspekte van sy menswees. Sy gesondheid, hoe hy dink, wat hy beleef, of hy ’n introvert of ’n ekstrovert is, sy funksioneringstyl. Selfs die manier waarop hy sy omgewing bestuur, sy drome en ideale en sy selfbeskouing.

Eenheid beteken nie julle moet dieselfde wees nie

Die eise wat ’n mens aan jou maat stel, saam met die teleurstellings van die verlede, veroorsaak dat jy jou hart toesluit vir sy uniekheid. Jy skiet hom eerder by voorbaat af, dan is dit nie nodig om elke keer seer te kry nie.

Jy sal moet leer om te glo dat manlief met ’n doel anders gemaak is. Dat sy eiesoortigheid deel van die fyn ontwerp van die heelal is. En dat Hy jou toerus om daarmee te kan saamleef.

Tegelykertyd sal jy Hom moet vertrou dat Hy die werk wat Hy in jou maat begin het, sal voltooi. Wanneer jy meer dikwels met Hom gesels oor jou man, sal jy met sagter oë na hom begin kyk.

Vorige artikelDemi–Leigh Tebow: “Ek werk hard, maar God maak drome waar”
Volgende artikelToets